Gebrek aan voedselsekerheid ’n bedreiging vir almal

ʼn Bietjie mieliepap, bruin brood en tee met melk en suiker. Dit klink nie te sleg nie, of hoe? Glad nie… behalwe as dit basies al is wat jy vir ʼn volle dag, elke dag inneem. So ʼn dieet is onvoldoende, want die energiewaarde is te laag en dit bevat nie al die kossoorte nie.

Tog is dit die vyf voedselprodukte wat die meeste deur Suid-Afrikaners ingeneem word. Waarom? Want dit is al wat die meeste mense kan bekostig. Die koste van so ʼn dieet vir ʼn huishouding van vyf mense werk uit op R650 per maand – veel minder as die R3 300 vir die basiese ekonomiese dieet wat deur voedingskundiges aanbeveel word.

As jou maandelikse huishoudelike inkomste net R3 100 is – die gemiddelde wat ʼn Suid-Afrikaanse werker verdien – is jou keuse erg beperk. Hou ook in gedagte dat mense ook ander uitgawes het – soos behuising, klere, vervoer en onderwys. Met ʼn dieet soos die een hierbo, eindig jy dus op met ʼn daaglikse energieinname van net 2 500 kilojoules pleks van die aanbevole 8 000 kJ vir kinders en tussen 10 000 kJ en 12 000 kJ vir volwassenes.

En dit is as jy in die bevoorregte posisie is om minstens een lid van die huishouding te hê wat werk teen ʼn minimum loon. ʼn Derde van die Suid-Afrikaanse bevolking is werkloos, ʼn kwart van alle werkers verdien minder as R1 600 per maand en na raming leef 60% van die bevolking in armoede – met ʼn inkomste van minder as R570 per maand.

Suid-Afrika se gebrek aan voedselsekerheid is dus geen verrassing nie, maar dit is nietemin skokkend. Volgens die Suid-Afrikaanse nasionale gesondheids-en-voedingswaarde-ondersoek (SANHANES-1) wat in Augustus bekendgestel is, het net 46,6% van alle huishoudings in die land toegang tot genoeg voedsel om ʼn aktiewe lewensstyl te kan handhaaf. Dit beteken 28 miljoen van ons medelandsburgers het te min kos om te eet.

Die gevolge is dramaties – veral onder kinders. Belemmerde groei (stunting) is een van die mees algemene voedingsafwykings in die land, en dit raak 20% van ons kinders. Weens honger en wanvoeding is hul daaglikse inname van energie, minerale en vitamines minder as tweederdes van wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie voorgeskryf word.

Wanneer belemmerde groei eers posgevat het, is dit meestal onomkeerbaar, sê die dokters. Dus sal die een uit elke vyf Suid-Afrikaanse kinders wat hierdeur geraak word, nooit hul volle groeipotensiaal bereik nie. Omdat hul belangrike organe ook nie volledig tydens hul kinderjare ontwikkel nie, is daar ook ʼn verhoogde kans dat hulle later voortydig sal sterf.

Ons Grondwet waarborg aan elkeen die reg op “toegang tot voldoende voedsel” maar dít is betekenisloos sonder doeltreffende stappe om die woorde waar te laat word. Wat word hieraan gedoen?

Soos so dikwels die geval is, het ons nie ʼn tekort aan planne om die situasie te verbeter nie. Sedert 2002 al het Suid-Afrika ʼn Geïntegreerde Voedselsekerheidstrategie wat deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gelei word. Ons het ook al sedert 1995 die Geïntegreerde Voedingsprogram van die Departement van Gesondheid, en meer onlangs die Zero-hongerprogram van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling. Ander pyle in ons beleidskoker sluit in verskillende soorte landbou-ondersteuning en verskeie maatskaplike toelaes.

Tog lewe meer as die helfte van ons bevolking met voedselonsekerheid saam. Proff Mohammad Karaan en Luc D’Haese van onderskeidelik die universiteite Stellenbosch en Gent sê ʼn deel van die probleem is dat bedrywighede wat met voedselsekerheid te make het, dikwels nie doeltreffend genoeg gekoördineer of nasionaal optimaal onwikkel is om alle relevante rolspelers te betrek nie.

Die Nasionale Ontwikkelingsplan met sy Visie 2030 vir Suid-Afrika identifiseer voedselsekerheid as ʼn prioriteit. Dit vra onder meer vir grondhervorming, beter benutting van landbougrond, die ontwikkeling van kleinboere, die uitbou van volhoubare plattelandse bedrywe, groter beleggings in agri-bewerking en meer doeltreffende toegang na markte en finansiële dienste vir boere.

Die tyd sal leer of dit gaan werk, maar intussen moet ons ag slaan op die waarskuwing van Karaan en D’Haese dat mislukking wag tensy alle beleide en strategieë deel is van ʼn samehangende en gekoördineerde bestuursproses om voedselsekerheid te verseker.

Die kompleksiteit van voedselsekerheid dra tot die probleem by. Daar is meer as 200 definisies van die konsep. Voorts het dit vier dimensies: beskikbaarheid van voedsel, toegang, verbruik en stabiliteit/volhoubaarheid. En daar is vier vlakke van voedselsekerheid om in ag te neem: globaal, nasionaal, huishoudelik en individueel.

ʼn Bydraende faktor is dat daar geen “goue standaard” is waarvolgens voedselsekerheid gemeet en gemonitor word nie. Hoewel daar al verskeie navorsingsprojekte in Suid-Afrika was, is daar steeds onsekerheid oor die presiese omvang van die probleem. Daar was ook nog nooit ʼn nasionale navorsingsprojek om al die fasette van voedselsekerheid aan die hand van gestandaardiseerde kriteria te meet nie.

Intussen word die situasie al erger. Stygende voedselpryse beteken dat voedselarmoede besig is om toe te neem. In 1995 was 43% van alle huishoudings in Suid-Afrika nie in staat om ʼn dieet wat aan die nodige voedingsvereistes voldoen, te bekostig nie. Teen 2010 het dié syfer tot 80% gestyg.

Voedelonsekerheid is een van mees ooglopende wyses waarop Suid-Afrika sosio-ekonomiese ongelykhede uitgedruk word. Met een van die hoogste Gini-koëffisiente ter wêreld, het ons land ʼn geweldige welvaartgaping. Wat voedselsekerheid betref, beteken dit die elite het te veel om te eet, en die massas te min.

Dit is ʼn resep vir rampspoed wat ons nie durf ignoreer nie. Onthou, die vonk wat in Desember 2010 die kruitvat van die Arabiese Lente aangesteek het, was voedselopstande in Tunisië.

– BYKOMENDE BRONNE: BFAP Poor Person Index; National Food Consumption Survey; Stats SA

* Lewer gerus hieronder kommentaar, of gesels op Twitter met my @RusselBotman. Ek sien uit daarna om van jou te hoor. (Hierdie blog volg op ʼn aanvanklike denkleierskapsgesprek wat ek onlangs oor voedselsekerheid byeengeroep het. Die US het in 2010 ʼn multidissiplinêre Voedselsekerheidsinisiatief as deel van sy HOOP-projek laat stapel loop. Daar vind op 17 Oktober 2013 ʼn paneelgesprek oor voedselsekerheid plaas tydens ʼn regstreekse uitsending vanaf die Neelsie van “Praat Saam” op RSG, aangebied deur Lynette Francis.)

Dis tyd vir ’n ‘NOP van die siel’

Byna 20 jaar ná Suid-Afrika se 1994-verkiesing, staan ons weer voor ’n kruispad. Op baie gebiede is lofwaardige vordering gemaak, maar op ander is die pas van verandering veels te stadig – en in sommige opsigte het dinge agteruitgegaan.

So is daar byvoorbeeld onlangs bekend gemaak dat honderde lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens ’n misdaadgeskiedenis het. Die meeste van hulle is senior amptenare in bestuursposte. As ons nie al ons bewakers kan vertrou nie, hoe veilig is ons?

’n Mens is ewe ontgogel as jy na die hoë korrupsievlakke in Suid-Afrika kyk. Miljarde rande wat vir maatskaplike dienste en menslike ontwikkeling bestem is, gaan verlore weens wat niks anders as diefstal van belastingbetalersgeld genoem kan word nie.

Wat dinge vererger, is dat sommige staatsamptenare en verkose ampsbekleërs daarby betrokke is. Hulle is veronderstel om onbaatsugtig te dien, tog handel hulle uit eiebelang. Hulle is veronderstel om die welstand van die samelewing te bevorder, tog blyk selfverryking vir hulle belangriker te wees.

Dit is ironies dat sowel die omkopers as die ontvangers van dié geld van beter behoort te weet. Talle wetsoortreders behoort aan ʼn geloofsgemeenskap, en dié groepe onderskryf almal ʼn morele kode wat verkeerde gedrag behoort te voorkom.

Dit is tyd vir ernstige selfondersoek, visionêre heroriëntering en beslissende optrede om Suid-Afrika weer op koers te kry.

’n Goeie begin is om indringend na die land se geestelike en morele grondslag te kyk. Vir baie mense is dít die fondament waarop ons samelewing gebou is, en tog is dit vinnig besig om onder ons mee te gee.

Moraliteit is gewoon die strewe na die goeie en die vermyding van die slegte. In hierdie proses is norme en waardes baie belangrik. Dit vorm die grondslag van ons belangrikste oortuigings en het ʼn regstreekse invloed op ons gedrag.

Waar pas ons geestelike sy, en bepaald godsdiens, in? Die meerderheid van die bevolking sê hulle is godsdienstig, en godsdiens is baie invloedryk in Suid-Afrika. Dít blyk duidelik uit die aanloop tot die land se oorgang na demokrasie in 1994. Die geloofsgemeenskap het nie net leiding gebied in die stryd teen apartheid nie, maar ook in menslike ontwikkeling – op die gebied van armoedeverligting, gesondheid en onderwys, en ook die vredesbeweging.

Tog het die geloofsgemeenskap stil geraak. Hoekom? Dalk het die oorwinning oor apartheid daardie gemeenskaplike doel waarna almal saam kon streef, laat vervaag en het baie kerke en moskees en tempels net op hul eie bedrywighede begin konsentreer.

Pogings deur die regering om die geloofsgemeenskap te betrek, het onder voormalige president Nelson Mandela begin. Hy het ’n “HOP (Heropbou- en Ontwikkelingsprogram) van die siel” in Suid-Afrika bepleit.

Daarna was daar die Morele Vernuwingsbeweging (MVB), wat voormalige pres. Thabo Mbeki aan sy destydse adjunk – nou pres. – Jacob Zuma, toevertrou het. Die MVB was veronderstel om op die innerlike krag, die morele weefsel van die samelewing te konsentreer. Die geloofwaardigheid van die beweging is egter ondermyn en dit het stilweg van die radarskerm verdwyn.

Watter ander opsies is daar? Dit is dalk die moeite werd om te kyk na die land se Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), wat verlede jaar verskyn het. Die NOP is opgestel deur die Nasionale Ontwikkelingskommissie wat pres. Zuma in 2009 aangestel het, met Trevor Manuel en Cyril Ramaphosa aan die stuur.

Die NOP bepleit “’n aktiewe burgery wat oor die mag beskik om openbare amptenare tot verantwoording te roep” om die dubbele uitdagings van korrupsie en ’n gebrek aan verantwoordbaarheid in die samelewing te oorkom.

Daarbenewens beoog dit ’n Suid-Afrika “waarin leiers by hoë etiese standaarde hou en met integriteit handel”. Die NOP sê ook dat politieke leiers “bewus moet bly van die impak van hul gedrag op die eer en integriteit van die politieke amp wat hul beklee”.

Die NOP geniet wye steun, maar word ook teengestaan – en dít moet ons nie verbaas nie. Dit is ʼn radikale dokument – in sy etiek en die morele grondslag wat daardeur gelê word.

Indien ons die NOP se toekomsvisie ondersteun, wat kan ons doen om dit te help bereik? Dít is ’n taak vir gelowiges sowel as nie-gelowiges, want moraliteit behoort aan die ganse mensdom.

Ons moet die “nasionale gesprek oor die leierseienskappe wat op alle gebiede van die openbare lewe vereis word” waarvan die NOP praat, voer.

Kom ons heroorweeg die manier waarop die geloofsgemeenskap sy invloed in Suid-Afrika uitoefen. Alle godsdiens kan as ’n reaksie op die brandende vraagstukke van die samelewing beskou word. As sodanig, mag die geloofsgemeenskap nie sy verantwoordelikheid ontduik om die uitdagings van die samelewing onverskrokke aan te pak nie.

Dít sal goed wees vir die nasie in die geheel, omdat die NOP nie kan slaag sonder dat die geestelike en morele grondslag van die samelewing versterk word nie.

Ek dink dit is nou die regte tyd om Madiba se oproep om ’n “HOP van die siel” te wysig na ’n pleidooi vir ’n “NOP van die siel”. Hierdie keer behoort die burgerlike samelewing egter saam te staan om die morele weefsel van die samelewing te herstel. Dit is ’n ewe edel en dringende saak as die stryd teen apartheid. Hieroor behoort daar eenstemmigheid te wees.

  • Lewer gerus hieronder kommentaar of twiet my @RusselBotman. Ek sien daarna uit om van jou te hoor. (Hierdie blog spruit uit ’n eerste denkleierskapsgesprek oor Suid-Afrika se geestelike en morele grondslag wat ek onlangs byeengeroep het.)