Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

selfie

Selfies: die risiko werd?

Donderdag, Maart 31st, 2016

Die selfie is so algemeen, ons merk nie eers meer op as iemand in die openbaar `n foto neem met `n selfie-stok, of te wel, `n  Naricisstick, nie. Volgens Michael Weigold, van die Universiteit van Florida, word beraam dat daagliks tussen een miljoen en 93 miljoen selfies geplaas word met Android-fone alleen. (http://businesstech.co.za

Ja, dit is soms irriterend en indringerig, maar dis tog net onskuldige pret?

Die teenoorgestelde blyk waar te wees in sommige gevalle. 

Vanjaar in Februarie is `n bedreigde La Plata babadolfyntjie in Argentinië dood as gevolg van trauma en hitte-uitputting, omdat `n groep toeriste selfies daarmee op die strand wou neem.

In Maart gryp `n toeris `n swaan uit `n meer in Macedonië vir `n selfie en kort daarna beswyk dit.

Selfs al is jy nie `n dierliefhebber nie, bedreig die selfie ook menselewens (hoewel ‘n paar van hierdie gevalle dalk kwalifiseer vir Darwin-toekennings?)

In 2015 loods Rusland `n veldtog om te waarsku teen die gevare van selfies  — “A cool selfie could cost you your life”. Inderdaad.

Blykbaar is `n honderd Russe reeds dood as gevolg van selfies. Dit sluit `n vrou in wat haarself per ongeluk geskiet het, twee mans wat hulle misgis het met `n handgranaat en ander wat waaghalsig bo-op bewegende treine poseer het.

In Seville, Spanje, het `n Poolse toeris van `n brug geval terwyl sy `n selfie wou neem. In Mei 2014 verloor `n Cessna-loods beheer oor sy vliegtuig en verongeluk homself en sy passasiers — vir `n selfie.

Dinsdag is `n Egyptian Airline-vliegtuig gekaap en `n Britse man het die geleentheid aangegryp om `n selfie saam met die kaper te neem. Hy’t gereken hy’t in elk geval niks om te verloor nie. 

Gister moes `n Britse vrou gered word vanaf Brittanje se hoogste berg, Ben Nevis, omdat sy nie behoorlik toegerus was vir die weertoestande toe sy `n selfie wou neem nie. Meer oor selfie-verwante sterftes op CNN.

Wat dryf iemand om homself in gevaar te stel om bloot `n “cool” foto te neem?

Dalk die behoefte om onsself te bewys en vergelyk met ander? Met sosiale media is dit net soveel makliker om te doen en dadelik kommentaar en reaksie te kry.

Michael Weigold van die Universiteit van Florida het `n artikel in The Conversation publiseer waar hy hierdie vraag ondersoek. Hy verwys ook na navorsing deur die sielkundige Gwendolyn Seidman.

Dr Seidman beweer dat daar `n skakel tussen narsissisme en selfies is en baseer haar navorsing op twee steekproewe wat fokus op Facebook-selfies. Lees gerus dr Seidman se artikel in Psychology Today en besluit self. Laat weet ons wat jy dink van selfies en hoekom jy dink dis so populêr?

Een, twee, drie, blok my selfie

Vrydag, Julie 25th, 2014

Deesdae neem al wat leef en beef ‘selfies’ – bekendes, politici, musikante … Die woord word so algemeen gebruik, die Oxford English Dictionary monitor dit reeds vir moontlike insluiting by sy aanlyn weergawe. In 2012 is dit deur Time magazine as een van die jaar se Top 10 gonswoorde beskou.

`n ‘Selfie’ word gedefinieer as `n selfportret, geneem met `n handtoestel (`n digitale kamera of selfoon) `n armlengte weg. Dit word gewoonlik op sosiale netwerke soos Twitter, Instagram of Facebook versprei.

Die neem van selfportrette het reeds in die vroeë 2000’s populêre geraak met die “MySpace pic” – `n onprofessionele foto wat normaalweg voor `n spieël geneem is. Ook Flickr het in 2009 die woord begin gebruik om die eindelose fotos wat tienermeisies van hulleself op dié netwerk geplaas het, te beskryf.

Maar is ‘selfies’ regtig so `n nuwe verskynsel soos ons dink?

[Foto: Twitter / @TheRealBuzz]

Buzz_Aldrin_EVA_Selfie

Ruimtevaarder Buzz Aldrin beweer hy het die eerste ‘selfie’ geneem in 1966 toe hy, as deel van `n opleidingsessie in 1966, homself afgeneem het.

Ongelukkig vir Mnr Aldrin was daar iemand wat hom voorgespring het 127 jaar tevore. In 1839 het Robert Cornelius, `n Amerikaanse baanbreker in fotografie, homself afgeneem. Ander historiese selfportrette sluit Joseph Byron (1909) en die Russiese hertogin Anastasia Nikolaevna (1914) in.

Sommige sê die fenomeen is `n aanduiding van die self-gesentreerde samelewing waarin ons leef – ander beweer dit dui op ons toenemende tegnologiese ingesteldheid. Hoe dit ookal sy en wat jou opinie daaroor is, ‘selfies’ is, vir nou, hier om te bly. Tot die volgende tegnologiese gril in elk geval.

[

BRON: www.wikipedia.org]

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.