In Februarie 1967 begin ek as staatsaanklaer te Kimberley. Gedurende April/Mei woon ek ‘n aanklaerskursus by saam met 8 klasmaats, Andre, Attie, Poen, Hokkie, Chris, Danie, Gielie en Hester. In dieselfde jaar meld ek aan vir 9maande “army” en daarna by die PG in Pretoria as staatsadvokaat. Teen einde 1971 trou ek met n oud-Tukkie, Sybel , groet die Staatsdiens en sluit by ‘n prokureursfirma in Krugersdorp aan. Ek word toegelaat in 1973 en werk as professionele assistent saam met wyle Servaas Greeff. In 1978 aanvaar ek ‘n pos as regsadviseur by die Stadsraad van Krugersdorp en in 1982 word ek Hoofregsadviseur by Roodepoort Stadsraad.
In 1994 dring die begeerte na die platteland (en boerdery) my om die pos as stadsklerk (deesdae mun. bestuurder) te Beaufort-Wes te aanvaar. Daar kou ek vir drie jaar harde bene met ‘n klompie agressiewe politici in die nuwe SA. In 1997 klim ek uit, koop grond en begeef my terug in die praktyk (alleen) te Beaufort-Wes. Ek doen hoofsaaklik hofwerk en arbeidsreg en boer tussenin. Ek dien ook as munisipale raadslid in opposisiegeledere in ‘n vrugtelose poging om orde en geregtigheid te bevorder. Teen einde 2004 tree ek uit en ons verhuis na Outeniquastrand, tussen George en Mosselbaai. Ek doen hier nog opdragte vir munisipaliteite op aanvraag (dissiplinere verhore ens.) en boer voort 30 km noord van Meiringspoort in die Groot- Karoo met skaap en wild.
Ons het ‘n dogter en twee seuns wat aldrie na skool oorsee geswerf het. Hulle is relatief laat getroud en daar is nog net een kleinseun – ons hou duim vas vir nog. Hulle is terug in die land, ‘n sielkundige en twee ingenieurs.; ook oud-Maties. Ek en my vrou speel gereeld tennis en het sedert 1995 tot onlangs vir SWD Seniors gespeel. Tussen 1990 en 1994 het ek ook padwedlope gedoen, insluitend die Twee Oseane en Comrades (elk een keer). Die drang het gou oorgewaai. Ons het vroeer voetslaanroetes saam met die kinders gestap en het as Ereveldwagters vrywillige diens gedoen in Sanparke (Karoo, Tsitsikamma en Wildernis). Tans toer ons graag en kamp waar nodig. Ons is gemiddeld een week per maand op die plaas.
Ek is nog spyt dat ek 1991 se reunie misgeloop het en sien baie uit na die naweek van 8 April. Ek sluit ‘n paar fotos in sodat daar vooraf geskrik of gelag kan word. Een is van Dirk, Riza en Pieter en die ander van my en Sybel. Ek stuur die storie op voorwaarde dat ek nie by die reunie ‘n mondeling doen nie – die manne wat nie stuur nie sal moet praat! Sien julle daar.

Dirk, Riza en Pieter

Sybel en Dawie
Leave a Reply