Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Internet

Impak van die internet kabelbreuk op Universiteit Stellenbosch

Maandag, Januarie 20th, 2020

Die probleme met internetspoed wat Suid-Afrikaners tans ervaar is reeds vir weke lank in die nuus. Maar hoe het dit ons eie Universiteitsgemeenskap beïnvloed? 

Die kort antwoord is dat ons, in die meeste gevalle, hoegenaamd nie ʼn degradasie in netwerkverrigting opmerk nie. Hoe is dit moontlik, wonder jy dalk? Die rede lê by TENET, die diensverskaffer vir die tersiêre opvoedingsektor, se oortolligheidsontwerp van ons internasionale stroombane. Wanneer ʼn spesifieke netwerkstroombaan, om watter rede ookal, gebreek is – soos die Wes-Afrika kabel (WACS) op die oomblik – word die universiteit se internetverkeer soomloos herlei deur ʼn ander stroombaan, Seacom, wat langs die Oos-Afrika kus loop. 

Vanselfsprekend word die risiko van ʼn volslae netwerkonderbreking verhoog deur die huidige onbeskikbaarheid van die WACS (en SAT3), maar so ver het ons dienste beskikbaar gebly sonder enige glipse. Dis ook duidelik sigbaar op die grafiek onder wat deurlopende internetverkeersvloei, 100% koppelvlakbeskikbaarheid van die netwerk, ekstra beskikbare kapasiteit en geen netwerkfoute aandui. 

Ander netwerkdiensverskaffers het dikwels nie hierdie vlak van oortolligheid tot hulle beskikking nie en voel meer ernstig die impak van die kabelbreuk. Dis ook hoekom IDV’s soos Axxess, Afrihost en ander by tye gesukkel het en hoekom sommige gebruikers verbindingsprobleme tuis of elders as op kampus ervaar het. 

Wanneer sal die situasie weer terugkeer na normaal? Die WACS-kabel aan die kus van die Kongo word tans herstel deur die kabelherstelskip en TENET skat dat die herstelwerk teen 11 Februarie voltooi sal wees.

Vir meer gereelde nuus oor die situasie en inligting oor hoe die herstelproses werk, volg TENET op Twitter.

Click for larger image

TENET internet usage graphs

 

Inetkey: Die einde is in sig

Woensdag, Desember 4th, 2019

Op Maandag, 2 Desember 2019, het die US Raad die begroting vir 2020 goedgekeur. Dié begroting sluit ’n nuwe model in wat befondsing vir internet-kapasiteit vir die hele universiteit insluit. In die verlede was Inetkey die kontrolepunt wat moes rekord hou van die individuele gebruik van personeel en studente sodat die nodige fondse gehef kon word om die internetdiens vir die universiteitsgemeenskap te kan bekostig.

Sal Inetkey skielik heeltemal verdwyn? Nog nie.

Sedert begin Januarie het Inetkey nie meer inligting oor datagebruik vir rekeningdoeleindes ingesamel nie. Daar sal inderwaarheid geen kostes meer vir gebruik wees nie.

Inetkey vervul egter ander tegniese doeleindes buiten die befondsing van die internetdiens. Gebruikersidentifikasie is ’n basiese vereiste om tred te hou met hoeveel elkeen gebruik, maar die universiteit moet ook weens sekuriteit- en ouditvereistes basiese inligting oor internetverkeer versamel. Gevolglik sal Inetkey steeds nodig wees vir toegang tot die internet, maar sonder koste.

’n Paar historiese feite:

Die verhaling van internetkostes was ’n algemene praktyk by die meeste SA-instellings sedert die 90’s. Bandwydte was ’n skaars bron en universiteite moes dit versigtig bestuur om die ineenstorting van dienste en ander negatiewe impak te vermy.

Vanaf 2000 het internet bandwydte geleidelik meer bekostigbaar geraak, soos gesien kan word in die verandering in tariewe sedert 2001. Die Universiteit het drie tariewe per dag ingestel om afslag gedurende aftye in ag te neem – A, B en C. Mettertyd het tariewe gestabiliseer en soos die kostes verminder het, het die universiteit ook gereeld die kapasiteit vermeerder.

In 2001 het jy R1-50 per MB (megabytes) vir internetdata betaal. Oor die afgelope 18 jaar het dit afgeneem na vandag se 2c. Terselfdertyd het ons internetkapasiteit toegeneem. In 2008 was die algehele kapasiteit slegs 0.4 Gbps (gigabits per sekonde) — op die oomblik loop ons netwerk op 1.7 Gbps en die moontlikheid bestaan dat dit volgende jaar verhoog kan word.

Wanneer verdwyn Inetkey finaal? Die oorblywende tegniese funksionaliteit van Inetkey sal na ander meganismes migreer word, soos die nuwe vuurmuur wat in die eerste helfte van 2020 aangekoop sal word. Ons verwag die finale ondergang van Inetkey later in 2020.

 

Eduroam-toegang vir besoekers (eVA)

Woensdag, November 6th, 2019

eVA (eduroam besoekerstoegang) is ’n nuwe diens wat besoekers aan hoër onderwys- en navorsingsinstellings in staat stel om toegang tot die veilige en sekure eduroam Wi-Fi netwerk te verkry. As addisionele identiteitsbestuurmiddel, is eVA ’n platform waar besoekers aan Universiteit Stellenbosch wat slegs tydelike internettoegang benodig op eenvoudige en veilige manier kan registreer. 

Wat is dit? 

eVA verskaf ’n meganisme wat gemagtigde personeel by eduroam-instellings toelaat om ’n besoeker te begunstig en tydelik regte aan toe te ken vir ’n spesifieke tydperk. Aangewese eVa-administrateurs kan bepaal wie geregtig is om besoekers te bestuur en hoe lank besoekers toegang kan kry. 

Hoe werk dit?

Indien jy eVA wil gebruik om jou departement se besoekers te registreer, teken asseblief ’n versoek aan op die ICT Partner Portal.  Om administrasie te vereenvoudig, kan die eVA kontakpersoon tipies dieselfde persoon wees wat SUNid ook hanteer en verkieslik ook slegs een persoon per departement of afdeling.

Neem net kennis dat jou lynbestuurder jou versoek moet goedkeur voordat jou regte toegeken kan word. Goedkeuring kan ook op die ICT Partner Portal gedoen word. 

Wat is die voordele?

  • Geen ander, addisionele registrasie, byvoorbeeld SUNid, is nodig om dié diens te gebruik nie.
  • Maklik om te gebruik. Handleidings en volledige instruksies is aanlyn beskikbaar. 
  • Besoekers se regte kan bestuur en beperk word.
  • Toegang verval outomaties na ’n verkose datum.
  • Rekords kan gehou en geoudit word.

Meer inligting oor eVA.

Internetonderbreking: Terugvoer

Vrydag, Oktober 4th, 2019

Vroeg Donderdagoggend is ons deur ons internetdiensverskaffer, TENET, in kennis gestel dat daar ’n onderbreking in die internetverbinding tussen UWC en SUN is. Dit het veroorsaak dat die hele US-netwerk vir ’n groot gedeelte van die oggend sonder internet moes funksioneer.

Tegnici is dadelik na die perseel gestuur om ondersoek in te stel en het bevestig dat die infrastruktuur gevandaliseer en die veselkabel afgesny is. Die beskadigde toerusting is vervang en konnektiwiteit is herstel. Ongelukkig is beide die primêre en sekondêre skakels beïnvloed en moes tegnici ook die rugsteun verbinding herstel.

Ons vra om verskoning vir die ongerief en waardeer julle geduld. Hou in gedagte dat, gedurende insidente soos hierdie, ons gereelde opdaterings sal plaas t.o.v. die situasie op ons Twitter-rekening.

Hoë Inetkeykostes? Dìs hoekom.

Maandag, April 9th, 2018

Af en toe kry ons navrae oor skynbare hoë Inetkey-rekeninge, veral van studente. Die oorsake is gewoonlik voor-die-hand-liggend en kan maklik vermy word. 

Sonder om na jou internetrekords te kyk, is dit baie moeilik om vas te stel wat die rede of bron van ‘n hoë internetrekening is. Jou eerste stap is om, voordat jy ons kontak oor jou internetverbruik, eers na jou rekords te kyk by http://www.sun.ac.za/useradm deur die [View Internet Usage] opsie te gebruik en onder “View Type” “Source” te kies en dan USER om die inligting op te dateer. Let op die IP-adresse en gaan na dat dit wel jou eie toestelle is. Sodoende kan jy alreeds ʼn beter idee kry watter toestel die internetverkeer genereer en watter tye van die dag. 

Hou in gedagte dat Universiteit Stellenbosch keer-op-keer deur MyBroadband aangewys is as instansie met die vinnigste internet in Suid-Afrika. Huidige toetse wys dat die aflaaispoed 95.29 MB per sekonde is. Gevolglik kan jy baie vinnig, baie data aflaai sonder dat jy dit besef en binne minute jou internetrekening opjaag. 

Die volgende is maar ʼn paar moontlike oorsake vir hoë internetgebruik: 

  • Windows 10 opdaterings wat nie maklik afgesit kan word nie. Indien jou rekenaar egter aan die US-netwerk verbind en opgestel is om opdaterings van IT se WSUS-bediener af te laai, sal die opdaterings plaaslik afgelaai word en die koste nie vanaf jou Inetkeyrekening gehef word nie.
  • Opdaterings wat ophou, weer begin of nie volledig aflaai nie. Windows 10 1709 Creative Update is byvoorbeeld net-net onder 4Gb.
  • Inetkey wat oopgelos word op ʼn toestel sonder toesig gedurende klasse of deur die nag.
  • Videostroom-webwerwe wat nie op die vuurmuur se oopgestelde lys is nie. Deur ʼn HD-fliek te stroom gedurende die dag en aand kan 3Gb se data per uur verbruik.
  • Gebruik van ʼn skootrekenaar as `n wifi hotspot vir ʼn selfoon met die doel om datakostes te spaar. 
  • Gebruik van lêerdeel protokolle soos BitTorrent. Onthou dat beide op en aflaai verkeer genereer. As jy BitTorrent gebruik, seed jy ook jou eie lêers en betaal jy selfs as iemand anders jou lêers aflaai.
  • Sinchronisasie van lêers na DropBox.
  • Swak wagwoorde sodat bure en vriende in die nabye omgewing internet kan deel.
  • Vriende of wederhelftes aan wie wagwoorde gegee word en dit later misbruik. 
  • Virusse of malware wat gemorspos en meer verkeer genereer.  Dikwels veroorsaak blootgestelde e-posrekeninge hoë internetgebruik, omdat Inetkey en e-pos wagwoorde deel. 
  • Inetkey-rekeninge wat op veelvuldige toestelle gebruik word. 

Indien geen van hierdie redes die oorsaak blyk te wees van jou hoë Inetkeyrekening nie, kan jy vir Informasietegnologie vra om jou internetgebruik na te gaan om vas te stel of daar iets onreëlmatig is. Stuur binne 14 dae ʼn versoek na helpinfo@sun.ac.za. Die koste per navraag is R200.00, maar indien daar `n fout gekry word, word hierdie fooi nie gehef nie. 

[Inligting verskaf deur David Wiles]

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.