Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Maklike verwysings met Zotero

Daar is seker geen twyfel daaraan dat elke universiteitstudent ten minste een geskrewe stuk (opstel, verslag, ens.) in sy/haar tyd as student sal moet skryf wat verwysings benodig. Daar is ook seker geen twyfel daaraan dat net die noem van die woord “verwysings” die meeste studente hulle glimlagte sal laat verloor of, in ’n nagmerrie-scenario, veroorsaak dat hulle skreeuend weghardloop met hulle arms wat wild rondswaai.

Dit is heel verstaanbaar.

Om verwysings met die hand op te stel – deur tred te hou van jou bronne, seker te maak jy het die korrekte inligting oor hulle en laastens na hulle in die korrekte plekke en in die korrekte styl te verwys – is ’n aaklige ervaring. Dit is vervelig, moeisaam en baie tydrowend. Hoewel baie fasette van navorsing geweldig oor die afgelope dekades ontwikkel het, is dit nogal vreemd dat ’n eenvoudige en maklike oplossing vir hierdie hardnekkige probleem nog nie verskyn het nie[1].

Dit is natuurlik tot die opkoms van Zotero. In die volgende afdelings sal ons kortliks kyk na hoe Zotero funksioneer in ’n poging om jou te wys hoekom sommige mense dink dis die beste ding na brood en botter.

Wat is Zotero en hoe kry ek dit in die hande?

Zotero is ’n gratis, oopbron- sagtewarepakket wat op jou persoonlike rekenaar, Mac of Linux-gebaseerde rekenaar geïnstalleer kan word. Dit loop as ’n “byvoegsel” (add-on) binne die Mozilla Firefox blaaier (wat ook gratis en oopbron is) en integreer baie goed met jou verwysingsproses deur al die stappe daarin grootliks te vereenvoudig: versameling van bronne, organisering van bronne en aanhaling van bronne – in die korrekte styl – in jou skripsie, opstel of verslag.

Om Zotero te installeer, moet jy eers seker maak Firefox is geïnstalleer. Indien nie, laai eers Firefox af. Maak Firefox oop. Gaan dan na hierdie bladsy en klik op die “Zotero for Firefox” knoppie.[2]

In ons volgende uitgawe kyk ons meer in detail hoe Zotero werk en gee jou `n paar gevorderde wenke om te verseker jy gebruik jou Zotero op `n effektiewe manier.


[1] ’n Aantal sagtewarepakkette om verwysings mee op te stel, is wel reeds vir ’n lang tyd beskikbaar. Nie een van hulle kon nog egter die verwysingservaring waarlik wrywingloos gemaak in die mate waartoe Zotero dit doen nie.

[2] Zotero is ook as ’n alleenstaande pakket beskikbaar (m.a.w. buite die Firefox blaaier), maar dit is baie makliker om dit binne die Firefox blaaier te gebruik.

 

[ARTIKEL DEUR JOHANNES JONKER]

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.