Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Euan Phimister

Intreerede

Mei 2, 2023 @ 17:3018:30

Die toepassing van ekonomiese modelle in ’n interdissiplinêre wêreld

Ekonome beklee steeds sleutelrolle in besigheid, regerings en die akademiese omgewing. Hul besondere uitkyk op die wêreld is steeds sentraal in ekonomiese en finansiële besluitneming. Hierdie wêreldbeskouing, of ‘hoofstroom- ekonomiese denke’, is veral tydens die finansiële krisis in die laat 2000’s gekritiseer en bevraagteken. Hul manier om die wêreld deur ekonomiese modelle te beskou, hul gebrek aan interdissiplinariteit omdat ander benaderings en dissiplines buite hul domeine selde oorweeg word, hul bereidwilligheid om ekonomiese modelle oënskynlik onnadenkend toe te pas en hul afhanklikheid van slegs kwantitatiewe bewyse is spesifiek lank reeds deur sosiale en ander wetenskaplikes gekritiseer.

Die vooruitgang in datawetenskap, kunsmatige intelligensie en datawetenskaplikes hou ʼn bykomende uitdaging vir ekonome se historiese voorrang as kundiges in ekonomiese, kwantitatiewe data-ontleding en ondersteuning met besluitneming in regerings en besighede in. Die vraag is dus hoe ekonomiese denke en modellering nuttig kan bly gegewe die kritiek van ander wetenskaplikes en die vooruitgang in datawetenskap?

Euan Phimister pas in sy navorsingsloopbaan hoofstroom- ekonomiese metodes toe, en fokus op kwessies in landbou, natuurlike hulpbronne en die omgewing. In hierdie intreerede put hy uit sy navorsingservaring om perspektiewe te bied oor hoe ekonomiese denke en modellering in ʼn interdissiplinêre wetenskaplike wêreld van nut kan bly.

Met die ‘regte mense in die kamer’ voer hy aan dat ekonomiese denke en modellering katalisators kan wees vir ‘gekombineerde denke’ oor sosiale en ander wetenskappe heen deur begrip van besluitneming en mensegedrag in verband te bring met metodes wat wetenskaplikes kan aanwend. Deur te luister na en meer ontvanklik te wees vir ander dissiplines kan ekonome se werk en die beperkings daarvan verryk word, maar hulle moet wel ook ander dissiplines bystaan en van diens wees (eerder as andersom), waardeur hoofstroom- ekonomiese denke en modellering nuttig en relevant kan bly.

Ekonome se vermoëns in kwantitatiewe data-ontleding en modelbou skakel van nature met analitiese metodes in die wetenskap. Alhoewel die konseptuele benaderings dalk verskil, beteken hul doel om besluitneming in hul werk te weerspieël dat die navorsingsvrae wat hulle vra dikwels ooreenstem met dié van ander sosiale wetenskappe.

Die intreerede word afgesluit met enkele besinnings oor die moontlike implikasies van die toepassing van ekonomiese denke en modellering vir ʼn gebied soos ontwikkelingsfinansies, wat dikwels as ʼn subgebied van finansies en ekonomie beskou word, en gevolglik die opvoeding van kundiges op die gebied van ontwikkelingsfinansies in bestuurskole in Afrika.

Kort biografie

Euan Phimister is ʼn professor van Ontwikkelingsfinansies en hoof van Ontwikkelingsfinansies by die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool. Hy is ʼn toegepaste ekonoom wie se navorsing op landbou, natuurlike hulpbronne en die omgewing fokus. Dit sluit in huidige werk aan plaashuishoudings en landelike ontwikkeling, toegang tot energie en brandstofarmoede, en verbetering van die beheer van indringerspesies.

Nadat hy ʼn honneursgraad in Landbou aan die Universiteit van Aberdeen, Skotland behaal het, behaal hy sy MSc en PhD in Landbou-ekonomie aan die Universiteit van Manchester, VK. Laasgenoemde het ontwikkel uit die tyd wat hy by die Sentrum vir Wêreldvoedselstudies by die Vrije Universiteit in Amsterdam deurgebring het. Sy eerste permanente akademiese pos was as dosent in Operasionele Navorsing in die Departement Ekonometrie aan die Universiteit van Manchester, voordat hy verskuif na die Universiteit van Aberdeen waar hy ʼn professor van Ekonomie by die Bestuurskool was voordat hy by die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool aangesluit het. Tydens sy loopbaan by die Universiteit van Aberdeen was hy hoof van Ekonomie, adjunkhoof, direkteur van Navorsing en direkteur van Hulpbronne van die Bestuurskool. Hy was ʼn besoekende navorser by INRA, Rennes, Frankryk en die Landbou-ekonomie Instituut in Den Haag, en is tans ʼn erevennoot van die James Hutton Navorsingsinstituut in Skotland, en ʼn senior genoot van die VK se Hoëronderwysakademie. Hy onderneem verskeie konsultasieprojekte, insluitende werk vir die Angolese regering en ekonomiewye modellering van landelike ontwikkelingsbeleide vir die EU Kommissie.

Oor die afgelope tien jaar is hy betrokke by verskeie interdissiplinêre ekstern gefinansierde navorsingsprojekte wat vennote uit Ethiopië, Ghana en Uganda betrek. Hy staan tans aan die stuur van ʼn Global Challenges Research Fund-projek oor land- en gronddegradering in Ethiopië, wat grondwetenskap, omgewingsmodellering, ekonomie en breër sosiale wetenskappe behels. Sedert 2019 is hy ook deel van ʼn projek met ʼn internasionale span ekoloë vir die ontwikkeling van ekonomiese en finansiële modelle om indringerspesiebestuur in Argentinië, Chili en Brasilië te verbeter.

Hy was ʼn lid van die VK se Navorsingsuitnemendheidskomitee vir Landbou-, Veeartsenykundige en Voedselwetenskap, wat navorsing deur VK-universiteite vir die tydperk 2007–2014 en 2014–2021 geëvalueer het en waarvan die resultate die grondslag van die VK-regering se toekenning van kernnavorsingsbefondsing aan VK-universiteite gevorm het. Hy is ook ʼn mederedakteur van die Journal of Agricultural Economics. Sy navorsing is in verskeie internasionale ewekniebeoordeelde akademiese vaktydskrifte gepubliseer.

Kyk die intreerede hier

Besonderhede

Datum:
Mei 2, 2023
Tyd:
17:3018:30

Organiseerder vir intreerede

Amira Brown
Epos:
browna@sun.ac.za

Lokaal

Stellenbosch Business School, Bellville Park Campus, Room 212 (Marula)
4 Carl Cronje Drive
Cape Town, South Africa
+ Google Map
Afrikaans