Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Studente

Maklike verwysings met Zotero

Vrydag, Mei 23rd, 2014

Daar is seker geen twyfel daaraan dat elke universiteitstudent ten minste een geskrewe stuk (opstel, verslag, ens.) in sy/haar tyd as student sal moet skryf wat verwysings benodig. Daar is ook seker geen twyfel daaraan dat net die noem van die woord “verwysings” die meeste studente hulle glimlagte sal laat verloor of, in ’n nagmerrie-scenario, veroorsaak dat hulle skreeuend weghardloop met hulle arms wat wild rondswaai.

Dit is heel verstaanbaar.

Om verwysings met die hand op te stel – deur tred te hou van jou bronne, seker te maak jy het die korrekte inligting oor hulle en laastens na hulle in die korrekte plekke en in die korrekte styl te verwys – is ’n aaklige ervaring. Dit is vervelig, moeisaam en baie tydrowend. Hoewel baie fasette van navorsing geweldig oor die afgelope dekades ontwikkel het, is dit nogal vreemd dat ’n eenvoudige en maklike oplossing vir hierdie hardnekkige probleem nog nie verskyn het nie[1].

Dit is natuurlik tot die opkoms van Zotero. In die volgende afdelings sal ons kortliks kyk na hoe Zotero funksioneer in ’n poging om jou te wys hoekom sommige mense dink dis die beste ding na brood en botter.

Wat is Zotero en hoe kry ek dit in die hande?

Zotero is ’n gratis, oopbron- sagtewarepakket wat op jou persoonlike rekenaar, Mac of Linux-gebaseerde rekenaar geïnstalleer kan word. Dit loop as ’n “byvoegsel” (add-on) binne die Mozilla Firefox blaaier (wat ook gratis en oopbron is) en integreer baie goed met jou verwysingsproses deur al die stappe daarin grootliks te vereenvoudig: versameling van bronne, organisering van bronne en aanhaling van bronne – in die korrekte styl – in jou skripsie, opstel of verslag.

Om Zotero te installeer, moet jy eers seker maak Firefox is geïnstalleer. Indien nie, laai eers Firefox af. Maak Firefox oop. Gaan dan na hierdie bladsy en klik op die “Zotero for Firefox” knoppie.[2]

In ons volgende uitgawe kyk ons meer in detail hoe Zotero werk en gee jou `n paar gevorderde wenke om te verseker jy gebruik jou Zotero op `n effektiewe manier.


[1] ’n Aantal sagtewarepakkette om verwysings mee op te stel, is wel reeds vir ’n lang tyd beskikbaar. Nie een van hulle kon nog egter die verwysingservaring waarlik wrywingloos gemaak in die mate waartoe Zotero dit doen nie.

[2] Zotero is ook as ’n alleenstaande pakket beskikbaar (m.a.w. buite die Firefox blaaier), maar dit is baie makliker om dit binne die Firefox blaaier te gebruik.

 

[ARTIKEL DEUR JOHANNES JONKER]

Bestuur jou nagraadse studente inligting sonder moeite

Vrydag, Mei 23rd, 2014

Die bestuur van nagraadse studente is baie werk, maar NAO kan jou help.  Het jy al ooit gewens dat jy op ‘n maklike manier inligting van jou Fakulteit of Departement se nagraadse studente in die hande kan kry?  As jy nog nie met NAO kennis gemaak het nie, is dit dalk nou die tyd om meer uit te vind en jouself in die toekoms baie moeite te spaar.

Die volgende opmerkings is al oor die stelsel gemaak en oordeel maar self of dit nie belowend klink nie:

“Hoekom hoor ek nou eers van die stelsel… grrrr .”
“NAO is die beste ding wat die afgelope paar jaar in my loopbaan gebeur het!”
“Nou hoef ek nooit weer ‘n us-nommer van ‘n student te soek nie …”

NAO is die afkorting vir Nagraadse Akademiese Ondersteuning; ‘n webstelsel wat spesiaal vir personeel ontwerp is om hulle lewe makliker te maak wat die bestuur van nagraadse studente betref.

Eerlikwaar, jy kan maar ontslae raak van jou eie sigblaaie waarmee jy jaar vir jaar probeer tred hou het van belangrike inligting, want jy kry elke oggend alles wat jy nodig het, vars uit die sentrale stelsel via NAO.

Hieronder is ‘n lys van verskillende tipes inligting beskikbaar om jou lewe ‘n bietjie makliker te maak:

  • Voorgraadse finalejaars (vir werwing )
  • Aansoekers van elders – stel vas hoe ver die aansoek gevorder het
  • Geregistreerde nagraadse studente
  • Nagraadse studente nog nie geregistreer
  • Graduandi lyste van vorige jare
  • Historiese inligting tot sover terug as 2000 

Excel verslae is beskikbaar met ‘n muisklik sodat jy verdere verwerking van die data kan doen, filteropsies kan gebruik word om groepe studente te verklein en data kan gesorteer word deur op verskillende kolomhofies te klik.

Met ‘n oogopslag en sonder om ‘n vinger te verroer wys die stelsel vir jou of ‘n student

  • afkomstig is uit die buiteland sowel as sy/haar nasionaliteit,
  • befonds word of in die verlede befondsing ontvang het,
  • reeds studieleiers het en of die tesis-titel al vasgelê is,
  • oorlede is en
  • inligting soos US-nommer, noemnaam, van, program, ankermodule, e-pos adres, telefoonnommer en nog baie meer, is onmiddellik beskikbaar.

‘n Ekstra lekkerte van die stelsel is dat jy e-pos aan groepe studente kan stuur. Stel slegs bewoording in Afrikaans en Engels op en elke student ontvang sy/haar e-pos in die korrespondesietaal wat by registrasie vasgelê is.  Dieselfde bewoording kan jaar na jaar gebruik word, byvoorbeeld om laatslapers te herinner om betyds te registreer en sodoende ‘n boete vry te spring!

Jy kan jou eie notas maak ivm studente (byvoorbeeld Jannie was vir ‘n sekere tydperk buite aksie a.g.v. griep), volledige studierekords bekyk, befondsing kontroleer om te bepaal of ‘n departementele beurs reeds toegeken is en nog baie meer.

Die beste nuus van alles is dat jy Studieleiers en Tesistitels sentraal via NAO kan vaslê en nooit weer bekommerd hoef te wees dat jou hardeskyf gaan oppak en al jou werk van 6 maande lank tot niet maak nie.

Indien jy meer oor die stelsel te wete wil kom, kliek hier vir die Powerpoint-voorlegging. Stuur epos aan Rita de Jager, Hoof: Nagraadse Akademiese Ondersteuning  by rd@sun.ac.za om toegang te kry, in te skakel by ‘n opleidingsessie of sommer enige vrae oor die stelsel te vra.

[Artikel deur Rita de Jager met gewaardeerde  insette van prof Keith Palmer, Dept E & E Ingenieurswese]

 

In- of uitgeprop?

Vrydag, April 11th, 2014

Tot nie te lank gelede nie was ons area van werk ingeperk deur die lengte van die kabel wat die netwerkpunt aan ons rekenaar verbind. Dit was voordat wi-fi `n gegewe in ons lewens geword het. 

WI-FI op die US-kampus is ‘n kabellose verbinding aan die netwerk vir studente en personeel. Met wi-fi word die verwagting dikwels geskep dat dit oral 100% reg gaan werk en altyd beskikbaar sal wees. Wat verwag word en die werklike aanbod, stem ongelukkig nie ooreen nie en kan lei tot frustrasie by gebruikers.

Die realiteit is dat wi-fi `n beste poging is en faktore soos fisiese afstand vanaf die WAPs, WAPs wat mekaar beinvloed en fisiese strukture is in die pad van die sein is, speel `n groot rol. 

Kom ons kyk na die tegniese details – 

Wi-Fi netwerke het `n beperkte sendbereik. Die standaard WAP (wireless access point) gebruik 802.11b of 802.11g en met `n gewone antenna sal dit `n ontvangsgebied van 35 meter binneshuis en 100 meter buite kan dek.  Ontvangs kan wel verbeter word met `n sterker antenna en deur die antenna-rigting aan te pas. 

Weens die komplekse aard van radioverspreiding op tipiese Wi-fi frekwensies, veral die effek van seine wat weerkaats teen bome en geboue, kan algoritmes net `n beraamde seinsterkte voorspel vir `n area in verhouding tot `n sender. 

Wi-Fi verbindings kan onderbreek word of die internet spoed verlaag word weens ander toestelle in die omgewing. Wi-fi besoedeling of `n oormatige hoeveelheid toegangspunte kan toegang belemmer en inmeng met ander toestelle se toegang. Dit word veroorsaak deur oorvleueling op die 802.11g/b spektrum en kan `n probleem word in digbevolkte areas soos groot woonstelblokke of kantoorgeboue met baie wi-fi toegangspunte. 

Op ons kampus word die maksimum verbindings na `n “hotspot” beperk tot 25 tot 35 en die res word toegang geweier. Die hoeveelheid toestelle wat op een oomblik aan `n “hotspot” gekoppel word moet dus die deurset deel en verlaag effektiwiteit.  

Boonop gebruik ander toestelle ook die 2.4 GHz band, insluitende mikrogolfoonde, ISM band toestelle, sekuriteitskameras, koordlose telefone, babamonitors en amateur-radios en dit kan beduidende steurings veroorsaak. 

Met bogenoemde in ag geneem, is dit duidelik dat wi-fi nie altyd die beste opsie is vir `n stabiele, betroubare netwerkkonneksie nie. As jy in jou kantoor is, prop eerder jou rekenaar by die netwerkpunt in en gebruik wi-fi slegs vir noodgevalle of wanneer jy rondbeweeg op kampus. 


 

As jy wil registreer vir die gebruik van wi-fi op kampus, kontak die IT Dienstoonbank by +27 21 808 4367 of stuur `n e-pos na help@sun.ac.za met die volgende informasie: 

  • Gebou
  • Kamer
  • US nommer
  • Gebruikersnaam
  • Batenommer van toestel of beskrywing van die toestel
  • Netwerkkaartadres (of te wel die MAC-adres) 

Toegang tot Wi-fi dienste op kampus kan verkry word deur die Secure of MatiesWifi SSIDs. Toestelle met batenommers word normaalweg op Secure geregistreer met toegang tot alle netwerkdienste, terwyl alle ander toestelle op MatiesWifi geregistreer word met beperkte toegang tot dienste. Beide hierdie wifi-verbindings gee `n spoed van tot 54 Mbps.

Vir verdere navrae kontak die IT Dienstoonbank of telecom@sun.ac.za

[BRON: www.wikipedia.org]

Laai die Inetkey mobile toepassing af

Vrydag, Februarie 14th, 2014

Met die groeiende hoeveelheid mobiele applikasies wat daagliks gebruik word, het die behoefte ontstaan om `n eenvoudige, effektiewe Inetkey-toepassing te skep wat bruikbaar is op alle toestelle en platforms. – insluitend Android, iOS, Blackberry en Windows.

IT se mobiele Inetkey-toepassing is ontwikkel en is beskikbaar vir die verskeie platforms. Laai die gepaste weergawes af deur op die ikone te kliek.  

downloadandroid2
downloadblackberry
Download_on_the_App_Store_Badge_US-UK_135x40
downloadwindows

Daar bestaan reeds nie-amptelike Inetkey mobiele toepassings wat deur privaatpersone ontwikkel is, maar geensins deur Informasietegnologie onderskraag word nie. Nie-amptelike Inetkey toepassings dra die risiko dat dit gebruikers se inligting kan onderskep, wat op die beurt kan misbruik of gesteel word. Gebruikers sleutel besonderhede in op `n toepassing terwyl hulle nie weet hoe of waar dit gestoor word, hoe dit gekommunikeer word of selfs of dit sekuur is nie. 

Ons kan dus geen verantwoordelikheid aanvaar indien gebruikers die toepassings gebruik en probleme ondervind nie. 

VIR MEER INLIGTING OOR INTERNET EN INETKEY, RAADPLEEG ASB. ONS DIENSKATALOGUS.

Cell C-aanbiedinge nou beskikbaar vir studente en personeel

Vrydag, Januarie 31st, 2014

Studente, sowel as personeel, kan dié jaar van goedkoop selfoon data-aanbiedinge gebruik maak te danke aan `n gesamentlike poging deur die Universiteit en Cell C. 

Hierdie aanbiedinge bring die normale koste per MB van 15c per megagreep af na ongeveer 3.3 sent/meg. Die aanbod sluit 3gb data per maand vir ses maande in teen R600-00, maar daar is ook pakette vir 12 maande as jy dit so sou verkies. 

Cell C sal gedurende dié tydperk `n stalletjie beman op die Rooiplein, onder die brug tussen Admin A en B tot en met 7 Februarie. Al wat jy hoef te doen om die stalletjie te besoek en jou basiese RICA-dokumente – ID en bewys van verblyf te wys. 

 Gedurende Februarie sal Telkom ook hul eie aanbiedinge aan kampus kom bekendstel – net vir ingeval jy uitmis dié rondte.

Vir meer inligting, stuur e-pos die IT HUB by student@sun.ac.za​, loer in by hulle kantoor (ingang onder die brug op die Rooiplein) of besoek Cell C se stalletjie.

 

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.