Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Goeie nuus vir Telkom-kliënte

Telkom is bekend daarvoor dat hulle nie altyd die beste publisiteit kry nie – of dit nou gegrond is of nie. Ons almal ken die spottende verwysing na “Hellkom”. Maar die afgelope maand poog dié telekommunikasie-maatskappy om weer in ADSL-gebruikers se goeie boekies te kom.

Die eerste aanduiding hiervan is die aankondiging op 20 September dat die spoed van alle ADSL-pakkette, teen geen ekstra koste verhoog sal word. Vanaf November sal Telkom begin om die spoed van kliënte wat 1Mbps gebruik, op te gradeer na 2Mbps, die 2Mbps na 4Mbps en 4Mbps na 10Mbps. Voortaan sal die ‘Tot 4 096/10 240 kbps’ pakket verdeel word in twee kategorieë, ‘Tot 4 096 kbps’ en ‘Tot 10 240 kbps’.

Volgens Casper Kondo Chihaka, Telkom se Uitvoerende direkteur van groothandel, sal die opgradering aan kliënte die geleentheid bied om ‘n vinniger spoed te bereik, afhangende van die bestaande netwerktoestande. 

Buiten hierdie ADSL-meevallertjie, het die maatskappy ook aangekondig dat Telkom internet-intekenare vir `n beperkte tydperk onbeperkte data sal ontvang vir sekere multimedia- en speletjiedienste. Die twee Telkomdienste wat ter sprake is, is Do Movies en Do Gaming. Wanneer Telkom internetgebruikers hierdie dienste gebruik, sal data nie van die maandelikse kwota data afgetrek word nie.

Die Do Movies promosie bied onbeperkte data vanaf 1 Oktober tot 31 Maart vir DStv Catch Up onlineDStv BoxOffice online, Apple TV deur middel van iTunes en die Samsung Video Hub.

Die Do Gaming opsie bied onbeperkte data op speletjie-platforms en bedieners vanaf 4 Oktober vir 30 dae vandat die diens geaktiveer is. Die “gratis data” platforms sluit die PlayStation Network, Xbox Live, Battle.net, Steam, Origin en die Do Gaming bedieners in.

Alle data wat op hierdie platforms gebruik word, hetsy dit vir aanlyn speletjies, die aflaai van `n speletjie of programveranderings is, sal nie afgetrek word van kliënte se normale datagebruik nie. Indien jy na die 30 gratis dae wil aanhou om die Do Gaming diens te gebruik, kan jy dit aankoop teen R49 per maand. 

[BRON: www.mybroadband.co.za]

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.