Stellenbosch University

Author: cobusj (Page 2 of 2)

Dawie Uys

In Februarie 1967 begin ek as staatsaanklaer te Kimberley. Gedurende April/Mei woon ek ‘n aanklaerskursus by saam met 8 klasmaats, Andre, Attie, Poen, Hokkie, Chris, Danie, Gielie en Hester. In dieselfde jaar meld ek aan vir 9maande “army” en daarna by die PG in Pretoria as staatsadvokaat. Teen einde 1971 trou ek met n oud-Tukkie, Sybel , groet die Staatsdiens en sluit by ‘n prokureursfirma in Krugersdorp aan. Ek word toegelaat in 1973 en werk as professionele assistent saam met wyle Servaas Greeff. In 1978 aanvaar ek ‘n pos as regsadviseur by die Stadsraad van Krugersdorp en in 1982 word ek Hoofregsadviseur by Roodepoort Stadsraad.

In 1994 dring die begeerte na die platteland (en boerdery) my om die pos as stadsklerk (deesdae mun. bestuurder) te Beaufort-Wes te aanvaar. Daar kou ek vir drie jaar harde bene met ‘n klompie agressiewe  politici in die nuwe SA. In 1997 klim ek uit, koop grond en begeef my terug in die praktyk (alleen) te Beaufort-Wes. Ek doen hoofsaaklik hofwerk en arbeidsreg en boer tussenin. Ek dien ook as munisipale raadslid in opposisiegeledere in ‘n vrugtelose poging om orde en geregtigheid te bevorder. Teen einde 2004 tree ek uit en ons verhuis na Outeniquastrand, tussen George en Mosselbaai. Ek doen hier nog opdragte vir munisipaliteite op aanvraag (dissiplinere verhore ens.) en boer voort 30 km noord van Meiringspoort in die Groot- Karoo met skaap en wild.

Ons het ‘n dogter en twee seuns wat aldrie na skool oorsee geswerf het. Hulle is relatief laat getroud en daar is nog net een kleinseun – ons hou duim vas vir nog. Hulle is terug in die land, ‘n sielkundige en twee ingenieurs.; ook oud-Maties. Ek en my vrou speel gereeld tennis en het sedert 1995 tot onlangs vir SWD Seniors gespeel. Tussen 1990 en 1994 het ek ook padwedlope gedoen, insluitend die Twee Oseane en Comrades (elk een keer). Die drang het gou oorgewaai. Ons het vroeer voetslaanroetes saam met die kinders gestap en het as Ereveldwagters vrywillige diens gedoen in Sanparke (Karoo, Tsitsikamma en Wildernis). Tans toer ons graag en kamp  waar nodig. Ons is gemiddeld een week per maand op die plaas.

Ek is nog spyt dat ek 1991 se reunie misgeloop het en sien baie uit na die naweek van 8 April. Ek sluit ‘n paar fotos in sodat daar vooraf geskrik of gelag kan word. Een is van Dirk, Riza en Pieter en die ander van my en Sybel. Ek stuur die storie op voorwaarde dat ek nie by die reunie ‘n mondeling doen nie – die manne wat nie stuur nie sal moet praat! Sien julle daar.

Dirk, Riza en Pieter

Dirk, Riza en Pieter

 

Sybel en Dawie

Sybel en Dawie

Herman Smit

Ek het Januarie 1966 as Ingeskrewe Klerk op Malmesbury by Pierre du Plessis en Shapiro begin werk. Oom Pierre du Plessis se eerste woorde aan my was: “Jy moet onthou ‘n slegte skikking is beter as ‘n goeie hofsaak.” Hierdie woorde, het deur my hele loopbaan, by my gebly en as ‘n soort rigtingaanwyser gedien.

Ek sou die volgende jaar by Sygolo in Kaapstad gaan werk hoofsaaklik om my Engelse studies voort te sit (onthou ek het Engels Spes III geslaag met “Mr Brown” se hulp en het nie die “klas afgebrand” nie!) Ek moes maar ‘n jaar herhaal! (English can not fall).

‘n Prokureur op Piketberg het my egter ‘n koninklike salaris van R180-00 per maand aangebied en Mammon het gewen, tot my spyt. Ek het geen ondervinding opgedoen nie en moes ook my toelatings eksamen herhaal.

Januarie 1969 begin het ek by Marais Pienaar en Vennote  begin werk en is in Maart 1969 toegelaat en ek en Hannetjie Elema, ‘n  onderwyseres en aktriese is getroud op 29 Maart 1969. Ek werk in die Aktes en Boedel Afdeling en word ook as Aktebesorger toegelaat.

Ons oudste dogter, Maresa, is op 1 April 1971 gebore. Junie 1971 verhuis ons na Vryburg waar ek later ‘n vennoot word by Du Plessis Viviers & Kie. Ons tweede dogter, Jacolene, is op 24 April 1972 daar gebore.

Ons was nie gelukkig nie en alhoewel die inkomste goed was, het Mammon hierdie keer verloor. Ek bedank summier in Oktober 1975 en ons trek terug Kaapstad toe werkloos. Ons hoor deur De Rebus van ‘n praktyk in Durbanville wat te koop is. Dit is die firma Krige en Van Rensburg, die oudste firma op die dorp en die prys ‘n hele R4,000-00. Geen personeel en ‘n klomp ou meubels, antieke tikmasjien, asook ‘n kas vol afgehandelde lêers. My bank, Volkskas, weier ‘n lening van R5,000-00.

Standard Bank se ‘ja’, want die Verkoper skuld hulle R3,000-00 en ek is seker ‘n beter risiko vanweë my ouderdom. Daarna weier hul ‘n verdere lening van R1,600-00! Ek skep my eie kredietlyn tussen my tjekboek en kredietkaart en oorleef.

Ons koop en ek en Hannetjie begin dadelik werk. Sy is ontvangsdame en tikster terwyl ek probeer besig en belangrik lyk agter ‘n lessenaar vol afgehandelde lêers. Dit was Hannetjie se plan en dit het gewerk!

Die eerste maand verdien ons ‘n volle R178-00. Ek is 33 jaar oud met ‘n vrou en twee kinders.

Gedurende 1976 trek ons na kantore in die Hoofstraat en ons huur styg van R50-00 per maand na R150-00 per maand, maar die praktyk tel kop op en raak sterker. Andre Kruger sluit as vennoot aan in 1978 en doen die hofwerk waarvan ek geen ondervinding het nie. Nadat Andre begin het het die praktyk goed gegroei en kliënte het stadig maar seker meer geword. Ons ander twee dogters is daarna gebore. Hanri op 25 Mei 1979 en Lindi op 4 April 1980.

Ons het later ons eie kantoorgebou in Wellington Weg, Durbanville gekoop en op 11 Desember 2015 was Smit Kruger Ingelyf 40 jaar oud.

Ek het 7 jaar gelede afgetree, maar help nog nou en dan uit. Tans bestaan die firma uit 3 vennote, 3 proffessionele assistente en ‘n personeel van 16 werknemers en dit groei steeds. Talle van ons eerste kliënte is steeds by ons.

Toe ek afgetree het het ek en Hannetjie ‘n motorhome gekoop en die land en buurstate platgery tot ons genoeg gehad het van Afrika se vlaktes.

Ons het 4 kleinkinders (2 dogters en 2 seuns). Die kleinseuns is Jacolene se kinders en bly in Holland. Die ander drie is plaaslik in Welgedacht, Durbanville, en Woodstock.

Hannetjie is steeds bedrywig met toneel en TV advertensies maak en ek is haar “chaffeur” en “bestuurder”.

Ek het ‘n wonderlike tyd as Prokureur gehad en het elke oomblik geniet en het die vreugde gesmaak om my eie ding te doen! (“I did it my way!”). Ek en Hannetjie is nou 47 jaar getroud en hou ons besig om als te geniet wat ons doen.

“Who cares how old you are?

Life’s journey is not to arrive at the grave in a well preserved body but rather skid in sideways totally worn out shouting:

Holy Shit… What a ride!!!”

 

Groete,

Herman (Ertjies) en Hannetjie Smit

FAMILIE
20140101_125157
motorhome
IMG_6529

Chris Jansen

Ek was ook die houer van ’n Staatsdiensbeurs en het my verpligtinge teenoor die Staat begin afwerk as Staatsaanklaer in Bloemfontein in 1967, waar ek ook as Advokaat toegelaat is.

Twee jaar later is ek as Staatsadvokaat verplaas na die kantoor van die Prokureur-Generaal in Grahamstad. Justisie wou my na twee jaar verplaas na die Staatsregsadviseurs in Pretoria, maar gelukkig het net toe ’n vakature vir ’n Staatsadvokaat in Windhoek ontstaan waarvoor vrywilligers aangevra is. Ek het dit aangegryp. Na ’n verdere twee jaar is ek terug verplaas Grahamstad toe as Senior Staatsadvokaat. My verblyf daar het drie jaar geduur, waarna ek aangestel is as Adjunk Prokureur- Generaal in Pretoria. In 1977 is ek deur die Staatspresident vereer met die toekenning van Senior Consultus. In 1982 is weer geluide gemaak van ’n oorplasing na die Staatsregs- adviseurs. Dit het my laat besluit om te bedank en ek het aangesluit by die Pretoria Balie. Dit het daar met my goed gegaan. Ek is aangestel as ’n lid van die Algemene Balieraad se Eksamenraad. My praktyk het my geneem na elke Hooggeregshof in Suid-Afrika behalwe Kimberley. In 1985 het ek ’n opdrag uit Port Elizabeth ontvang wat uiteindelik tot gevolg gehad het dat my hele praktyk Oos-Kaap toe geskuif het, alhoewel ek my kamers in Pretoria behou het.

In 1986 is ek aangestel vir ’n tydperk van agt maande as Waarnemende Regter in die Oos-Kaap. Ek het nog ’n belangrike opdrag gehad om as Advokaat af te handel, waarna ek op 1 Junie 1988 permanent as Regter Van die Oos-Kaapse Hooggeregshof aangestel is met my setel in Port Elizabeth. Op 15 Desember 2009 is ek deur die President van aktiewe diens onthef (ek het afgetree op 65).

Ek wil graag enkele name noem van uitstaande Regsgeleerdes wat ek die eer gehad het om teen te verskyn as Advokaat: Sydney Kentridge QC, Issy Maisels QC, Aaron Mendelow QC, Theunie Steyn SC en Johann Kriegler SC (laasgenoemde twee was die beste kruisverhoorders wat ek ooit teengekom het).

Regters voor wie ek verskyn het as Advokaat wat besondere indruk op my gemaak het sluit in: Rumpff HR, Jansen AR, Wessels AR, Van Heerden AR, Boshoff AR, Jennett JP (Oos-Kaap), Eksteen R (soos hy toe was, in Oos-Kaap) en Charl Theron R (TPD)

Vir die interessantheid: Dikgang Ernest Moseneke, Adjunk Hoofregter, het kamers in dieselfde gang as ek by die Pretoria Balie gehad en het later voor my in die Hooggeregshof in Grahamstad verskyn. Edwin Cameron, Regter in die Grondwethof, was verreweg die beste pupil gedurende die tyd wat ek op die Balie Eksamenraad gedien het. Die langste saak wat ek aangehoor het (Bedrog en Diefstal) het 18 maande geduur met die Staat se deskundige rekenmeester-getuie 3 maande in die getuiebank. Sewe advokate het vyf dae lank in ’n Mosie-aansoek voor my betoog. Ek het die hele Desember reses aan die uitspraak gewerk. Ek het verlof om te appelleer toegestaan, maar Corbett HR het die regsverteenwoordigers van die partye na Bloemfontein ontbied waar hy hulle meegedeel het dat die appel nie aangehoor gaan word nie. Die hoogste bedrag skadevergoeding wat ek aan ’n eiser toegeken het, was R13 miljoen.

Toe ek in Pretoria gebly het, het my bloed Blou geword en is dit nog steeds. Ek het daar ook weer begin oefen en betrokke geraak by Tweekamp (Biathlon) en eers Noord Transvaal en daarna Oostelike Provinsie altesaam 31 keer op Nasionale Kampioenskappe verteenwoordig, en in totaal meer as 100 keer aan inter-provinsiale byeenkomste deelgeneem. Ek was ook Voorsitter van die Noord Transvaalse Tweekampvereniging en later ook vir 18 jaar Voorsitter van Oostelike Provinsie Tweekamp. Ek was vanaf 1997 tot 2013 President van SA Tweekamp. Ek was bevoorreg om meer as een keer op te tree as Bestuurder van Nasionale Tweekampspanne tydens Internasionale kompetisies. As Meestersatleet het ek Suid-Afrika by ’n Biathle Wêreldkampioenskaps byeenkoms in Monaco verteenwoordig, asook etlike kere tydens kompetisies wat deur Suid-Afrika en Engeland aangebied is.

Tussendeur het ek op ’n uitdaging besluit om ook die Comrades Marathon aan te durf en het dit vanaf 1989 tien keer op ’n ry met sukses gedoen. In my eerste jaar as Meester (bo 50) was ek die Oostelike Provinsie Meesters Marathonkampioen. Na ’n redelike ernstige besering het ek in 2011 ophou kompeteer, maar bly redelik fiks deur op mooi dae te gaan stap langs die see, en andersins te gaan gym.

Ek het vier kinders, drie seuns en ’n dogter. Die oudste twee seuns het albei Regte studeer aan die destydse UPE. Die oudste het nie verder gekom as B.Juris nie en is tevrede om hier in die Oos Kaap in die Streekshof aan te kla, en die ander een het B.Juris, Ll.B gekry en praktiseer as ’n Prokureur in Port Elizabeth. (Ek het my kinders se ma lewend verloor)

Ek is nou vir 18 jaar getroud met Elma. Dit is sy wat saam met my op die foto verskyn wat ons verlede jaar in Southampton geneem het. Ons maak vir ons geleenthede om elke jaar oor en op die water te toer, en wildtuine in Suidelike Afrika te besoek. Ek drink elke dag ’n bier of twee en ons eet nie saans sonder ’n glasie rooi wyn (of twee) nie.

Ek sien baie uit na ons reünie.

Chris en Elma Jansen

Chris en Elma Jansen

Owen Dean

After graduating, and being “verpand aan die Staat”, I joined the Department of Foreign affairs and married Dana in 1967. We then spent four years at the South African Embassy in The Hague, Netherlands. Our son, Ian, and daughter, Carin, were born during this period.

When I returned home in 1972, I left Foreign Affairs and joined Spoor and Fisher, specialist Intellectual Property attorneys. After completing my articles, I became a partner and ultimately Chairman of the firm. My son, Bryan was born shortly after I was admitted as an attorney. I spent 35 years at the Pretoria office of the firm. The firm opened an office in Cape Town and I re-located to that office in 2007. I retired from the firm in 2010, having reached the mandatory retirement age. I, however, remain a consultant to the firm up to the present time.

Shortly after I retired, I was approached to establish a Chair of IP Law at Stellenbosch University. It was to be funded privately by Remgro/Richemont (Johan Rupert). I took on this position in 2011 and became a fully-fledged Professor during that year. I held this position until the end of 2015, when I retired once again. I am now largely a gentleman of leisure residing at De Zalze Winelands Golf Estate near Stellenbosch, which provides living circumstances as close to heaven as I am ever likely to get.

My daughter, Carin, has provided me with a grandson, Sebastian, and my son, Bryan, with a grandson, Alexander, and a granddaughter, Jessica. All three of our children and their families live in Cape Town, which makes Dana and me one of those all too rare South African couples that have their entire families living in the same place in South Africa as themselves.

Further details of my professional career (if desired) can be obtained from the IP Chair’s website which can be accessed at www.sun.ac.za. An article about me and the IP Chair, which was published in the magazine STELLENBOSCH VISIO can be viewed below (or click here).

 

Back (from left): Ian, Carin, Dana Front (from left): Owen, Sebastian, Jessica, Alexander, Bryan.

Back (from left): Ian, Carin, Dana
Front (from left): Owen, Sebastian, Jessica, Alexander, Bryan.

Owen and Dana Dean

Owen and Dana Dean

 

Visio Article Cover

Click image to view article

Charles Goedhals

Ek was nooit ‘n “goeie” student nie maar kon darrem meeste van my vakke deurkom na een keer se lees.  Ek kon nie toelaat dat studeer met my buitemuurse (of binnemuurse) aktiwiteite

bots nie.  Met een van die vakke het dit nie so lekker gewerk nie en moes ek later vir ‘n jaar teruggaan om wyle my nemises se vak te slaag en my LL.B. te kry.

Het vir ‘n jaar in PE gewerk in die Staatsdiens as staatsaanklaer en daarna vir ‘n jaar by Ou Mutual in Pinelands.  Gedurende hierdie tyd, in April 1968, is ek met my laaste universiteitsgeliefde, Tertia Viljoen, getroud.  Sy is verlede jaar in Augustus na 47 jaar getroude lewe oorlede.  Ons het 5 kinders (in vyf en ‘n half jaar) gehad wat ons later 15 kleinkinders gegee het.  Een van ons seuns is ‘n prokureur in Pretoria.

Hierdie foto is op my 70ste verjaarsdag in 2011  geneem.

Hierdie foto is op my 70ste verjaarsdag in 2011 geneem.

My kleinkinders!

My kleinkinders!

Na Mutual het ek my articles op Willowmore gedoen en in Stellenbosch en Bellville gepraktiseer en later as vennoot in ‘n firma in Joubertina in die Langkloof (waar daar nooit skoonheidskompetisies gehou word nie).  Ander mense se probleme, wat hulle meesal self veroorsaak het, het my nooit werklik geïnteresseer nie.  Ek kry toe in Januarie 1981 ‘n aanstelling as regsadviseer by SASOL op Sasolburg.  In 1982 is ek met bevordering na Rosebank verplaas waar ek in verskeie hoedanighede gewerk het totdat ek iewers in die laat 90’s afgetree het.  Vir so 3 jaar lank na SASOL seretariële werk op kontraksbasis by ‘n paar maatskappye (oa by Exel Petroleum) gedoen.  Het toe op my plasie tussen Warmbad en Nylstroom gaan bly. Het dit vyf jaar gelede verkoop (het lewensreg behou) en ‘n groot 4×4 motorhome gekoop waarmee ek voordurend die hele land deurkruis.  Dit is eintlik nou my huis.

So toerrek!

So toerrek!

My lewe was baie vol en ek het baie dinge aangevang waaroor ander net gedroom het.  Het vroeër ook die land deurkruis op my Suzuki GS1000G motorfiets en het ook vir jare minstens vier keer per jaar op my 21vt cat, met die naam Noggecat, veral by Cape Vidal, Sodwana en Inhassoro in Mosambiek diepsee kompetisies gehengel.  Ek het ook in 2007 en die jaar daarna van Boksburg na Balito in Natal en terug gery op my 800cc Polaris quad.  Ek het ook vele gesigte soos die volgende paar fotos getuig.

Ek op toer in Sept 2011 in die Richtersveld.

Ek op toer in Sept 2011 in die Richtersveld.

Op my oudste se 40ste (Mexikaanse tema) as 'n priester en sy skelmpie suster Teresa.

Op my oudste se 40ste (Mexikaanse tema) as ‘n priester en sy skelmpie suster Teresa.

Unknown-6

Nou doen ek niks (behalwe op my rekenaar karring) en die eintlike lekker is ek doen dit op verskeie plekke.  En wat ek nie vandag klaarkry nie doen ek môre en as ek lus kry om te werk gaan lê ek op die bed en wag dat die lus weggaan.  En die belangrikste van als is dat ek nooit siek of dronk word nie.

Ek sien so daarna uit om almal wat nog is te sien en bedank die komitee vir die inisiatief om hierdie waarskynlik laaste reunie te reël.

Newer posts »

© 2025 LLB Reunion 1966

Theme by Anders NorenUp ↑