Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

wolk stoorspasie

`n Gids tot datarugsteuning

Vrydag, Augustus 31st, 2012

Of dalk moet die titel van die artikel eerder wees  “Hoe om jou verslawing aan uitstel te oorwin in 5 maklike stappe!”. Want, kom ons wees nou maar eerlik, daar is `n magdom interessanter dinge wat ek eerder sal doen as om elke Vrydag my data te rugsteun.

Tensy jy lus is om al jou harde werk weer oor te doen en moontlik kosbare inligting te verloor, probeer om in `n roetine te kom van datarugsteun. Moenie uitstel nie, doen dit so gou as moontlik. Kies `n dag in die week – dalk `n tydjie wat minder besig is en dinge rustiger op kantoor is – soos `n Vrydagmiddag en maak elke week  dieselfde tyd `n nota in jou dagboek vir data rugsteun. Jy sal gou genoeg in die gewoonte kom om dit te doen tussen jou ander werk deur.

Moenie elke keer net jou vorige rugsteun kopie oorskryf nie – maak liewer ‘n paar opeenvolgende kopiee in verskillende gidse op die rugsteunskyf of rekenaar. Maak byvoorbeeld  elke week  ‘n nuwe gids met daardie dag se datum in die naam. Indien enige van jou dokumente dan op ‘n manier korrup word, byvoorbeeld a.g.v. probleme met jou hardeskyf, kan jy terugval na ‘n vorige weergawe wat nog reg was.

Maak van gereeld seker dat die medium waarop jy rugsteun nog in werkende toestand is en dat die dokumente wel oopgemaak kan word. Juis ook om hierdie rede, maak gebruik van meer as een rugsteunmedium, byvoorbeeld jou netwerkspasie EN `n eksterne hardeskyf.

`n Vorige keer het ons vertel van die nuwe Sharepoint weergawe wat nou tot julle beskikking is. Sharepoint is `n effektiewe en kragtige hulpmiddel vir inligtingsbestuur en samewerking waar spanlede inligting kan deel en saamwerk. Sharepoint is egter nie `n platform waar gebruikers hulle data kan rugsteun nie.

SharePoint 2010 word tans gebruik vir Teamsites, wat hoofsaaklik deur groepe (fakulteite of departemente) gebruik word en een lid van so ‘n groep word opgelei om regte en dokumente op hierdie webomgewing in te rig en bestuur.

Elke personeellid het ook toegang tot sy eie netwerkspasie waar jy gratis `n beperkte hoeveelheid data kan stoor. As jy verkies om jou data eerder in jou eie hande te hê, kry vir jou `n eksterne hardeskyf of dvd-skywe (die hoeveelheid data wat jy op laasgenoemde kan stoor is egter beperk). Moet nooit data rugsteun op `n flitsskyf nie – dis slegs bedoel vir data oordra van een toestel na `n ander en is glad nie betroubaar nie. Jy mag dalk een oggend verras word met snaakse karaktertjie in plaas van jou belangrike aanbieding of tesis.

Laastens is daar natuurlik die “cloud”, soos julle nou al tot vervelens gehoor het in die week se nuusbrief! Jy kan gebruikmaak van `n verskeidenheid “cloud”-opsies. (Lees meer oor voor- en nadele hier.)

Daar is net twee belangrike feite om in gedagte te hou ivm “clouds”. Gebruik hierdie opsie slegs vir persoonlike inligting, nie vir enige akademiese inligting of data wat sensitief is nie. As jy verskeie toestelle gebruik, onthou dat sekere van hierdie dienste elke keer sinkroniseer tussen jou toestelle – as jy dus 500 MB se data het op een plek en jy het 3 toestelle, gaan jy betaal vir 1500 MB se data. Dit mag na min klink maar as jy `n 3G modem gebruik, gaan jou rekening aan die einde van die maand angswekkend lyk.

Meeste van die dienste het gratis opsies wat genoeg spasie gee vir jou belangrikste lêers om veilig aanlyn gestoor te word, en dit kan selfs outomaties die lêers sinkroniseer tussen jou werk- en tuisrekenaars, wat beteken jy hoef nie dokumente op ‘n flashdrive rond te dra en te onthou om dit te kopieer sodat jy vanaand by die huis kan verder werk aan daardie aanbieding nie – sodra jy dit stoor is dit binne sekondes ook op die ander rekenaar!

Die onderskeie aanlyn dienste het elkeen maar so ‘n paar onderskeidende eienskappe wat een of twee voordele oor die ander bied, dus moet mens maar jou behoeftes ontleed vir data rugsteun en/of sinkronisasie en die beste een vir JOU kies. Lees hier meer oor die verskillende opsies vir “clouds”.

(FEITE VERSKAF DEUR NEELS BLOM, IT USER SERVICES)

Watter een om te kies?

Vrydag, Augustus 31st, 2012

Noudat jy weet wat `n “cloud” is, is die volgende uitdaging om uit die magdom keuses een te kies wat aan jou behoeftes voorsien. Ongelukkig het elkeen sy voor- en nadele – ons het probeer om dit te ontsyfer.

ICLOUD

Apple se iCloud-diens lyk op die oog af baie effektief en dit werk seepglad. Dit sinkroniseer met al jou Apple-toestelle – iPhone, iPad en Mac en daar is heelwat ekstra funksionaliteit. Dis dus baie handig as jy `n iPod-aanhanger is, gereeld musiek aflaai en dit erens sentraal wil bêre.

iCloud gee jou 5GB se gratis stoorspasie, maar meer as dit moet jy voor betaal.  Die enigste nadeel is dat jy `n iOS-toestel of `n Mac gaan nodig hê om deel van die klub te wees.

AMAZON CLOUD DRIVE

Cloud Drive funksioneer net soos `n hardeskyf – die enigste verskil is dat dit aanlyn is en nie in jou rekenaar op jou lessenaar nie.

Hierdie platform gee ook vir jou 5GB gratis spasie. Vir meer sal jy 1$ vir 1GB per jaar moet betaal. Dit het ook `n Cloud Player Music stroom applikasie vir all jou musiekbehoeftes. Die enigste nadeel is dat jy Flash nodig het om dit te gebruik en  as jy iOS-toestelle gebruik wat nie Flash ondersteun nie, gaan jy probleme hê.

GOOGLE DRIVE

Google het `n magdom dienste van Picasa vir jou fotos, Gmail vir jou e-pos, Music Beta vir music en Google Docs vir  dokumente.

Terwyl SkyDrive en Dropbox jou leêrs van tot 2 GB laat stoor, gee Google vir jou tot 5 GB vir jou leêrs. Google het ook baie meer opsies as Dropbox en SkyDrive as dit kom by keuse vir betaalde databerging. SkyDrive het 3, Dropbox net twee, maar Google het 9 opsies waarvan jy kan kies.

Jy kry 1GB gratis vir Google Docs, 1GB vir Picasa, 7GB vir  Gmail en jy kan opgradeer na 16TB teen 4000$ per jaar. Google is waarskynlik ook een van die mees toeganklikste opsies – as jy `n webblaaier het, kan jy dit gebruik.

WINDOWS SKYDRIVE

Hierdie diens is soortgelyk aan die van Amazon, maar soos julle kan raai uit die naam is dit `n Microsoft-produk gemik op Windows. As Office dus `n groot deel van jou dag opneem, is Skydrive die logiese keuse vir jou.

SkyDrive bied 7GB se gratis stoorspasie en `n hele 25GB as jy voorheen van hulle diens gebruikgemaak het. Die betaalopsies is ook meer bekostigbaar as Google Drive of DropBox.

As jy die SkyDrive toepassing installeer word jy geforseer om alles van SkyDrive na jou rekenaar te sinkroniseer. Jy kan nie net sekere dele kies vir sinkronisasie nie.

`n Ander opsie vir Windows gebruikers is Windows Live Mesh. Lees meer op Wikipedia hieroor. 

DROPBOX

Waarskynlik die bekendste “cloud”-bergingsdiens is DropBox. Al jou toestelle kan verbind word daaraan en soomloos gesinkroniseer word. Enigiemand wat `n webblaaier het of die Dropbox-toepassing op hulle rekenaar, kan dit gebruik.

Dropbox is `n goeie en effektiewe dien, maar ongelukkig ook die duurste.

Ten spyte van die groot verskeidenheid van opsies (en ons het nie eers almal genoem hier nie), moet jy besluit watter een die beste werk vir jou.

(SOURCES: Regan Januarie (IT Gebruikersdienste), www.winsupersite.comhttp://www.memeburn.com)

IT: Gerat vir die toekoms

Vrydag, Maart 9th, 2012

Tot onlangs was die afdeling Informasietegnologie se gesig op kampus hoofsaaklik slegs die van `n diensverskaffer. Die mense wat jy bel as jou rekenaar gekalf het en gemoedere hoog loop van frustrasie. Min mense weet egter presies wie of wat IT is en dat hulle meer doen as om te sorg dat jou rekenaar elke dag werk en jy jou email en internet kan kry.

Voorheen het twee van IT se afdelings, IT Tegniese Dienste (ITTD)en IT Gebruikersdienste (ITG), gefunksioneer as twee aparte eenhede. Om egter te verseker dat Informasietegnologie  in lyn met US-doelwitte en aan die voorpunt van nuwe tegnologie bly, is besluit op die integrasie van die twee afdelings.

Die vorige afdelings word een integrale afdeling wat bekend sal staan as  IT Infrastruktuur en Gebruikersondersteuning met die fokus op drie verskillende areas – Navorsing en Ontwikkeling, Netwerkinfrastruktuur en Telefoonstelsels en Apparatuur- en Programmatuurdienste en ondersteuning.

Zenobia Davidse, Hoof: IT Infrastruktuur en Gebruikersondersteuning Die groot verantwoordelikheid om die suksesvolle integrasie van dienste en voortdurende ondersteuning aan kampus te bestuur, rus op die skouers van Zenobia Davidse en haar span van 26 personeellede.

Met die herstrukturering sal wyer gefokus word op nuwe tegnologie en wegbeweeg word vir meer tradisionele IT-funksies. Daar sal, onder andere, anders gekyk moet word na datarugsteuning op kampus deur gebruik te maak van “cloud”-berging in plaas van rugsteuning op hardeskywe, toetsing van nuwe apparatuur en programmatuur,  analise en konsultasies van gebruikers se behoeftes ten opsigte van tegnologie, sowel as selfhelp-gidse vir personeel.

IT Infrastruktuur en Gebruikersondersteuning word dus die een-stop-plek vir e-waste, enige telefoonnavrae, installasies van WAP’s, aankope, bystanddienste en vele meer. 

In `n poging om kommunikasie met kampus te verbeter sal daar binnekort fakulteitsverteenwoordigers aangewys word wat probleemoplossing binne departemente sal bespoedig. Addisionele funksies en spesialisareas van die onderskeie personeellede word ook voortaan in Bits en Bytes bekendgestel.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.