Ek het Januarie 1966 as Ingeskrewe Klerk op Malmesbury by Pierre du Plessis en Shapiro begin werk. Oom Pierre du Plessis se eerste woorde aan my was: “Jy moet onthou ‘n slegte skikking is beter as ‘n goeie hofsaak.” Hierdie woorde, het deur my hele loopbaan, by my gebly en as ‘n soort rigtingaanwyser gedien.
Ek sou die volgende jaar by Sygolo in Kaapstad gaan werk hoofsaaklik om my Engelse studies voort te sit (onthou ek het Engels Spes III geslaag met “Mr Brown” se hulp en het nie die “klas afgebrand” nie!) Ek moes maar ‘n jaar herhaal! (English can not fall).
‘n Prokureur op Piketberg het my egter ‘n koninklike salaris van R180-00 per maand aangebied en Mammon het gewen, tot my spyt. Ek het geen ondervinding opgedoen nie en moes ook my toelatings eksamen herhaal.
Januarie 1969 begin het ek by Marais Pienaar en Vennote begin werk en is in Maart 1969 toegelaat en ek en Hannetjie Elema, ‘n onderwyseres en aktriese is getroud op 29 Maart 1969. Ek werk in die Aktes en Boedel Afdeling en word ook as Aktebesorger toegelaat.
Ons oudste dogter, Maresa, is op 1 April 1971 gebore. Junie 1971 verhuis ons na Vryburg waar ek later ‘n vennoot word by Du Plessis Viviers & Kie. Ons tweede dogter, Jacolene, is op 24 April 1972 daar gebore.
Ons was nie gelukkig nie en alhoewel die inkomste goed was, het Mammon hierdie keer verloor. Ek bedank summier in Oktober 1975 en ons trek terug Kaapstad toe werkloos. Ons hoor deur De Rebus van ‘n praktyk in Durbanville wat te koop is. Dit is die firma Krige en Van Rensburg, die oudste firma op die dorp en die prys ‘n hele R4,000-00. Geen personeel en ‘n klomp ou meubels, antieke tikmasjien, asook ‘n kas vol afgehandelde lêers. My bank, Volkskas, weier ‘n lening van R5,000-00.
Standard Bank se ‘ja’, want die Verkoper skuld hulle R3,000-00 en ek is seker ‘n beter risiko vanweë my ouderdom. Daarna weier hul ‘n verdere lening van R1,600-00! Ek skep my eie kredietlyn tussen my tjekboek en kredietkaart en oorleef.
Ons koop en ek en Hannetjie begin dadelik werk. Sy is ontvangsdame en tikster terwyl ek probeer besig en belangrik lyk agter ‘n lessenaar vol afgehandelde lêers. Dit was Hannetjie se plan en dit het gewerk!
Die eerste maand verdien ons ‘n volle R178-00. Ek is 33 jaar oud met ‘n vrou en twee kinders.
Gedurende 1976 trek ons na kantore in die Hoofstraat en ons huur styg van R50-00 per maand na R150-00 per maand, maar die praktyk tel kop op en raak sterker. Andre Kruger sluit as vennoot aan in 1978 en doen die hofwerk waarvan ek geen ondervinding het nie. Nadat Andre begin het het die praktyk goed gegroei en kliënte het stadig maar seker meer geword. Ons ander twee dogters is daarna gebore. Hanri op 25 Mei 1979 en Lindi op 4 April 1980.
Ons het later ons eie kantoorgebou in Wellington Weg, Durbanville gekoop en op 11 Desember 2015 was Smit Kruger Ingelyf 40 jaar oud.
Ek het 7 jaar gelede afgetree, maar help nog nou en dan uit. Tans bestaan die firma uit 3 vennote, 3 proffessionele assistente en ‘n personeel van 16 werknemers en dit groei steeds. Talle van ons eerste kliënte is steeds by ons.
Toe ek afgetree het het ek en Hannetjie ‘n motorhome gekoop en die land en buurstate platgery tot ons genoeg gehad het van Afrika se vlaktes.
Ons het 4 kleinkinders (2 dogters en 2 seuns). Die kleinseuns is Jacolene se kinders en bly in Holland. Die ander drie is plaaslik in Welgedacht, Durbanville, en Woodstock.
Hannetjie is steeds bedrywig met toneel en TV advertensies maak en ek is haar “chaffeur” en “bestuurder”.
Ek het ‘n wonderlike tyd as Prokureur gehad en het elke oomblik geniet en het die vreugde gesmaak om my eie ding te doen! (“I did it my way!”). Ek en Hannetjie is nou 47 jaar getroud en hou ons besig om als te geniet wat ons doen.
“Who cares how old you are?
Life’s journey is not to arrive at the grave in a well preserved body but rather skid in sideways totally worn out shouting:
Holy Shit… What a ride!!!”
Groete,
Herman (Ertjies) en Hannetjie Smit
Leave a Reply