Ek was ook die houer van ’n Staatsdiensbeurs en het my verpligtinge teenoor die Staat begin afwerk as Staatsaanklaer in Bloemfontein in 1967, waar ek ook as Advokaat toegelaat is.
Twee jaar later is ek as Staatsadvokaat verplaas na die kantoor van die Prokureur-Generaal in Grahamstad. Justisie wou my na twee jaar verplaas na die Staatsregsadviseurs in Pretoria, maar gelukkig het net toe ’n vakature vir ’n Staatsadvokaat in Windhoek ontstaan waarvoor vrywilligers aangevra is. Ek het dit aangegryp. Na ’n verdere twee jaar is ek terug verplaas Grahamstad toe as Senior Staatsadvokaat. My verblyf daar het drie jaar geduur, waarna ek aangestel is as Adjunk Prokureur- Generaal in Pretoria. In 1977 is ek deur die Staatspresident vereer met die toekenning van Senior Consultus. In 1982 is weer geluide gemaak van ’n oorplasing na die Staatsregs- adviseurs. Dit het my laat besluit om te bedank en ek het aangesluit by die Pretoria Balie. Dit het daar met my goed gegaan. Ek is aangestel as ’n lid van die Algemene Balieraad se Eksamenraad. My praktyk het my geneem na elke Hooggeregshof in Suid-Afrika behalwe Kimberley. In 1985 het ek ’n opdrag uit Port Elizabeth ontvang wat uiteindelik tot gevolg gehad het dat my hele praktyk Oos-Kaap toe geskuif het, alhoewel ek my kamers in Pretoria behou het.
In 1986 is ek aangestel vir ’n tydperk van agt maande as Waarnemende Regter in die Oos-Kaap. Ek het nog ’n belangrike opdrag gehad om as Advokaat af te handel, waarna ek op 1 Junie 1988 permanent as Regter Van die Oos-Kaapse Hooggeregshof aangestel is met my setel in Port Elizabeth. Op 15 Desember 2009 is ek deur die President van aktiewe diens onthef (ek het afgetree op 65).
Ek wil graag enkele name noem van uitstaande Regsgeleerdes wat ek die eer gehad het om teen te verskyn as Advokaat: Sydney Kentridge QC, Issy Maisels QC, Aaron Mendelow QC, Theunie Steyn SC en Johann Kriegler SC (laasgenoemde twee was die beste kruisverhoorders wat ek ooit teengekom het).
Regters voor wie ek verskyn het as Advokaat wat besondere indruk op my gemaak het sluit in: Rumpff HR, Jansen AR, Wessels AR, Van Heerden AR, Boshoff AR, Jennett JP (Oos-Kaap), Eksteen R (soos hy toe was, in Oos-Kaap) en Charl Theron R (TPD)
Vir die interessantheid: Dikgang Ernest Moseneke, Adjunk Hoofregter, het kamers in dieselfde gang as ek by die Pretoria Balie gehad en het later voor my in die Hooggeregshof in Grahamstad verskyn. Edwin Cameron, Regter in die Grondwethof, was verreweg die beste pupil gedurende die tyd wat ek op die Balie Eksamenraad gedien het. Die langste saak wat ek aangehoor het (Bedrog en Diefstal) het 18 maande geduur met die Staat se deskundige rekenmeester-getuie 3 maande in die getuiebank. Sewe advokate het vyf dae lank in ’n Mosie-aansoek voor my betoog. Ek het die hele Desember reses aan die uitspraak gewerk. Ek het verlof om te appelleer toegestaan, maar Corbett HR het die regsverteenwoordigers van die partye na Bloemfontein ontbied waar hy hulle meegedeel het dat die appel nie aangehoor gaan word nie. Die hoogste bedrag skadevergoeding wat ek aan ’n eiser toegeken het, was R13 miljoen.
Toe ek in Pretoria gebly het, het my bloed Blou geword en is dit nog steeds. Ek het daar ook weer begin oefen en betrokke geraak by Tweekamp (Biathlon) en eers Noord Transvaal en daarna Oostelike Provinsie altesaam 31 keer op Nasionale Kampioenskappe verteenwoordig, en in totaal meer as 100 keer aan inter-provinsiale byeenkomste deelgeneem. Ek was ook Voorsitter van die Noord Transvaalse Tweekampvereniging en later ook vir 18 jaar Voorsitter van Oostelike Provinsie Tweekamp. Ek was vanaf 1997 tot 2013 President van SA Tweekamp. Ek was bevoorreg om meer as een keer op te tree as Bestuurder van Nasionale Tweekampspanne tydens Internasionale kompetisies. As Meestersatleet het ek Suid-Afrika by ’n Biathle Wêreldkampioenskaps byeenkoms in Monaco verteenwoordig, asook etlike kere tydens kompetisies wat deur Suid-Afrika en Engeland aangebied is.
Tussendeur het ek op ’n uitdaging besluit om ook die Comrades Marathon aan te durf en het dit vanaf 1989 tien keer op ’n ry met sukses gedoen. In my eerste jaar as Meester (bo 50) was ek die Oostelike Provinsie Meesters Marathonkampioen. Na ’n redelike ernstige besering het ek in 2011 ophou kompeteer, maar bly redelik fiks deur op mooi dae te gaan stap langs die see, en andersins te gaan gym.
Ek het vier kinders, drie seuns en ’n dogter. Die oudste twee seuns het albei Regte studeer aan die destydse UPE. Die oudste het nie verder gekom as B.Juris nie en is tevrede om hier in die Oos Kaap in die Streekshof aan te kla, en die ander een het B.Juris, Ll.B gekry en praktiseer as ’n Prokureur in Port Elizabeth. (Ek het my kinders se ma lewend verloor)
Ek is nou vir 18 jaar getroud met Elma. Dit is sy wat saam met my op die foto verskyn wat ons verlede jaar in Southampton geneem het. Ons maak vir ons geleenthede om elke jaar oor en op die water te toer, en wildtuine in Suidelike Afrika te besoek. Ek drink elke dag ’n bier of twee en ons eet nie saans sonder ’n glasie rooi wyn (of twee) nie.
Ek sien baie uit na ons reünie.
Leave a Reply