Ek het ‘articles’ in Kaapstad gedoen (1967/8) en het aan die begin van 1969 by Cliffe Dekker en Todd (nou Cliffe Dekker Hofmeyr) in Johannesburg aangesluit. Ek het op 1 Maart 1971 `n vennoot geword en was vir meer as dertig jaar by hulle.

Sedert Februarie 2000 bly ons op Erinvale, Somerset Wes. Ek praktiseer nie meer nie, maar is nog omtrent voltyds besig. Ek kry aanstellings as arbiter en tree op as konsultant vir kliënte – meestal te doen met konstruksie – en ingenieursgeskille, `n veld waarin ek al vir baie jare spesialiseer (ek het in 1969 my eerste arbitrasie gedoen en Oud-Regter Arthur Chaskalson, toe nog `n junior, was ons advokaat).Ek werk van die huis af en my vrou is my sekretaresse.

Ek is in Desember 1966 met Brenda (neè Joubert) getroud, wat ons tyd op Stellebosch was (Latyn en Engels).  Ons het drie kinders gebore in die 70’s , twee dogters en `n seun, twee nou in Amerika en een in Australië, en net twee kleinkinders.

Ek sien gereeld vir Poen en Prof Dean (en hulle vrouens Linda en Dana), en minstens eenmaal per jaar vir Bill. Ek het oor die jare kontak gehou met Frederick (Freddie) (Professor emeritus) en Julie. Hulle het naby ons in Johannesburg gewoon. Ek het tot redelik onlangs kontak gehad met James (ons klas is trots dat hy dekaan van die Regsfakulteit geword het!)

Die Deans en ons kom`n lang pad saam. Owen was my “best-man” op ons troue en Dana was saam met my vrou in dieselfde klas op skool. Maar pasop vir Dana – sy het eenmaal in `n restaurant `n potjie suiker op my kop omgekeer omdat ek haar te veel geterg het, en sy leef om die storie te vertel.

Die bietjie hare wat ek oor het (meer as Pieter le Roux) is wit, maar ek kan nog maklik my tone sien.

Daar het julle dit. Vrae sal nie toegelaat word nie, tensy dit op skrif en in Engels is.