Gebrek aan voedselsekerheid ’n bedreiging vir almal

ʼn Bietjie mieliepap, bruin brood en tee met melk en suiker. Dit klink nie te sleg nie, of hoe? Glad nie… behalwe as dit basies al is wat jy vir ʼn volle dag, elke dag inneem. So ʼn dieet is onvoldoende, want die energiewaarde is te laag en dit bevat nie al die kossoorte nie.

Tog is dit die vyf voedselprodukte wat die meeste deur Suid-Afrikaners ingeneem word. Waarom? Want dit is al wat die meeste mense kan bekostig. Die koste van so ʼn dieet vir ʼn huishouding van vyf mense werk uit op R650 per maand – veel minder as die R3 300 vir die basiese ekonomiese dieet wat deur voedingskundiges aanbeveel word.

As jou maandelikse huishoudelike inkomste net R3 100 is – die gemiddelde wat ʼn Suid-Afrikaanse werker verdien – is jou keuse erg beperk. Hou ook in gedagte dat mense ook ander uitgawes het – soos behuising, klere, vervoer en onderwys. Met ʼn dieet soos die een hierbo, eindig jy dus op met ʼn daaglikse energieinname van net 2 500 kilojoules pleks van die aanbevole 8 000 kJ vir kinders en tussen 10 000 kJ en 12 000 kJ vir volwassenes.

En dit is as jy in die bevoorregte posisie is om minstens een lid van die huishouding te hê wat werk teen ʼn minimum loon. ʼn Derde van die Suid-Afrikaanse bevolking is werkloos, ʼn kwart van alle werkers verdien minder as R1 600 per maand en na raming leef 60% van die bevolking in armoede – met ʼn inkomste van minder as R570 per maand.

Suid-Afrika se gebrek aan voedselsekerheid is dus geen verrassing nie, maar dit is nietemin skokkend. Volgens die Suid-Afrikaanse nasionale gesondheids-en-voedingswaarde-ondersoek (SANHANES-1) wat in Augustus bekendgestel is, het net 46,6% van alle huishoudings in die land toegang tot genoeg voedsel om ʼn aktiewe lewensstyl te kan handhaaf. Dit beteken 28 miljoen van ons medelandsburgers het te min kos om te eet.

Die gevolge is dramaties – veral onder kinders. Belemmerde groei (stunting) is een van die mees algemene voedingsafwykings in die land, en dit raak 20% van ons kinders. Weens honger en wanvoeding is hul daaglikse inname van energie, minerale en vitamines minder as tweederdes van wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie voorgeskryf word.

Wanneer belemmerde groei eers posgevat het, is dit meestal onomkeerbaar, sê die dokters. Dus sal die een uit elke vyf Suid-Afrikaanse kinders wat hierdeur geraak word, nooit hul volle groeipotensiaal bereik nie. Omdat hul belangrike organe ook nie volledig tydens hul kinderjare ontwikkel nie, is daar ook ʼn verhoogde kans dat hulle later voortydig sal sterf.

Ons Grondwet waarborg aan elkeen die reg op “toegang tot voldoende voedsel” maar dít is betekenisloos sonder doeltreffende stappe om die woorde waar te laat word. Wat word hieraan gedoen?

Soos so dikwels die geval is, het ons nie ʼn tekort aan planne om die situasie te verbeter nie. Sedert 2002 al het Suid-Afrika ʼn Geïntegreerde Voedselsekerheidstrategie wat deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gelei word. Ons het ook al sedert 1995 die Geïntegreerde Voedingsprogram van die Departement van Gesondheid, en meer onlangs die Zero-hongerprogram van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling. Ander pyle in ons beleidskoker sluit in verskillende soorte landbou-ondersteuning en verskeie maatskaplike toelaes.

Tog lewe meer as die helfte van ons bevolking met voedselonsekerheid saam. Proff Mohammad Karaan en Luc D’Haese van onderskeidelik die universiteite Stellenbosch en Gent sê ʼn deel van die probleem is dat bedrywighede wat met voedselsekerheid te make het, dikwels nie doeltreffend genoeg gekoördineer of nasionaal optimaal onwikkel is om alle relevante rolspelers te betrek nie.

Die Nasionale Ontwikkelingsplan met sy Visie 2030 vir Suid-Afrika identifiseer voedselsekerheid as ʼn prioriteit. Dit vra onder meer vir grondhervorming, beter benutting van landbougrond, die ontwikkeling van kleinboere, die uitbou van volhoubare plattelandse bedrywe, groter beleggings in agri-bewerking en meer doeltreffende toegang na markte en finansiële dienste vir boere.

Die tyd sal leer of dit gaan werk, maar intussen moet ons ag slaan op die waarskuwing van Karaan en D’Haese dat mislukking wag tensy alle beleide en strategieë deel is van ʼn samehangende en gekoördineerde bestuursproses om voedselsekerheid te verseker.

Die kompleksiteit van voedselsekerheid dra tot die probleem by. Daar is meer as 200 definisies van die konsep. Voorts het dit vier dimensies: beskikbaarheid van voedsel, toegang, verbruik en stabiliteit/volhoubaarheid. En daar is vier vlakke van voedselsekerheid om in ag te neem: globaal, nasionaal, huishoudelik en individueel.

ʼn Bydraende faktor is dat daar geen “goue standaard” is waarvolgens voedselsekerheid gemeet en gemonitor word nie. Hoewel daar al verskeie navorsingsprojekte in Suid-Afrika was, is daar steeds onsekerheid oor die presiese omvang van die probleem. Daar was ook nog nooit ʼn nasionale navorsingsprojek om al die fasette van voedselsekerheid aan die hand van gestandaardiseerde kriteria te meet nie.

Intussen word die situasie al erger. Stygende voedselpryse beteken dat voedselarmoede besig is om toe te neem. In 1995 was 43% van alle huishoudings in Suid-Afrika nie in staat om ʼn dieet wat aan die nodige voedingsvereistes voldoen, te bekostig nie. Teen 2010 het dié syfer tot 80% gestyg.

Voedelonsekerheid is een van mees ooglopende wyses waarop Suid-Afrika sosio-ekonomiese ongelykhede uitgedruk word. Met een van die hoogste Gini-koëffisiente ter wêreld, het ons land ʼn geweldige welvaartgaping. Wat voedselsekerheid betref, beteken dit die elite het te veel om te eet, en die massas te min.

Dit is ʼn resep vir rampspoed wat ons nie durf ignoreer nie. Onthou, die vonk wat in Desember 2010 die kruitvat van die Arabiese Lente aangesteek het, was voedselopstande in Tunisië.

– BYKOMENDE BRONNE: BFAP Poor Person Index; National Food Consumption Survey; Stats SA

* Lewer gerus hieronder kommentaar, of gesels op Twitter met my @RusselBotman. Ek sien uit daarna om van jou te hoor. (Hierdie blog volg op ʼn aanvanklike denkleierskapsgesprek wat ek onlangs oor voedselsekerheid byeengeroep het. Die US het in 2010 ʼn multidissiplinêre Voedselsekerheidsinisiatief as deel van sy HOOP-projek laat stapel loop. Daar vind op 17 Oktober 2013 ʼn paneelgesprek oor voedselsekerheid plaas tydens ʼn regstreekse uitsending vanaf die Neelsie van “Praat Saam” op RSG, aangebied deur Lynette Francis.)

Dis tyd vir ’n ‘NOP van die siel’

Byna 20 jaar ná Suid-Afrika se 1994-verkiesing, staan ons weer voor ’n kruispad. Op baie gebiede is lofwaardige vordering gemaak, maar op ander is die pas van verandering veels te stadig – en in sommige opsigte het dinge agteruitgegaan.

So is daar byvoorbeeld onlangs bekend gemaak dat honderde lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens ’n misdaadgeskiedenis het. Die meeste van hulle is senior amptenare in bestuursposte. As ons nie al ons bewakers kan vertrou nie, hoe veilig is ons?

’n Mens is ewe ontgogel as jy na die hoë korrupsievlakke in Suid-Afrika kyk. Miljarde rande wat vir maatskaplike dienste en menslike ontwikkeling bestem is, gaan verlore weens wat niks anders as diefstal van belastingbetalersgeld genoem kan word nie.

Wat dinge vererger, is dat sommige staatsamptenare en verkose ampsbekleërs daarby betrokke is. Hulle is veronderstel om onbaatsugtig te dien, tog handel hulle uit eiebelang. Hulle is veronderstel om die welstand van die samelewing te bevorder, tog blyk selfverryking vir hulle belangriker te wees.

Dit is ironies dat sowel die omkopers as die ontvangers van dié geld van beter behoort te weet. Talle wetsoortreders behoort aan ʼn geloofsgemeenskap, en dié groepe onderskryf almal ʼn morele kode wat verkeerde gedrag behoort te voorkom.

Dit is tyd vir ernstige selfondersoek, visionêre heroriëntering en beslissende optrede om Suid-Afrika weer op koers te kry.

’n Goeie begin is om indringend na die land se geestelike en morele grondslag te kyk. Vir baie mense is dít die fondament waarop ons samelewing gebou is, en tog is dit vinnig besig om onder ons mee te gee.

Moraliteit is gewoon die strewe na die goeie en die vermyding van die slegte. In hierdie proses is norme en waardes baie belangrik. Dit vorm die grondslag van ons belangrikste oortuigings en het ʼn regstreekse invloed op ons gedrag.

Waar pas ons geestelike sy, en bepaald godsdiens, in? Die meerderheid van die bevolking sê hulle is godsdienstig, en godsdiens is baie invloedryk in Suid-Afrika. Dít blyk duidelik uit die aanloop tot die land se oorgang na demokrasie in 1994. Die geloofsgemeenskap het nie net leiding gebied in die stryd teen apartheid nie, maar ook in menslike ontwikkeling – op die gebied van armoedeverligting, gesondheid en onderwys, en ook die vredesbeweging.

Tog het die geloofsgemeenskap stil geraak. Hoekom? Dalk het die oorwinning oor apartheid daardie gemeenskaplike doel waarna almal saam kon streef, laat vervaag en het baie kerke en moskees en tempels net op hul eie bedrywighede begin konsentreer.

Pogings deur die regering om die geloofsgemeenskap te betrek, het onder voormalige president Nelson Mandela begin. Hy het ’n “HOP (Heropbou- en Ontwikkelingsprogram) van die siel” in Suid-Afrika bepleit.

Daarna was daar die Morele Vernuwingsbeweging (MVB), wat voormalige pres. Thabo Mbeki aan sy destydse adjunk – nou pres. – Jacob Zuma, toevertrou het. Die MVB was veronderstel om op die innerlike krag, die morele weefsel van die samelewing te konsentreer. Die geloofwaardigheid van die beweging is egter ondermyn en dit het stilweg van die radarskerm verdwyn.

Watter ander opsies is daar? Dit is dalk die moeite werd om te kyk na die land se Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), wat verlede jaar verskyn het. Die NOP is opgestel deur die Nasionale Ontwikkelingskommissie wat pres. Zuma in 2009 aangestel het, met Trevor Manuel en Cyril Ramaphosa aan die stuur.

Die NOP bepleit “’n aktiewe burgery wat oor die mag beskik om openbare amptenare tot verantwoording te roep” om die dubbele uitdagings van korrupsie en ’n gebrek aan verantwoordbaarheid in die samelewing te oorkom.

Daarbenewens beoog dit ’n Suid-Afrika “waarin leiers by hoë etiese standaarde hou en met integriteit handel”. Die NOP sê ook dat politieke leiers “bewus moet bly van die impak van hul gedrag op die eer en integriteit van die politieke amp wat hul beklee”.

Die NOP geniet wye steun, maar word ook teengestaan – en dít moet ons nie verbaas nie. Dit is ʼn radikale dokument – in sy etiek en die morele grondslag wat daardeur gelê word.

Indien ons die NOP se toekomsvisie ondersteun, wat kan ons doen om dit te help bereik? Dít is ’n taak vir gelowiges sowel as nie-gelowiges, want moraliteit behoort aan die ganse mensdom.

Ons moet die “nasionale gesprek oor die leierseienskappe wat op alle gebiede van die openbare lewe vereis word” waarvan die NOP praat, voer.

Kom ons heroorweeg die manier waarop die geloofsgemeenskap sy invloed in Suid-Afrika uitoefen. Alle godsdiens kan as ’n reaksie op die brandende vraagstukke van die samelewing beskou word. As sodanig, mag die geloofsgemeenskap nie sy verantwoordelikheid ontduik om die uitdagings van die samelewing onverskrokke aan te pak nie.

Dít sal goed wees vir die nasie in die geheel, omdat die NOP nie kan slaag sonder dat die geestelike en morele grondslag van die samelewing versterk word nie.

Ek dink dit is nou die regte tyd om Madiba se oproep om ’n “HOP van die siel” te wysig na ’n pleidooi vir ’n “NOP van die siel”. Hierdie keer behoort die burgerlike samelewing egter saam te staan om die morele weefsel van die samelewing te herstel. Dit is ’n ewe edel en dringende saak as die stryd teen apartheid. Hieroor behoort daar eenstemmigheid te wees.

  • Lewer gerus hieronder kommentaar of twiet my @RusselBotman. Ek sien daarna uit om van jou te hoor. (Hierdie blog spruit uit ’n eerste denkleierskapsgesprek oor Suid-Afrika se geestelike en morele grondslag wat ek onlangs byeengeroep het.)

Suid-Afrikaan, Afrikaan, wêreldburger

Suid-Afrika was eens op ʼn tyd die muishond van die wêreld. Toe voorkom ons ʼn burgeroorlog met ʼn onderhandelde politieke skikking, en skielik was ons almal se gunsteling. Intussen het ons glans effens verdof, en nou is ons gewoon maar net deel van die globale gemeenskap. Hoe skakel ons deesdae by die res van die mensdom in?

Dié vraag is veral van belang vir jongmense wat besig is met universiteitstudies of op die punt staan om die werksmark te betree. Is daar iets aan hul Suid-Afrikanerskap en hul identiteit as Afrikane wat hulle uniek maak? Gee dit hulle ʼn voorsprong bo hul eweknieë van elders op die aardbol? En wat is daar wat hulle nog moet leer voordat hulle die “wêrelddorpie” op horings kan neem?

In die gesprek die afgelope ruk oor ons Suid-Afrikaanse identiteit is die eerste punt wat uitstaan dat ons diversiteit as nasie een van ons sterkpunte is. Blootstelling aan ʼn uiteenlopende verskeidenheid mense en idees plaas dinge in perspektief. Jy besef jy weet nie alles nie, en kan jou lewensuitkyk met ander insigte verryk. Jy leer ook om nie die onbekende te vrees nie, en om verdraagsaam te wees. Dít is van groot waarde in ʼn wêreld wat al hoe meer geïntegreerd raak namate grense vervaag en multikulturele kontak toeneem.

Nog iets waarop ons trots kan wees, is die beginsels wat in ons grondwet vasgelê is. As Suid-Afrikaner het jy hoë agting vir demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte. Jy dink ʼn oop samelewing is ʼn goeie idee – een waar ʼn beter lewensgehalte vir almal nagestreef word en almal kans kry om hul volle potensiaal te ontsluit.

Jy meen almal is gelyk en moet menswaardig behandel word. Jy streef nie-rassigheid en nie-seksisme na. Jy is gekant teen onbillike diskriminasie op grond van etniese of maatskaplike herkoms, seksuele voorkeur, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, kultuur of taal.

Uiteraard praat ons hier van die ideale “jy”. In werklikheid skiet die meeste van ons hieraan te kort. Nietemin, dít is die nalatenskap van die grondwetskrywers aan alle Suid-Afrikaners – en wat ʼn gesogte erfporsie is dit nie! Veral relevant vir hierdie gesprek, is die feit dat die universaliteit van hierdie waardes jou aan die ganse mensdom verbind – nie net aan jou landgenote nie.

Dit is hoekom dit belangrik is dat jy volgende jaar stem, veral as jy een van die land se vrygeborenes is wat ná die 1994-verkiesing in die nuwe Suid-Afrika gebore is. Elke volwasse landsburger “het die reg om te stem in verkiesings vir enige wetgewende liggaam wat ingevolge die Grondwet ingestel is”. Deur te stem, doen jy jou deel om die grondwet te beskerm en verkose amptenare aanspreeklik te hou.

Die tweede punt wat die afgelope ruk uitstaan in ons gesprek oor die Suid-Afrikaanse identiteit is dat ons ook Afrikane is – en dit beteken jy is slegs mens deur en saam met ander mense. Daarom tree jy menslik teenoor almal op.

Ubuntu is Afrika se geskenk aan die mensdom, en as Suid-Afrikaner is dié kleinood ook in jou besit. Deel dit vrylik in jou omgang met mense van elders, en maak sodoende van die wêreld ʼn beter plek. Moet net nie noodwendig dankbaarheid verwag nie. Afrikane trek dikwels aan die kortste ent in die wêreldgemeenskap. Tye is egter besig om te verander, en jy kan die pendulum verder in ons vasteland se guns help swaai deur voortdurend uitnemendheid na te streef.

In die kennisekonomie van die 21ste eeu is die vernaamste hulpbron nie goud of olie of arbeid of selfs militêre of politieke mag nie, maar inligting. Die feit dat digitale inligting vrylik op die wêreldwye web vloei, beteken grense vervaag en eens gevestigde praktyke word met nuwe konvensies vervang. Niemand is beter geplaas om voordeel hieruit te trek as boorlinge van die inligtingsera nie – mits hulle buigsaam genoeg is om met die snelle pas van verandering tred te hou. Neem dus uit jou Suid-Afrikaanse en Afrika-identiteit wat goed is, en maak van die wêreld jou woning.

  • Wat beteken jou identiteit as globale burger vir jou? Lewer gerus hieronder kommentaar (klik op die opskrif hierbo indien nodig), of gesels op Twitter met my @RusselBotman. Ek sien uit daarna om van jou te hoor.

(Hierdie blog volg op ʼn aanvanklike denkleierskapsgesprek wat ek onlangs oor die Suid-Afrikaanse identiteit byeengeroep het, en sluit by voorbaat aan by ʼn uitsending van Praat Saam op RSG, aangebied deur Lynette Francis, vanaf die Universiteit Stellenbosch op 4 September 2013.)

 

Trots Afrikaan

Die afgelope ruk het ons lekker saamgesels oor ons Suid-Afrikaanse identiteit. Baie mense sê dit is nie slegs ons diversiteit wat kenmerkend van ons nasie is nie, maar juis ons viering daarvan. Vir hulle is ons, soos die land se Grondwet (van 1996) dit stel, “verenig in ons verskeidenheid”.

Ek het my vorige blog afgesluit met die punt dat die beste wegspringplek in hierdie debat dalk is om nie net na ons nasionale identiteit te kyk nie, maar ook na die volgende vlak – ons Afrika-identiteit. Ek brei graag hierop uit.

Om Suid-Afrikaans te wees, beteken noodwendig ook jy is ʼn Afrikaan. Ons land is immers deel van hierdie vasteland. Maar wat beteken dit om ʼn Afrikaan te wees?

Dit gaan nie net oor geografie nie. Die Afrika-identiteit word ook met bepaalde waardes vereenselwig. En aan die hart hiervan lê die idee dat ek mens is deur en saam met ander mense. Dié siening staan as ubuntu bekend.

Om ons menswees aan ander mense te koppel impliseer twee dinge – jy gee om vir alle mense, en jy behandel alle mense met respek. Dit is wat van jou ʼn mens maak; dít is wat dit beteken om deel van die mensdom te wees.

Die voordeel hiervan is dat dit eendrag skep waar daar verdeeldheid is. Die klem val op gemeenskaplikhede eerder as op verskille. Al lyk ek en jy nie eners nie, al praat ons nie dieselfde taal nie, al stem ons vir verskillende partye, het ons iets met mekaar gemeen – ons menswees. En daarom tree ons menslik en medemenslik teenoor mekaar op.

Dit is gepas dat ʼn siening wat ons identiteit terugvoer na iets so wesenlik soos ons blote bestaan vereenselwig word met Afrika. Dié vasteland is immers die oorsprong mensdom, te oordeel na argeologiese en genetiese getuienis. Om die waarheid te sê, van die oudste fossiele van die mens se voorsate is in ons spreekwoordelike agterplaas ontdek – by Sterkfontein aan die Wes-Rand. Dié gebied heet nie om dowe neute die “Wieg van die Mensdom” nie.

Soos ek op Afternoon Talk op SAfm, aangebied deur Naledi Moleo (vind opname hieronder), gesê het, ek dink ons is dit aan Mev Ples en almal wat ná haar gekom en oor die aarde versprei het, verskuldig om ag te slaan op die Afrika-wysheid van die eeue dat ons mens is deur en saam met ander mense. Met dié erfenis as grondslag kan ons ʼn beter toekoms skep vir die volgende geslag Suid-Afrikaners.

Dit beteken dat ons ons diversiteit aanvaar en omhels en vier, want wat saak maak is nie dat ons om welke rede ook al van hierdie of daardie subgroep uitgesluit kan word nie, maar dat ons almal by die oorkoepelende versamelgroep – die mensdom sigself – ingesluit is.

Dít maak van my ʼn trotse Afrikaan.

  • Wat beteken jou Suid-Afrikaanse en Afrika-identiteit vir jou? Lewer gerus hieronder kommentaar (klik op die opskrif hierbo indien nodig), of gesels op Twitter met my by @RusselBotman. Ek sien uit daarna om van jou te hoor.
  • Klik hier vir ‘n opname van SAfm se Afternoon Talk , aangebied deur Naledi Moleo, op 16 Augustus 2013.

(Hierdie blog volg op ʼn aanvanklike denkleierskapsgesprek wat ek onlangs oor die Suid-Afrikaanse identiteit byeengeroep het, en sluit aan by ’n praatjie op 2 Augustus op Praat Saam op RSG, aangebied deur Lynette Francis – klik hier vir ‘n opname.)

Wat beteken dit om Suid-Afrikaans te wees?

Die feit dat Suid-Afrika se eerste ‘vrygeborenes’ vanjaar die hoër onderwys betree het, laat die soeklig opnuut op die kwessie van ons nasionale identiteit val. Hierdie jongmense se grootwordjare in ’n samelewing ná apartheid maak hul ervarings anders as vorige generasies s’n. Aangesien ons ’n toekoms tegemoetgaan wat uiteindelik deur die volgende generasie gevorm sal word, is dit gepas om terug te kyk op hoe ver ons as ’n nasie gevorder het en seker te maak van waarheen ons op pad is.

Identiteit is ’n nuttige wegspringplek in dié proses. Dít ervaar ek gereeld in my gesprekke met studente. Die meeste van hulle sê dat ons saamgebind word deur die ideaal om, te midde van ons diversiteit, almal se menswaardigheid te respekteer (kyk hieronder na video, of besoek http://bit.ly/LLL_SA_ID). En te oordeel na die reaksie op ’n onlangse radiopraatjie oor nasionale identiteit (Praat Saam, RSG, 2 Augustus 2013, aangebied deur Lynette Francis – vind opname hieronder), is dié saak landwyd vir alle Suid-Afrikaners van belang.

Volgens sosioloë en antropoloë is identiteit nie ’n gegewe nie; dit word gekonstrueer. Dit ontstaan wanneer individue of groepe hulle met sekere waardes of optrede vereenselwig. Dit is ’n vorm van bewussyn; ’n bewustheid van hoe jy jouself en ander definieer, en hoe die samelewing jou en ander beskou – met voortdurende wisselwerking tussen die self en die ander, die persoonlike en die maatskaplike.

Die begrip identiteit is veelkantig, kompleks en omstrede. Dit het ’n persoonlike sowel as ’n groepsdimensie. Dit is ’n kragtige verskynsel wat ten goede kan funksioneer, maar ook verwoesting kan saai. Dít is van die aanvanklike punte wat geopper is by ’n aanvanklike denkleiersgesprek wat ek onlangs byeengeroep het oor die Suid-Afrikaanse identiteit.

’n Goeie verwysingspunt ter stawing van die argument dat die idee van ’n Suid-Afrikaanse identiteit welmenend is, is die land se Grondwet (van 1996). Die aanhef lui: “Ons, die mense van Suid-Afrika, erken die ongeregtighede van ons verlede”. ’n Paar reëls later lees ons: “Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon”, gevolg deur die belangrike frase, “verenig in ons verskeidenheid”.

Wanneer ons ’n Suid-Afrikaanse identiteit vir die era ná apartheid konstrueer, blyk ons eerste instink te wees om dit met ons verskeidenheid, oftewel ons diversiteit, te verbind. Dít sou die een ding wees waaroor ons kan saamstem – die bestaan van verskeie groepe in die land, of hulle nou op grond van ras, etnisiteit, godsdiens, ens. gedefinieer word. Kan ons dus hierdie diversiteit benut eerder as om dit te bekla?

Natuurlik, maar dáárvoor moet die Suid-Afrikaanse identiteit ook ’n ander bestanddeel bevat: inklusiwiteit. Wéér staaf die Grondwet hierdie standpunt. Dit bevat waardes soos menswaardigheid, gelykheid, menseregte, burgerlike vryhede, nie-rassigheid, nie-seksisme en demokrasie. Hierdie waardes is ondenkbaar sonder inklusiwiteit.

Die klem op inklusiwiteit weerklink in nóg ’n sleuteldokument – die Nasionale Ontwikkelingsplan. Dit is opgestel deur die Nasionale Ontwikkelingskommissie wat die President in 2009 aangestel het, en is verlede jaar uitgereik. Ook dié dokument lê ’n verband tussen die Suid-Afrikaanse identiteit en die waardes in die Grondwet: “Ons [Suid-Afrikaners] self het die reëls gemaak waarvolgens ons wil hê ons moet leef.”

Na my mening kan die sterk klem op diversiteit en inklusiwiteit, demokrasie en menseregte in hierdie twee rigtinggewende dokumente ten beste beskou word as ’n reaksie op ons verlede sowel as ’n hunkering na ’n beter toekoms. Aan die een kant behels dit ’n verwerping van die diskriminasie, verdrukking en uitbuiting van ons koloniale en apartheidsverlede. En aan die ander kant gaan dit oor ’n strewe na ideale soos gelykheid, vryheid en geregtigheid vir almal.

As identiteit ’n sosiale konstruk is, moet ons ons afvra of ʼn voortdurende konstruksie van die Suid-Afrikaanse identiteit werklik nodig is. In die lig van die geskiedenis en dralende nadraai van apartheid, dink ek nie ons kan dit systap nie. En as deel van ons identiteit moet ons veral diversiteit en inklusiwiteit én die ander waardes van ons Grondwet beklemtoon.

Die Suid-Afrikaanse identiteit vang dalk nie die volle kompleksiteit van ons menswees volledig vas nie, maar ons sal dit waarskynlik noodwendig in die nastrewing van ons ideale en die stryd teen die nalatenskap van die verlede moet aanwend.

En dalk is dit ’n nuttige beginpunt vir ons Suid-Afrikaanse identiteit om allereers aan onsself as Afrikane te dink. Dít sou beteken dat ons ons as deel van Afrika beskou en ons met ál die mense van ons vasteland in hul volle verskeidenheid vereenselwig.

  • Wat beteken Suid-Afrikaanswees vir jou? Lewer gerus onder kommentaar (klik op titel bo om funksie te aktiveer indien nodig), of gesels op Twitter met my by @RusselBotman. Ek sien uit daarna om van jou te hoor.
  • Klik hier vir ’n video van LLL-studente by die Universiteit Stellenbosch wat oor hul ervaringe praat.
  • Klik hier vir ‘n opname van Praat Saam, RSG, 2 Augustus 2013, aangebied deur Lynette Francis.