Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Kommunikasie

Whatsapp-verblindery

Woensdag, November 23rd, 2016

WhatsApp word deur studente en personeel gebruik as belangrike kommunikasiemiddel. Ongelukkig bied dit aan kuberdiewe nog ʼn platform om hul aktiwiteite op uit te oefen. 

WhatsApp kuberstreke kom in verskeie formate voor en is dikwels besonder oortuigend.  Maak seker jy bly oplettend en word nie geflous deur iets wat te goed of te problematies om waar te wees lyk nie. Net omdat ʼn familielid of vriend vir jou iets aanstuur, beteken nie dis veilig nie.

Koepon-truuks

Jy kry ʼn boodskap via Whatsapp van (wat lyk soos) een van jou vriende en hy beveel ʼn aanbod waarop hy afgekom het, aan. Gewoonlik is daar ʼn skakel in die boodskap wat jou na ʼn ander webwerf neem en waar jy jou persoonlike inligting invul. Moet nooit op ʼn skakel kliek waaroor jy nie seker is nie en moet definitief nooit persoonlike inligting gee op ʼn webwerf wat jy nie ken nie. 

WhatsApp maak toe

Daar is heelwat vals boodskappe wat beweer dat Whatsapp gaan toemaak indien genoeg mense nie ʼn spesifieke boodskap deel nie. Die boodskappe lyk dikwels heel oortuigend en gebruik die regte woorde en frases vir die konteks, asof dit deur ʼn direkteur van ʼn maatskappy of iemand amptelik gestuur is. 

ʼn Amptelike verslag sal egter nie van kliënte verwag om dit heen en weer te stuur nie. Dit sou deur middel van normale nuuskanale verkondig word of as ʼn kennisgewing in die toepassing self deur die Whatsapp-span.

WhatsApp dreig om jou rekening te sluit

Hierdie voorbeeld is soortgelyk aan die vorige een. Dit lyk soos ʼn amptelike boodskap wat beweer dat jou Whatsapp-rekening gesluit gaan word omdat dit nie aktief gebruik word nie. Dit versoek dat jy die boodskap aanstuur om te bewys dat dit wel gebruik word.

WhatsApp dwing jou om te betaal

Ook soortgelyk aan die vorige kuberdiefstalpoging. Die enigste verskil is dat jy blykbaar vrygeskeld word van betaling indien jy die boodskap aanstuur na ander persone.

WhatsApp Gold of WhatsApp Premium

Dié boodskap stel voor dat jy ʼn spesiale weergawe van Whatsapp, gewoonlik genoem Gold of Premium, koop of aflaai. Blykbaar bied hierdie nuwe weergawes opwindende ekstra kenmerke, soos die vermoeë om meer fotos te stuur, nuwe emojis te gebruik of ekstra sekuriteitsopsies. Ongelukkig is hierdie verbeterde weergawes glad nie veilig nie. Wanneer die toepassing aflaai word, word die foon besmet met malware, wat opsigself meer vals boodskappe genereer op jou onkoste.

Whatsapp e-posse 

Gemorspos e-posse is erg genoeg, maar saam met Whatsapp raak dit onbeheerbaar. Daar is ʼn verskeidenheid kuberdiefstalpogings daar buite wat e-posse uitstuur wat soos Whatsapp-kennisgewings lyk – gewoonlik ʼn kennisgewing van ʼn verlore oproep of stempos. Maar wanneer jy daarop kliek, word jy oortuig dat jou inligting, wagwoord, ens. moet verklap.

Moet nooit op ʼn e-pos van ʼn twyfelagtige sender kliek nie. Whatsapp stuur nie e-posse oor verlore oproepe of stempos nie. 

Onegte WhatsApp afloer-toepassings

Whatsapp gebruik end-to-end enkripsie en gevolglik is dit nie moontlik om iemand anders se boodskappe te lees nie. Boodskappe kan slegs gelees word deur die fone wat dit stuur en ontvang.

Hierdie pogings moedig jou aan om iets af te laai wat nie bestaan of moontlik is nie. Jy betaal eintlik vir malware wat jou eie boodskappe lees wanneer jy dit op jou foon laai.

Laastens –

Hopelik het jy reeds die verstelling verander wat jou Whatsapp-details (telefoonnommer, naam, ens.) met Facebook deel en sal Facebook nie jou Whatsapp-rekening toeganklik maar vir 13 miljoen Facebook-gebruikers nie. 

Meer inligting oor dié kontroversiële beleidsverandering deur Whatsapp kan op die volgende bladsy gelees word:  http://www.mirror.co.uk/tech/you-can-stop-whatsapp-sharing-8893949

[ARTICLE DEUR DAVID WILES]

Wat is kuberafknouery?

Vrydag, November 11th, 2016

Kuberafknouery (cyberbullying) kan gedefinieer word as ʼn opsetlike en aanhoudende poging om iemand leed aan te doen of te teister deur middel van elektroniese tegnologie. Dit sluit toestelle en toerusting soos selfone, rekenaars en tablette in, sowel as kommunikasiemiddele soos sosiale media webwerwe, teksboodskappe, kletsprogramme en webwerwe.bully-655659_960_720

Kuberafknouery, veral onder tieners, het toegeneem met die dienooreenkomstige toename in gebruik van tegnologie. Terwyl kuberafknouery gebruik word vir kinders en tieners, is die term vir dieselfde optrede by volwassenes kuberagtervolging (cyberstalking) of kuberteistering (cyberharassment)

Wat is kuberafknouery of -teistering?

Teistering se hoofdoel is om iemand se reputasie, veiligheid, werk of inkomste skade aan te doen of om ander mense teen hom/haar te laat draai. Die kuberafknouer wil die slagoffer intimideer, seermaak, beheer, manipuleer, verkleineer of valslik diskrediteer. Hulle aksies is herhalend, opsetlik, vyandig en bedoel om skade aan te doen.

Kuberboelies gebruik openbare forums, sosiale media of aanlyn inligtingswebwerwe. Aanlyn platforms gee aan boelies die mantel van anonimiteit en sodoende kan hulle maklik die gevolge van hul aksies verontagsaam, vermy of ignoreer.  Volgens ʼn Amerikaanse opname deur die National Council on Crime Prevention glo 81% van tieners dat kuberafknouery plaasvind omdat dit grappig is. A.g.v. die anonimiteit sien of besef die afknouers nooit die skade wat hulle aanrig nie. 

Kuberafknouery kom in verskeie vorme voor. Dit kan iemand wees wat aanhoudend ongevraagde e-posse of teksboodskappe aan iemand stuur. Dit kan ook herhaalde dreigemente, seksuele opmerkings, haatspraak, valse beskuldigings of spottery wees. 

Sommige teisteraars sal selfs so ver gaan as om by ʼn webwerf in te breek en iemand se inligting te verander of vals stellings te plaas. Hulle kan ook die persoon se persoonlike inligting plaas of ʼn vals rekening skep om die persoon te verneder of in die skande te bring.

Volgens www.wikipedia.org  is die 8 algemeenste kuberafknou-taktieke wat tieners gebruik die volgende:

  1. Uitsluiting: Tieners sluit opsetlik ander tieners uit van ʼn aanlyngroep.
  2. Kuberafknouing: Tieners kan ander onophoudelik lastig val deur e-posse of boodskappe te stuur of ander in fotos te merk waarin hulle nie gemerk wil wees nie.
  3. Skinderpraatjies: Plaas of stuur onnodige wrede boodskappe wat iemand se reputasie, verhoudings of selfvertroue leed aan kan doen.  
  4. Blootstelling/Bedrieëry: Oortuig ander tieners om geheime of inligting wat hulle in die verleentheid kan bring te onthul en die inligting dan aanlyn met ander te deel. 
  5. Teistering: Plaas of stuur aanhoudend beledigende, aanvallende en gemene boodskappe.
  6. Nabootsing: Skep vervalsde rekening om ʼn ander tiener se vertroue te wen. Hulle kan ook by rekeninge inbreek en as die rekeningeienaar boodskappe plaas of stuur wat skade aan die persoon se reputasie en verhoudings kan veroorsaak.
  7. Kuberdreigemente: Dreig of insinueer gewelddadige optrede teenoor ander om hulle ongemaklik te laat voel.
  8. Vlampos: Aanlyn argumente wat uit hatige en aanvallende boodskappe bestaan en op verskeie webwerwe, forums en blogs geplaas word.

Verdere definisies van kuberafknouery kan gekry word op die plaaslike Centre for Justice and Crime Prevention se webwerf.

Wie is die afknouers?

Die rede vir kuberafknouery is dieselfde as fisiese afknouery. Die enigste verskil is dat die anonimiteit en gerief van tegnologie dit selfs nog makliker maak. 

Iemand wat afknou ken gewoonlik sy teiken en val hulle aan as gevolg van sy eie vooroordele – of dit ras, geloof of seksuele oriëntasie is. Dit kan ook net wees omdat hy dink iemand is nie “cool” genoeg nie of het iets op sosiale media gesê waarmee hy nie saamstem nie. 

Dis belangrik om in ag te neem dat ʼn afknouer se optrede gewoonlik voortspruit uit sy eie probleme of kwessies. Volgens Stopbullying.gov is daar hoofsaaklik twee hoofgroepe wat geneig is om ander te teister. Populêre kinders of tieners wat glo deur ander seer te maak sal hulle selfs meer populêr en invloedryk word en aan die ander spektrum diegene wat afknou omdat hulle self afgeknou word en ʼn uitlaatklep vir hulle frustrasie soek.

Hoe om kuberafknouery of -teistering te hanteer

In die meeste lande het kuberteistering dieselfde nagevolge as fisiese teistering. Suid-Afrika het nie spesifieke wette wat fokus op kuberteistering nie. Slagoffers moet hulle dus wend tot kriminele en/of siviele reg. Meer inligting oor die bestaande wette kan gevind word op die Centre for Justice and Crime Prevention se webwerf.

Gevolglik is dit belangrik om kuberafknouery te hanteer sodra dit kopuitsteek. Die video onder gee waardevolle inligting in dié verband. 

[BRONNE: http://www.bullying.co.uk/cyberbullying/, http://www.deletecyberbullying.org/why-do-people-cyberbully/, http://www.cyberbullying.org.za/south-african-law.html]

Google sê Allo

Vrydag, September 30th, 2016

alloGoogle het gegroei van `n maatskappy wat `n soekenjin ontwikkel het, tot een wat nie net tegnologie vir vandag nie, maar ook selfaangedrewe motors en `n virtuele realiteit platform vir die toekoms, ontwikkel.

Rich Miller het in 2011 op die Data Centre Knowledge webwerf genoem dat Google op daardie stadium reeds meer as een miljoen datasentrums regoor die wêreld besit het. Glad nie sleg vir iets wat in 1996 begin het as twee PhD Stanford Universiteitstudente, Larry Page en Sergey Brin, se navorsingsprojek nie.

Op 21 September is ʼn nuwe foongebaseerde kletstoepassing, Allo, bygevoeg tot Google se lys innovasies.

Die bekendstelling van ʼn alleenstaande toepassing wat slegs op mobiele toestelle gebruik kan word en nie integreer kan word met ander nie, het egter almal aan die gons. Daar word gespekuleer dat Allo Google se poging is om ʼn deurbraak in die Indiese mark te maak, ʼn mark wat naas China en Amerika die grootste ter wêreld is. En soos ons weet, is China nie besonder toeganklik vir Westerse tegnologie nie.

Een van die voordele van Google-produkte, is dat dit toeganklik is oor platforms met jou Googlerekening. Dis nie die geval met dié nuutste wonderkind nie. Allo sal jou nie herken as ʼn Google-gebruiker nie. Jy moet van nuuts af registreer as ʼn gebruiker, ook sonder die opsie om jou Gmail-adres te gebruik vir registrasie. Soos Whatsapp, gebruik Allo jou selfoonnommer om jou te herken.

Allo vervang ook nie die minder-suksesvolle Google Hangouts nie. Dit kan nie video-uitsendings hanteer nie en ook nie SMSe stuur nie. Vir video-klets het jy Duo nodig, ʼn addisionele toepassing wat saam met Allo vrygestel is. So hoekom sal jy enigsins Allo installeer? Daar is darem pluspunte.

Google se masjienleer-tegnologie mag die hoofrede wees waarom Allo installasies die week die miljoenmerk verbygesteek het. Allo gebruik Google Assistant, ʼn geïntegreerde, slim soekbot wat deel vorm van jou kletsprogram. Dit stel jou in staat om toegang tot inligting te kry sonder om ʼn ekstra weboortjie oop te maak of jy kan `n privaatboodskap aan die assistent stuur deur @google te tik en ʼn vraag te stel. Dink daaraan as die Siri vir Android, net meer effektief.

Ander handige funksies sluit whisper/shout in – ʼn stukkie sagteware wat jou in staat stel om die teks in jou boodskap se grootte te verander deur die Send-knoppie in te hou en jou vinger op te beweeg. Nie iets wat jou lewe gaan verander nie, maar dalk nuttig as jy haastig is.

As verbale kommunikasie nie jou sterkpunt is nie, bied Allo  ʼn groot versameling plakkerstelle waarmee jy jouself na hartelus visueel kan uitdruk. Die nuwe Ink-funksie laat jou ook toe om te teken of teks op fotos aan te bring.

Op ʼn meer praktiese vlak gebruik Allo Smart Replies, `n funksie wat vir jou dink. Dit voorspel wat jou reaksie kan wees op grond van jou meesgebruikte woorde en frases. Amper soos autocorrect, net slimmer en minder geneig om jou in die verleentheid te stel met verkeerde voorstelle. 

Laastens is daar Incognito mode

Google het vroeër die jaar met die Allo-aankondiging, genoem dat alle boodskappe outomaties uitgevee sou word na ʼn sekere tyd, soos bepaal deur die gebruiker.  

Met die amptelike bekendstelling het Google sy deuntjie verander. Die nuutste is dat Allo alle boodskappe vir ʼn onbepaalde tyd op Google se bedieners sal stoor. Op dié manier kan Google die versamelde data gebruik om produkte te verbeter. As jy dus nie jou boodskappe uitvee nie, sal dit op Google-bedieners bly. Dis aankondiging wat Edward Snowden genoop het om die wêreld teen Allo te waarsku.

Die goeie nuus is dat jy Incognito Mode, wat end-to-end enkripteer is en nie deur Google gestoor word nie, kan gebruik. `n Goeie idee as jy Edward Snowden is of bloot sensitief dat jou data moontlik toeganklik vir ʼn derde party kan wees.

Google Allo kan afgelaai word op die Google Play-winkel.

BRONNE:

https://en.wikipedia.org/wiki/Google_Allo
http://arstechnica.com/gadgets/2016/09/google-allo-is-incomplete-but-assistant-is-the-companys-future/
http://www.pcadvisor.co.uk/new-product/google-android/what-is-google-allo-what-is-google-duo-google-allo-available-now-3640590/
http://arstechnica.com/gadgets/2016/09/google-allos-limitations-explained-in-one-word-india/
http://www.androidauthority.com/google-allo-717745/
http://www.techradar.com/how-to/phone-and-communications/mobile-phones/how-to-use-google-allo-1329437

E-pos op die wolk

Donderdag, September 29th, 2016

cloudEinde Julie het ons aangekondig dat universiteit e-pos voortaan op die wolk gebêre sal word. Die meeste Tygerberg personeel is suksesvol geskuif en reeds aktief op Outlook via Office365. Volgende aan die beurt is Stellenbosch.

Voordele van wolkpos sluit in:
• Groter posbusse en stoorspasie.
• E-pos en stoorspasie is bereikbaar van enige plek in die wêreld waar internettoegang beskikbaar is.
• E-pos en stoorspasie word gerugsteun in die wolk.

Daar is wel een oorweging. Omdat die diens in die wolk is, is dit afhanklik van die internetkwaliteit. 

Posbusse word per departement geskuif en elke departement sal vooraf in kennis gestel word wanneer die proses gaan plaasvind. Min of geen ontwrigting of onderbreking word tydens die migrasieproses verwag. 

Na die skuif sal Outlook vra vir ʼn wagwoord. Tik jou volledige e-posadres en wagwoord in en merk ook die Remember credentials blokkie. E-pos op u mobiele toestel mag ʼn heropstelling benodig. Ons het ook ʼn lys met FAQs saamgestel. As jy probleme ondervind, raadpleeg gerus eers dié lys Addisionele tegniese instruksies, indien benodig, is ook beskikbaar op IT se selfhelp webwerf.

Gebruikersondersteuning mag nodig wees vir toestelle waarvan sagteware nie op datum is nie en ons ondersteuningspan is gereed om hierdie gevalle te hanteer. Neem egter kennis dat standaard US-toestelle met Windows en batenommers eers afgehandel sal word en eerste prioriteit sal geniet. Nie-standaard toestelle, byvoorbeeld met Apple of Linux bedryfstelsels of privaattoestelle sonder batenommers, kan eers hanteer word sodra die standaardtoestelle afgehandel is.

Vir enige navrae of terugvoer, kontak gerus die IT Dienstoonbank by 021 808 4367 of help@sun.ac.za

Leer = kinderspeletjies: Toepassings vir kinders

Vrydag, Julie 22nd, 2016

kids-appsNadat Barney, die dinosourus, of Lollos, die onidentifiseerbare kreatuurtjie met die groot ore, vir die sewe-en-twintigste keer dié week dieselfde liedjie gesing het, mag menige ouer benoud begin soek na iets anders –  al is dit net ter wille van hul geestesgesondheid. 

Videos en televisie is lankal nie meer die enigste beskikbare opsies vir ʼn gefrustreerde ouer nie. Vandag verskaf tegnologie nog ʼn handige platform wat kinders besig kan hou, waar hulle vaardighede kan aanleer en kennis insamel. Slimfone en tablette kan maklik propvol speletjies, toepassings en flieks gelaai word.

Daar is wel nog éen uitdaging – hoe maak jy, as ouer, goeie, veilige en opvoedkundige keuses, wat ook jou kind se aandag vir so lank as moontlik kan behou?

PC Advisor, een van die Verenigde Koninkryk se vooraanstaande tegnologie- en mediamaatskappye, het die dinkwerk vir ouers gaan doen. In samewerking met ʼn groep ouers, het hulle ʼn lys van 46 toepassings saamgestel en op hul webwerf publiseer.

Die keuses is onderverdeel in die beste toepassings vir babas, vir kleuters, vir primêre skool leerders en tieners. Moenie afgeskeep voel nie, daar is ook ʼn afdeling vir kinders van alle ouderdomme, dis nou jy.

Het jy enige voorstelle vir toepassings wat beide pret en opvoedkundig is? Laat weet ons gerus by bits.bytes@sun.ac.za en ons kan jou gunstelinge by die volgende artikel insluit.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.