Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

sekuriteit

(English) Scam warning: UPS Parcel Receipt with infected attachment

Woensdag, November 30th, 2016

Whatsapp-verblindery

Woensdag, November 23rd, 2016

WhatsApp word deur studente en personeel gebruik as belangrike kommunikasiemiddel. Ongelukkig bied dit aan kuberdiewe nog ʼn platform om hul aktiwiteite op uit te oefen. 

WhatsApp kuberstreke kom in verskeie formate voor en is dikwels besonder oortuigend.  Maak seker jy bly oplettend en word nie geflous deur iets wat te goed of te problematies om waar te wees lyk nie. Net omdat ʼn familielid of vriend vir jou iets aanstuur, beteken nie dis veilig nie.

Koepon-truuks

Jy kry ʼn boodskap via Whatsapp van (wat lyk soos) een van jou vriende en hy beveel ʼn aanbod waarop hy afgekom het, aan. Gewoonlik is daar ʼn skakel in die boodskap wat jou na ʼn ander webwerf neem en waar jy jou persoonlike inligting invul. Moet nooit op ʼn skakel kliek waaroor jy nie seker is nie en moet definitief nooit persoonlike inligting gee op ʼn webwerf wat jy nie ken nie. 

WhatsApp maak toe

Daar is heelwat vals boodskappe wat beweer dat Whatsapp gaan toemaak indien genoeg mense nie ʼn spesifieke boodskap deel nie. Die boodskappe lyk dikwels heel oortuigend en gebruik die regte woorde en frases vir die konteks, asof dit deur ʼn direkteur van ʼn maatskappy of iemand amptelik gestuur is. 

ʼn Amptelike verslag sal egter nie van kliënte verwag om dit heen en weer te stuur nie. Dit sou deur middel van normale nuuskanale verkondig word of as ʼn kennisgewing in die toepassing self deur die Whatsapp-span.

WhatsApp dreig om jou rekening te sluit

Hierdie voorbeeld is soortgelyk aan die vorige een. Dit lyk soos ʼn amptelike boodskap wat beweer dat jou Whatsapp-rekening gesluit gaan word omdat dit nie aktief gebruik word nie. Dit versoek dat jy die boodskap aanstuur om te bewys dat dit wel gebruik word.

WhatsApp dwing jou om te betaal

Ook soortgelyk aan die vorige kuberdiefstalpoging. Die enigste verskil is dat jy blykbaar vrygeskeld word van betaling indien jy die boodskap aanstuur na ander persone.

WhatsApp Gold of WhatsApp Premium

Dié boodskap stel voor dat jy ʼn spesiale weergawe van Whatsapp, gewoonlik genoem Gold of Premium, koop of aflaai. Blykbaar bied hierdie nuwe weergawes opwindende ekstra kenmerke, soos die vermoeë om meer fotos te stuur, nuwe emojis te gebruik of ekstra sekuriteitsopsies. Ongelukkig is hierdie verbeterde weergawes glad nie veilig nie. Wanneer die toepassing aflaai word, word die foon besmet met malware, wat opsigself meer vals boodskappe genereer op jou onkoste.

Whatsapp e-posse 

Gemorspos e-posse is erg genoeg, maar saam met Whatsapp raak dit onbeheerbaar. Daar is ʼn verskeidenheid kuberdiefstalpogings daar buite wat e-posse uitstuur wat soos Whatsapp-kennisgewings lyk – gewoonlik ʼn kennisgewing van ʼn verlore oproep of stempos. Maar wanneer jy daarop kliek, word jy oortuig dat jou inligting, wagwoord, ens. moet verklap.

Moet nooit op ʼn e-pos van ʼn twyfelagtige sender kliek nie. Whatsapp stuur nie e-posse oor verlore oproepe of stempos nie. 

Onegte WhatsApp afloer-toepassings

Whatsapp gebruik end-to-end enkripsie en gevolglik is dit nie moontlik om iemand anders se boodskappe te lees nie. Boodskappe kan slegs gelees word deur die fone wat dit stuur en ontvang.

Hierdie pogings moedig jou aan om iets af te laai wat nie bestaan of moontlik is nie. Jy betaal eintlik vir malware wat jou eie boodskappe lees wanneer jy dit op jou foon laai.

Laastens –

Hopelik het jy reeds die verstelling verander wat jou Whatsapp-details (telefoonnommer, naam, ens.) met Facebook deel en sal Facebook nie jou Whatsapp-rekening toeganklik maar vir 13 miljoen Facebook-gebruikers nie. 

Meer inligting oor dié kontroversiële beleidsverandering deur Whatsapp kan op die volgende bladsy gelees word:  http://www.mirror.co.uk/tech/you-can-stop-whatsapp-sharing-8893949

[ARTICLE DEUR DAVID WILES]

Verloor jou selfoon, verloor jou inligting

Vrydag, Oktober 24th, 2014

As iemand nou jou slimfoon moet steel, tot watter inligting sal hy toegang kan kry? Jou smse? Jou bankdetails? Jou privaatdokumente wat op jou e-pos gestoor is of sensitiewe werksdokumente?

En tog, ons dra al hierdie belangrike inligting elke dag saam met ons, stap en gesels in die openbaar op ons telefone en is eintlik binne bereikafstand vir enige opportunistiese grypdief. Maar daar is ook ander maniere om by jou inligting uit te kom deur middel van “spyware” en ander verdagte sagteware.

Hoe meer ons slimfone gebruik om ons lewens te organiseer en te beplan, hoe meer stel ons onsself bloot en ongelukkig is dit wel so dat slimfoondiefstal al meer toeneem.

Daar is egter maatreëls wat jy kan tref om te voorkom dat jy nie `n slagoffer word nie.

smartphone-icon-1340911-m1. WAGWOORD OF PIN

Hierdie is jou eerste en belangrikste voorsorgmaatreël. Sonder `n PIN of wagwoord het enigiemand wat jou selfoon in die hande kry, toegang tot jou e-pos, bankdetails, sms’e en persoonlike inligting.

En Microsoft se Hoof: Aanlynsekuriteit, Jacqueline Beauchere, stem saam. “Using a PIN or unique password is the single most important thing to do as a user of a smartphone to protect the device, the data and your reputation.”. Volgens Beauchere is die data op jou selfoon ook meer onlangs en op datum as die op jou rekenaar, wat die risiko nog meer verhoog.

2.SELFOONTOEPASSINGS

Wees versigtig watter toepassings jy aflaai en waar jy dit aflaai. Dis wonderlik om `n toepassing te kry wat jou lewe meer stroombelyn kan maak of wat pret kan verskaf, maar weeg die voordele en risikos teen mekaar op.

Al lyk `n toepassing hoe oulik, laai eerder net by bekendes soos iTunes, Google Play, Amazon, ens. af. Doen ook `n bietjie navorsing. Lees wat ander gebruikers daaroor sê, hoeveel punte gee hulle die toepassing, was daar enige probleme daarmee?

3. VERDAGTE SKAKELS

Volgens navorsing kliek mense 3 keer makliker op `n skakel op hul fone as op hul rekenaars. Die rede hiervoor is waarskynlik omdat die skerm kleiner is en jy moeilik kan identifiseer of die skakel verdag is.

Oppas vir skakels wat via sosiale netwerk, sms of e-pos vir jou gestuur word en persoonlike inligting vra. Op dié manier stel jy jou bloot vir identiteitsdiefstal.

4. ONSEKURE WI-FI

Wees versigtig hoe jy oop wi-fi punte soos die in koffiewinkels, winkelsentrums, en ander openbare plekke, gebruik. Omdat dit nie sekuur is nie, word jou inligting onveilig deur die lug versend. Enige anderpersoon kan dit onderskep gedurende versending. As jy banksake wil doen of met sensitiewe informasie wil werk, doen dit liewer by die huis of werk waar jy weet die wi-fi sekuur is.

5. SPYWARE

Sonder `n wagwoord kan kuberkriminele spyware op jou selfoon laai en jou sms’e, e-posse, banktransaksies en ligging maklik nagaan. Om te voorkom dat daar spyware op jou selfoon beland, aktiveer `n wagwoord of PIN, maar laai ook op Google Play of iTunes vir jou `n betroubare toepassing af wat spyware en virusse kan opspoor en verwyder.

Meer gedetaileerde inligting oor selfoonsekuriteit is beskikbaar op wikipedia.

[BRONNE: www.rd.com, www.computerworld.com]

Kappers en krakers

Vrydag, Oktober 18th, 2013

Wie van ons onthou nie vir Lisbeth Salander van The Girl with the Dragon tattoo fliek of Neo in The Matrix nie – beide voorbeelde van hackers. 

Vroeër die week het selfs US-webwerwe deurgeloop onder die 747crew, wat dit gebruik het as platform om hul politiese en godsdienstige oortuigings te verkondig.

Daar kan egter `n onderskeid getref word tussen kappers (hackers) en krakers (crackers). In die konteks van rekenaarsekuriteit is `n kapper iemand wat swakplekke in `n rekenaarstelsel of -netwerk opspoor en uitbuit. Sy motivering kan finansieël wees, `n platform vir protes of bloot net omdat dit `n uitdaging bied.

Met tyd, en deels te danke aan die media, is die assosiasie met die woord hacker grotendeels `n negatiewe een. Eric S. Raymond (skrywer van The New Hacker’s Dictionary) voer aan dat lede van die ondergrondse rekenaarbeweging eerder crackers genoem moet word.  Volgens  R.D. Clifford (2006) is `n cracker iemand wat ongemagtigde toegang tot `n rekenaar verkry met die doel om `n misdaad te pleeg, byvoorbeeld om inligting binne die bepaalde stelsel te vernietig.

Die woord hacker is die afgelope tyd teruggeeis deur rekenaarprogrammeerders wat saamstem met Raymond se teorie dat diegene wat vir krininele doeleindes hack, eerder `n cracker genoem moet word. Subgroepe van die ondergrondse rekenaarkultuur het verskillende benaderings ten opsigte van die twee definisies en gebruik verskillende terme om hulself te onderskei van ander groepe.

 `n White hat breek nie by stelsels in met kwaadwillige bedoelings of voorbedagte rade nie, maar eerder om hul eie sekuriteit te beproef of namens `n maatskappy wat sekuriteit-sagteware vervaardig. In internet slang verwys white hat  na `n etiese kuberkraker.

 ‘n Black hat skend rekenaarsekuriteit vir sy eie voordeel. Hulle is die stereotipiese kriminele krakers wat dikwels in populêre kultuur, soos flieks, uitgebeeld word. Black hats breek by sekure netwerke in om data te vernietig of om die netwerk onbruikbaar te maak vir diegene wat toegang daartoe het.

`n Grey hat  probeer inbreek by `n stelsel bloot om die administrateur daarop te wys dat sy stelsel `n veiligheidsdefek het. Hulle bied aan om hierdie fout reg te maak – teen `n koste natuurlik.

`n Blue hat toets stelsels voordat dit bekendgestel word sodat swakplekke bepaal en gekorrigeer kan word. Hulle is tipies nie deel is van `n rekenaar sekuriteitsfirma nie. 

Ander terme sluit in `n script kiddie (iemand wat nie `n kundige is nie en ander se sagteware gebruik om te hack) en `n neophyte, “n00b”, of “newbie” is `n beginner wat nog kennis en ondervinding moet opdoen.

`n Hacktivist is `n hacker wat tegnologie misbruik om sy sosiale, ideologiese of politieke boodskap oor te dra. Die skending van die US-webwerwe vroeër die week is `n voorbeeld van hactivism.

[BRON: www.wikipedia.org]

Oppas vir SIM-kaart omruilbedrog

Vrydag, Februarie 22nd, 2013

Dis `n bekende kuberstrik, maar as dit met een van jou kollegas gebeur, word dit skielik `n realiteit en groter moontlikheid dat dit ook met jou kan gebeur. SIM-kaart bedrog vind plaas as kuberkriminele `n SIM-kaart ruiling gebruik om jou sekuriteitsboodkappe en eenmalige wagwoorde, gestuur deur jou bank, te bekom. Deur die eenmalige wagwoord te gebruik, kan begunstigdes se detail verander word, nuwes byvoeg en fondse uit jou rekening oorgedra deur jou persoonlike inligting te gebruik. 

Gedurende die afgelope vakansie het een van ons Tygerberg-kollegas R20 000 op hierdie wyse verloor en versoek dat ons ander personeel ook  waarsku.

Hoe werk `n SIM-kaart omruiling?

  • `n SIM-kaart omruiling vind plaas nadat kuberskelm jou bank aantekeninligting geoes het, omdat jy op `n “phishing” e-pos reageer het. (Hierdie is een van die redes hoekom “phishing” e-posse so gevaarlik is en jy nooit daarop moet reageer of op die skakels in dié e-posse moet kliek nie.)  
  • Sodra die persoon jou selfoonnommer en ander persoonlike inligting in die hande gekry het, kan hy jou identiteit aanneem en `n nuwe SIM-kaart versoek van jou selfoonverskaffer. 
  • Die selfoonverskaffer dra jou SIM-kaart identiteit oor na die nuwe SIM-kaart en kanselleer die ou kaart. 
  • Geen sein word vanaf die ou SIM-kaart ontvang nie en geen SMS’e kan gestuur of oproepe kan gemaak word nie.  Hierdie is die eerste teken dat daar fout is, ook as jy die boodskap “SIMCARD INVALID” kry.
  • Die SMS-magtiging verwysingsnommer, wat normaalweg aan die klient gestuur word, bereik die kuberkraker ipv jou, die geldige eienaar, en hy kan eenmalige betalings maak en begunstigdes skep. 

Wat moet ek doen as ek `n onwettige SIM-omruiling vermoed? 

  • Indien jy die slagoffer is van `n onwettige SIM-omruiling of vermoed dat jy moontlik is, skakel dadelik jou selfoonverskaffer vir hulp.
  • Kontak jou internetbankdienste hulplyn en versoek dat internetdienstetoegang onmiddellik beëindig word. Dit sal voorkom dat die skuldiges toegang tot jou rekeninge verkry. 

Wat kan jy doen om SIM-kaartbedog te voorkom?

  • Beskerm jou informasie – al jou informasie.
  • Moet nooit jou ID-nommer verskaf tensy jy doodseker is van die geldigheid van `n webwerf nie. Die bank het reeds jou ID-nommer en sal dit nie weer vra nie. 
  • Moenie jou selfoonnommer verskaf op webwerwe tensy jy die egtheid van die webwerf geverifieer het nie. “Phishing” webwerwe versoek gewoonlik inligting soos `n ID-nommer, e-posadres en e-pos adres wagwoord.
  • Maak altyd seker dat jou kontakdetails op internetbankdienste geldig en korrek is. Wanneer jou inligting verander, dateer dit op by op internet bankdienste of by jou plaaslike bank.  

[INLIGTING VERSKAF DEUR DAVID WILES]

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.