Stellenbosch University

Day: April 6, 2016

James Fourie

George het my geinspireer om ook kortliks my storie te vertel. Ek het direk na LLB op Alexandria in die Oos Kaap gaan article aangesien my plan was om prokureur en boer te wees. Op die ou einde was ek nog prokureur nog boer. (My vrou Mari se ek sou in elk geval ‘n vrot boer gewees het aangesien ek nie van tuinmaak hou nie). In Julie 1969 is ek ‘n Senior Lektoraat in Handelsreg by UPE aangebied wat ek aanvaar het. Na ‘n jaar daar het Stellenbosch se Dept Handelsreg (in die Handels Fakulteit) my ‘n Senior Lektoraat aangebied.

In 1978 het ek my doktorsgraad in Arbeidsreg verwerf en is kort daarna by die Regsfakulteit  aangestel. Dit was vir my ‘n groot eer om kollegas te kon hê wat vroëer my dosente was. Ek het oor die jare Arbeidsreg, Maatskapppye, vennnootskappe, trusts,  belasting en boedelbeplanning doseer. Daarna het ek my professoraat verwerf en het op sestigjarige ouderdom afgetree nadat ek 13 jaar Dekaan was. As Dekaan het ek op meeste komitees van die Universiteit gedien oa as Senaatsverteenwoordiger op die Raad van die US. Na aftrede het ek nog ‘n paar joppies gedoen en is tans nog ‘n Raadslid van die DA op  die Stell Munisipaliteit.

Ek en Mari is middel 1968 getroud (sy was die meisie wat ek in my finalejaar ontmoet het). Ons het drie kinders wat almal getroud is. Marthinus woon op Stellenbosch en werk in die Kaap, Pieter is ‘n fondsbestuurder in Londen en Katrien boer in Windhoek distrik waar haar man ‘n bankier is. Ons het 9 kleinkinders wat vir ons ‘n verskoning bied om dikwels te reis (en ook te jag).

Sien uit om julle Vrydag te sien.

Ons twee seuns en hul vrouens aan die regterkant en ons dogter (in groen) langs haar man.

Ons twee seuns en hul vrouens aan die regterkant en ons dogter (in groen) langs haar man.

George Pretorius

Ek het ‘articles’ in Kaapstad gedoen (1967/8) en het aan die begin van 1969 by Cliffe Dekker en Todd (nou Cliffe Dekker Hofmeyr) in Johannesburg aangesluit. Ek het op 1 Maart 1971 `n vennoot geword en was vir meer as dertig jaar by hulle.

Sedert Februarie 2000 bly ons op Erinvale, Somerset Wes. Ek praktiseer nie meer nie, maar is nog omtrent voltyds besig. Ek kry aanstellings as arbiter en tree op as konsultant vir kliënte – meestal te doen met konstruksie – en ingenieursgeskille, `n veld waarin ek al vir baie jare spesialiseer (ek het in 1969 my eerste arbitrasie gedoen en Oud-Regter Arthur Chaskalson, toe nog `n junior, was ons advokaat).Ek werk van die huis af en my vrou is my sekretaresse.

Ek is in Desember 1966 met Brenda (neè Joubert) getroud, wat ons tyd op Stellebosch was (Latyn en Engels).  Ons het drie kinders gebore in die 70’s , twee dogters en `n seun, twee nou in Amerika en een in Australië, en net twee kleinkinders.

Ek sien gereeld vir Poen en Prof Dean (en hulle vrouens Linda en Dana), en minstens eenmaal per jaar vir Bill. Ek het oor die jare kontak gehou met Frederick (Freddie) (Professor emeritus) en Julie. Hulle het naby ons in Johannesburg gewoon. Ek het tot redelik onlangs kontak gehad met James (ons klas is trots dat hy dekaan van die Regsfakulteit geword het!)

Die Deans en ons kom`n lang pad saam. Owen was my “best-man” op ons troue en Dana was saam met my vrou in dieselfde klas op skool. Maar pasop vir Dana – sy het eenmaal in `n restaurant `n potjie suiker op my kop omgekeer omdat ek haar te veel geterg het, en sy leef om die storie te vertel.

Die bietjie hare wat ek oor het (meer as Pieter le Roux) is wit, maar ek kan nog maklik my tone sien.

Daar het julle dit. Vrae sal nie toegelaat word nie, tensy dit op skrif en in Engels is.

© 2025 LLB Reunion 1966

Theme by Anders NorenUp ↑