Na 28 jaar tree Helmi Dreijer, Informasietegnologie se Senior Direkteur, aan die einde van 2014 af. “Aftree” is inderwaarheid nie heeltemal die regte beskrywing nie, want daar is geen sprake van op `n stoep sit en rus nie. Marida, sy vrou, het te veel planne vir hom. Hy sal eers oor 20 jaar stoepsit begin oorweeg, sê hy.
Almal wat vir Helmi ken, weet dat hy `n onuitputbare bron van energie is en altyd soveel moontlik probeer uitrig. Volgens hom gaan die lewe te vinnig verby en daar is net soveel dae om alles in te pas.
Hy sien wel daarna uit om meer tyd te hê om sy passies – vriende, familie en golf (in geen spesifieke volgorde) uit te leef. Veral golf natuurlik. Hy beweer hy het nie `n voorgee nie, golf self is sy “handicap”. Maar hy bly optimisties dat hy oor `n paar jaar aansienlik beter gaan wees en wil ook `n paar kollegas ompraat om saam te begin speel.
“Tegnologie het die geneigdheid om jou in te suig…en die mooi berge rondom ons mis te kyk. Ek kry nou die geleentheid om meer gereeld die berge te geniet. “Ek en Marida sien uit na die volgende fase in ons lewe, maar dit gaan baie van my ou kollegas insluit.
Een van die belangrikste lesse wat hy oor die jare geleer het, is dat `n mens jou passie vir werk moet balanseer met jou passie buite werk.
Tegnologie was nog altyd een van sy grootste passies en hoewel sy tyd by Informasietegnologie tot `n einde kom, is daar alreeds `n hele reeks idees en planne waarmee hy homself besighou.
“Ek wil nog `n bydrae en verskil maak waar tegnologie `n rol kan speel.”
Hoër opvoedkundige instansies gaan in die toekoms toenemend staatmaak en gebruikmaak van tegnologie. Veral videostroom-tegnologie skep groot geleenthede vir leer en onderrig.
Hy was destyds reeds betrokke by die eerste eKampus-projek waar die fokus op die waarde van tegnologie geplaas is. Die tweede eKampus projek gaan nou nog verder om ‘n baie groter rol te speel, om die ervaring in die klaskamer te verryk en ook die voetspoor van die universiteit te verbreed, plaaslik sowel as internasionaal.
Oor sy nalatenskap by IT is hy geensins bekommerd nie. “Die IT-terrein verander so vinnig en die IT-bestuur vir 2015 is reeds besig met lekker nuwe planne.”
Sy grootste motivering om elke dag positief by die werk op te daag, was mense. Kollegas het mettertyd vriende geword en dis hulle wat hy die meeste gaan mis.
“Om Maandag by die werk te kom en almal se naweekstories te hoor oor wie die berge is was, wie met `n fiets geval het, wie gaan “wind-surf” het, en natuurlik, wie wat reggekry het met tegnologie.
Intellektuele gesprekke, die uitdaging om `n probleem te help oplos en die geleentheid om `n verskil te maak, het daagliks oorgenoeg motivering gebied. Hy sê dis maklik om positief te wees as daar min mense by die universiteit is wat nie ook positief is nie.
“Sukses lei tot sukses en positiewe denke. Saam met kollegas het IT nogal iets reggekry.”
Hy onthou nog toe die eerste e-pos wat hy en Herman Heunes tussen die Vax en PR (persoonlike rekenaar soos dit destyds genoem is) gestuur het en die opwinding wat daarmee saamgegaan het.
Sy belangstelling in rekenaars het in 1974 begin toe die eerste Apple rekenaar na Suid-Afrika ingevoer is. Hy het dit dadelik uitmekaargehaal en elektronies probeer nadoen sodat hy en sy vriende dit kon bekostig. Dit het lank geneem, maar, soos hy tereg sê, aan die Weskus waar hy hom gedurende daardie tyd bevind het, is daar baie tyd.
“My seun se naam was amper Apple!”
Op skool was wiskunde, wetenskap en sport soos kano, rugby en atletiek , “die goed wat seuns se adrenalien laat pomp”, vir hom lekker. Hy glo ook `n mens moet elke dag iets waarvoor jy eintlik bang is, doen. Wees waagmoedig, maar nie waaghalsig nie.
Op Stellenbosch het hy Ingenieurswese, eers Elektronies en daarna Bedryfsingenieurswese, studeer. Later in sy loopbaan het hy ook `n MBA voltooi en meer in Informasietegnologie begin belangstel.
Tydens die onderhoud vir sy pos by IT het die destydse Viserektor: Bedryf gevra hoekom hy wil terugkeer na Stellenbosch. Sy antwoord was dat jy na Stellenbosch kom om “mens” te word en dat hy die lekker gevoel van “mens-word” nog verder op Stellenbosch wil uitbou en uitleef.
“Sjoe, ek en Marida sal Stellenbosch vir geen plek in die wêreld wil verruil nie.”
Daar is niks wat hy NIE gaan mis nie. Dit selfs lekker om met probleme te stoei en oplossings te vind – al was daar frustrerende tegnologie soos netwerke, 3G en Wi-Fi wat dinge soms moeilik gemaak het. Sommige gebruikers het egter gedink Informasietegnologie is `n inligtingsdiens en verskaf ook inligting soos hoe om paddaboutjies gaar te maak. Sulke insidente het gesorg vir vermaak tussendeur.
“Om by Informasietegnologie te kon werk was `n hoogtepunt al die pad. Om deel te wees en om `n (e)verskil te maak is wonderlik en `n voorreg.”