Wat beteken dit om Suid-Afrikaans te wees?

Die feit dat Suid-Afrika se eerste ‘vrygeborenes’ vanjaar die hoër onderwys betree het, laat die soeklig opnuut op die kwessie van ons nasionale identiteit val. Hierdie jongmense se grootwordjare in ’n samelewing ná apartheid maak hul ervarings anders as vorige generasies s’n. Aangesien ons ’n toekoms tegemoetgaan wat uiteindelik deur die volgende generasie gevorm sal word, is dit gepas om terug te kyk op hoe ver ons as ’n nasie gevorder het en seker te maak van waarheen ons op pad is.

Identiteit is ’n nuttige wegspringplek in dié proses. Dít ervaar ek gereeld in my gesprekke met studente. Die meeste van hulle sê dat ons saamgebind word deur die ideaal om, te midde van ons diversiteit, almal se menswaardigheid te respekteer (kyk hieronder na video, of besoek http://bit.ly/LLL_SA_ID). En te oordeel na die reaksie op ’n onlangse radiopraatjie oor nasionale identiteit (Praat Saam, RSG, 2 Augustus 2013, aangebied deur Lynette Francis – vind opname hieronder), is dié saak landwyd vir alle Suid-Afrikaners van belang.

Volgens sosioloë en antropoloë is identiteit nie ’n gegewe nie; dit word gekonstrueer. Dit ontstaan wanneer individue of groepe hulle met sekere waardes of optrede vereenselwig. Dit is ’n vorm van bewussyn; ’n bewustheid van hoe jy jouself en ander definieer, en hoe die samelewing jou en ander beskou – met voortdurende wisselwerking tussen die self en die ander, die persoonlike en die maatskaplike.

Die begrip identiteit is veelkantig, kompleks en omstrede. Dit het ’n persoonlike sowel as ’n groepsdimensie. Dit is ’n kragtige verskynsel wat ten goede kan funksioneer, maar ook verwoesting kan saai. Dít is van die aanvanklike punte wat geopper is by ’n aanvanklike denkleiersgesprek wat ek onlangs byeengeroep het oor die Suid-Afrikaanse identiteit.

’n Goeie verwysingspunt ter stawing van die argument dat die idee van ’n Suid-Afrikaanse identiteit welmenend is, is die land se Grondwet (van 1996). Die aanhef lui: “Ons, die mense van Suid-Afrika, erken die ongeregtighede van ons verlede”. ’n Paar reëls later lees ons: “Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon”, gevolg deur die belangrike frase, “verenig in ons verskeidenheid”.

Wanneer ons ’n Suid-Afrikaanse identiteit vir die era ná apartheid konstrueer, blyk ons eerste instink te wees om dit met ons verskeidenheid, oftewel ons diversiteit, te verbind. Dít sou die een ding wees waaroor ons kan saamstem – die bestaan van verskeie groepe in die land, of hulle nou op grond van ras, etnisiteit, godsdiens, ens. gedefinieer word. Kan ons dus hierdie diversiteit benut eerder as om dit te bekla?

Natuurlik, maar dáárvoor moet die Suid-Afrikaanse identiteit ook ’n ander bestanddeel bevat: inklusiwiteit. Wéér staaf die Grondwet hierdie standpunt. Dit bevat waardes soos menswaardigheid, gelykheid, menseregte, burgerlike vryhede, nie-rassigheid, nie-seksisme en demokrasie. Hierdie waardes is ondenkbaar sonder inklusiwiteit.

Die klem op inklusiwiteit weerklink in nóg ’n sleuteldokument – die Nasionale Ontwikkelingsplan. Dit is opgestel deur die Nasionale Ontwikkelingskommissie wat die President in 2009 aangestel het, en is verlede jaar uitgereik. Ook dié dokument lê ’n verband tussen die Suid-Afrikaanse identiteit en die waardes in die Grondwet: “Ons [Suid-Afrikaners] self het die reëls gemaak waarvolgens ons wil hê ons moet leef.”

Na my mening kan die sterk klem op diversiteit en inklusiwiteit, demokrasie en menseregte in hierdie twee rigtinggewende dokumente ten beste beskou word as ’n reaksie op ons verlede sowel as ’n hunkering na ’n beter toekoms. Aan die een kant behels dit ’n verwerping van die diskriminasie, verdrukking en uitbuiting van ons koloniale en apartheidsverlede. En aan die ander kant gaan dit oor ’n strewe na ideale soos gelykheid, vryheid en geregtigheid vir almal.

As identiteit ’n sosiale konstruk is, moet ons ons afvra of ʼn voortdurende konstruksie van die Suid-Afrikaanse identiteit werklik nodig is. In die lig van die geskiedenis en dralende nadraai van apartheid, dink ek nie ons kan dit systap nie. En as deel van ons identiteit moet ons veral diversiteit en inklusiwiteit én die ander waardes van ons Grondwet beklemtoon.

Die Suid-Afrikaanse identiteit vang dalk nie die volle kompleksiteit van ons menswees volledig vas nie, maar ons sal dit waarskynlik noodwendig in die nastrewing van ons ideale en die stryd teen die nalatenskap van die verlede moet aanwend.

En dalk is dit ’n nuttige beginpunt vir ons Suid-Afrikaanse identiteit om allereers aan onsself as Afrikane te dink. Dít sou beteken dat ons ons as deel van Afrika beskou en ons met ál die mense van ons vasteland in hul volle verskeidenheid vereenselwig.

  • Wat beteken Suid-Afrikaanswees vir jou? Lewer gerus onder kommentaar (klik op titel bo om funksie te aktiveer indien nodig), of gesels op Twitter met my by @RusselBotman. Ek sien uit daarna om van jou te hoor.
  • Klik hier vir ’n video van LLL-studente by die Universiteit Stellenbosch wat oor hul ervaringe praat.
  • Klik hier vir ‘n opname van Praat Saam, RSG, 2 Augustus 2013, aangebied deur Lynette Francis.
Tagged , , , , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Wat beteken dit om Suid-Afrikaans te wees?

  1. Eerste tree says:

    Ek wil ook graag ‘n Afrikaan wees, maar ek is wit en ek is onseker of ek welkom is om dit in hierdie land te kan wees. Ek wil graag ook ‘n identiteit help bou. Daarom vra ek: laat my toe om grond te besit en kos te te help voorsien, laat my toe om werk te kry, laat my toe om, ‘n onderneming te bedryf wat werk verskaf sonder dat ek blameer word omdat ek geld maak, doen ook vir my moeite om aan die US te kan studeer. As ek hoor dat die statistiek vereis dat die getalle van wit studente in die toekoms by die US verminder moet word, voel ek uitgesluit, as ek hoor hoe daar klem gelê word op diversiteit wonder ek hoe versoen ek eenheid met diversiteit?. Ek is wanhopig, want dit voel of ek alles verloor, maar die Hoopprojek sluit my nie in nie, ek kom nie in aanmerking vir werwingsbeurse nie. Ek vra : Gee my ook ‘n kans om ‘n toekoms hier te hê en te bou, gee my ‘n kans om ‘n Afrikaan te wees.

  2. P Fourie says:

    Prof Botman en Wouter het albei geldige stellings gemaak. Ek wil dit soos volg saamvat:
    “Die langste reis begin met ‘n enkele tree”. Kom ons neem voor die einde van 2013 elkeen ‘n enkele tree; kom ons skryf elkeen ‘n enkele paragraaf oor wat ek weet van die geskiedenis van Afrika, hoe ek myself sien as ‘n Afrikaan, en wat ek kan doen om ‘n Suid-Afrikaanse identiteit te help bou.
    Afrikaan.

  3. Wouter says:

    Ek dink dit is hoogtyd dat ons aanbeweeg om na ons probleme wat geskep is agv Apartheid en kolonialisme na dit te verwys. Omdat ongeleikheid vir 300 jaar was beteken nie dit hoef dieselfde tyd te neem om dit op te los nie. In teendeel behoort dit baie gouer te neem om op te los.

    Om dit probleme van Apartheid te noem is om nie verantwoordelik heid te neem vir die stand van sake nie. Dit is net soos Trevor Manual en die President se planne wat hulle een of ander probleem gaan oplos teen 2020, 2025 en die NDP teen 2030. Dit beteken dit is nie meer hulle verantwoordelikheid om die teikens te haal nie. Dit is die probleem van ‘n kabinet ‘n president wat nog in bewind moet kom! Dit is net soos die human development goals. Niemand wil verantwoodelikheid neem wat tans die mags posisies beklee nie, en doen nog wat hulle kan om die blaam te skuif. En Aparheid en kolonialisme is hulle beste ‘scape-goat’.

    Toe Amerika maan toe wou gaan het die president Kennedy gesê daar sal ‘n man op die maan wees voor die einde van my termyn. Kennedy het verantwoordelikheid geneem en die program suksesvol bestuur voor sy dood. Dit was ‘n sukses en Amerika het ‘n man na die maan en terug gestuur. Dit was ook in die moeilikste tydperk van die eeu in Amerika!

    Gaan Manual en Zuma verantwoodelik wees vir planne kom 2030? Nee, Zuma is dan vir 10+ jaar nie meer in bewind nie. Kom 2020 dan gaan die nuwe NDP vervang word met iets nuut wat probleme gaan oplos teen 2040.

    Niemand wil verantwoodelikheid neem nie. Daar is geen politieke wil nie.
    Ons kort ‘n Suid Afrikaanse weergawe van Neild Degrasse Tyson:

    Terwyl Neil hier praat oor ‘n space program is dit relevant tot ons visie.
    http://youtu.be/rmKlA_UnX8c

    • Mening says:

      Ek lees die blog en die opmerking….. En al wat ek sien is dat dit wat Wouter hierbo noem ( geen verantwoordelikheid neem) beslis op die US kampus die meeste probleme veroorsaak.

      Wanneer gaan ons die filosofie en die teorie agterlaat en n slag die praktyk maak werk? Hier op die grond waar ons gewone mense elke dag betaal en werk om US se 2030 droom te bou. Hier waar kleur nie n probleem is nie want ons is almal een met groter probleme as die kleur / ras / nationaliteit.

Leave a Reply to P Fourie Cancel reply

Your email address will not be published.