Trots Afrikaan

Die afgelope ruk het ons lekker saamgesels oor ons Suid-Afrikaanse identiteit. Baie mense sê dit is nie slegs ons diversiteit wat kenmerkend van ons nasie is nie, maar juis ons viering daarvan. Vir hulle is ons, soos die land se Grondwet (van 1996) dit stel, “verenig in ons verskeidenheid”.

Ek het my vorige blog afgesluit met die punt dat die beste wegspringplek in hierdie debat dalk is om nie net na ons nasionale identiteit te kyk nie, maar ook na die volgende vlak – ons Afrika-identiteit. Ek brei graag hierop uit.

Om Suid-Afrikaans te wees, beteken noodwendig ook jy is ʼn Afrikaan. Ons land is immers deel van hierdie vasteland. Maar wat beteken dit om ʼn Afrikaan te wees?

Dit gaan nie net oor geografie nie. Die Afrika-identiteit word ook met bepaalde waardes vereenselwig. En aan die hart hiervan lê die idee dat ek mens is deur en saam met ander mense. Dié siening staan as ubuntu bekend.

Om ons menswees aan ander mense te koppel impliseer twee dinge – jy gee om vir alle mense, en jy behandel alle mense met respek. Dit is wat van jou ʼn mens maak; dít is wat dit beteken om deel van die mensdom te wees.

Die voordeel hiervan is dat dit eendrag skep waar daar verdeeldheid is. Die klem val op gemeenskaplikhede eerder as op verskille. Al lyk ek en jy nie eners nie, al praat ons nie dieselfde taal nie, al stem ons vir verskillende partye, het ons iets met mekaar gemeen – ons menswees. En daarom tree ons menslik en medemenslik teenoor mekaar op.

Dit is gepas dat ʼn siening wat ons identiteit terugvoer na iets so wesenlik soos ons blote bestaan vereenselwig word met Afrika. Dié vasteland is immers die oorsprong mensdom, te oordeel na argeologiese en genetiese getuienis. Om die waarheid te sê, van die oudste fossiele van die mens se voorsate is in ons spreekwoordelike agterplaas ontdek – by Sterkfontein aan die Wes-Rand. Dié gebied heet nie om dowe neute die “Wieg van die Mensdom” nie.

Soos ek op Afternoon Talk op SAfm, aangebied deur Naledi Moleo (vind opname hieronder), gesê het, ek dink ons is dit aan Mev Ples en almal wat ná haar gekom en oor die aarde versprei het, verskuldig om ag te slaan op die Afrika-wysheid van die eeue dat ons mens is deur en saam met ander mense. Met dié erfenis as grondslag kan ons ʼn beter toekoms skep vir die volgende geslag Suid-Afrikaners.

Dit beteken dat ons ons diversiteit aanvaar en omhels en vier, want wat saak maak is nie dat ons om welke rede ook al van hierdie of daardie subgroep uitgesluit kan word nie, maar dat ons almal by die oorkoepelende versamelgroep – die mensdom sigself – ingesluit is.

Dít maak van my ʼn trotse Afrikaan.

  • Wat beteken jou Suid-Afrikaanse en Afrika-identiteit vir jou? Lewer gerus hieronder kommentaar (klik op die opskrif hierbo indien nodig), of gesels op Twitter met my by @RusselBotman. Ek sien uit daarna om van jou te hoor.
  • Klik hier vir ‘n opname van SAfm se Afternoon Talk , aangebied deur Naledi Moleo, op 16 Augustus 2013.

(Hierdie blog volg op ʼn aanvanklike denkleierskapsgesprek wat ek onlangs oor die Suid-Afrikaanse identiteit byeengeroep het, en sluit aan by ’n praatjie op 2 Augustus op Praat Saam op RSG, aangebied deur Lynette Francis – klik hier vir ‘n opname.)

Wat beteken dit om Suid-Afrikaans te wees?

Die feit dat Suid-Afrika se eerste ‘vrygeborenes’ vanjaar die hoër onderwys betree het, laat die soeklig opnuut op die kwessie van ons nasionale identiteit val. Hierdie jongmense se grootwordjare in ’n samelewing ná apartheid maak hul ervarings anders as vorige generasies s’n. Aangesien ons ’n toekoms tegemoetgaan wat uiteindelik deur die volgende generasie gevorm sal word, is dit gepas om terug te kyk op hoe ver ons as ’n nasie gevorder het en seker te maak van waarheen ons op pad is.

Identiteit is ’n nuttige wegspringplek in dié proses. Dít ervaar ek gereeld in my gesprekke met studente. Die meeste van hulle sê dat ons saamgebind word deur die ideaal om, te midde van ons diversiteit, almal se menswaardigheid te respekteer (kyk hieronder na video, of besoek http://bit.ly/LLL_SA_ID). En te oordeel na die reaksie op ’n onlangse radiopraatjie oor nasionale identiteit (Praat Saam, RSG, 2 Augustus 2013, aangebied deur Lynette Francis – vind opname hieronder), is dié saak landwyd vir alle Suid-Afrikaners van belang.

Volgens sosioloë en antropoloë is identiteit nie ’n gegewe nie; dit word gekonstrueer. Dit ontstaan wanneer individue of groepe hulle met sekere waardes of optrede vereenselwig. Dit is ’n vorm van bewussyn; ’n bewustheid van hoe jy jouself en ander definieer, en hoe die samelewing jou en ander beskou – met voortdurende wisselwerking tussen die self en die ander, die persoonlike en die maatskaplike.

Die begrip identiteit is veelkantig, kompleks en omstrede. Dit het ’n persoonlike sowel as ’n groepsdimensie. Dit is ’n kragtige verskynsel wat ten goede kan funksioneer, maar ook verwoesting kan saai. Dít is van die aanvanklike punte wat geopper is by ’n aanvanklike denkleiersgesprek wat ek onlangs byeengeroep het oor die Suid-Afrikaanse identiteit.

’n Goeie verwysingspunt ter stawing van die argument dat die idee van ’n Suid-Afrikaanse identiteit welmenend is, is die land se Grondwet (van 1996). Die aanhef lui: “Ons, die mense van Suid-Afrika, erken die ongeregtighede van ons verlede”. ’n Paar reëls later lees ons: “Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon”, gevolg deur die belangrike frase, “verenig in ons verskeidenheid”.

Wanneer ons ’n Suid-Afrikaanse identiteit vir die era ná apartheid konstrueer, blyk ons eerste instink te wees om dit met ons verskeidenheid, oftewel ons diversiteit, te verbind. Dít sou die een ding wees waaroor ons kan saamstem – die bestaan van verskeie groepe in die land, of hulle nou op grond van ras, etnisiteit, godsdiens, ens. gedefinieer word. Kan ons dus hierdie diversiteit benut eerder as om dit te bekla?

Natuurlik, maar dáárvoor moet die Suid-Afrikaanse identiteit ook ’n ander bestanddeel bevat: inklusiwiteit. Wéér staaf die Grondwet hierdie standpunt. Dit bevat waardes soos menswaardigheid, gelykheid, menseregte, burgerlike vryhede, nie-rassigheid, nie-seksisme en demokrasie. Hierdie waardes is ondenkbaar sonder inklusiwiteit.

Die klem op inklusiwiteit weerklink in nóg ’n sleuteldokument – die Nasionale Ontwikkelingsplan. Dit is opgestel deur die Nasionale Ontwikkelingskommissie wat die President in 2009 aangestel het, en is verlede jaar uitgereik. Ook dié dokument lê ’n verband tussen die Suid-Afrikaanse identiteit en die waardes in die Grondwet: “Ons [Suid-Afrikaners] self het die reëls gemaak waarvolgens ons wil hê ons moet leef.”

Na my mening kan die sterk klem op diversiteit en inklusiwiteit, demokrasie en menseregte in hierdie twee rigtinggewende dokumente ten beste beskou word as ’n reaksie op ons verlede sowel as ’n hunkering na ’n beter toekoms. Aan die een kant behels dit ’n verwerping van die diskriminasie, verdrukking en uitbuiting van ons koloniale en apartheidsverlede. En aan die ander kant gaan dit oor ’n strewe na ideale soos gelykheid, vryheid en geregtigheid vir almal.

As identiteit ’n sosiale konstruk is, moet ons ons afvra of ʼn voortdurende konstruksie van die Suid-Afrikaanse identiteit werklik nodig is. In die lig van die geskiedenis en dralende nadraai van apartheid, dink ek nie ons kan dit systap nie. En as deel van ons identiteit moet ons veral diversiteit en inklusiwiteit én die ander waardes van ons Grondwet beklemtoon.

Die Suid-Afrikaanse identiteit vang dalk nie die volle kompleksiteit van ons menswees volledig vas nie, maar ons sal dit waarskynlik noodwendig in die nastrewing van ons ideale en die stryd teen die nalatenskap van die verlede moet aanwend.

En dalk is dit ’n nuttige beginpunt vir ons Suid-Afrikaanse identiteit om allereers aan onsself as Afrikane te dink. Dít sou beteken dat ons ons as deel van Afrika beskou en ons met ál die mense van ons vasteland in hul volle verskeidenheid vereenselwig.

  • Wat beteken Suid-Afrikaanswees vir jou? Lewer gerus onder kommentaar (klik op titel bo om funksie te aktiveer indien nodig), of gesels op Twitter met my by @RusselBotman. Ek sien uit daarna om van jou te hoor.
  • Klik hier vir ’n video van LLL-studente by die Universiteit Stellenbosch wat oor hul ervaringe praat.
  • Klik hier vir ‘n opname van Praat Saam, RSG, 2 Augustus 2013, aangebied deur Lynette Francis.