Die gesamentlike soeke na ’n nuwe handelsmerk vir die Universiteit Stellenbosch

Die reis na ’n saambindende Universiteit Stellenbosch-handelsmerk

Prof Hester C Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, en die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking kondig graag aan dat die Raad ’n nuwe visuele identiteit vir die Universiteit Stellenbosch (US) goedgekeur het. Dit sluit ’n nuwe logo en handelsmerkposisioneringstrategie in wat met die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 strook. Die nuwe logo vervang die ‘S’-blaarlogo, wat sedert 2000 in gebruik is.

Om ’n instelling se handelsmerk te verander is allermins ’n eenvoudige taak: Dit is een van die sigbaarste institusionele strategiese inisiatiewe wat die US die afgelope paar jaar onderneem het, en het ’n universiteitswye impak. Juis daarom is hierdie onthulling van die nuwe logo slegs dít – ’n onthulling. Daar is nog heelwat te doen voordat ons die nuwe visuele identiteit kan begin gebruik. Die laaste fases van die handelsmerkprojek sal nou ontvou. Dít sal uitloop op ’n amptelike bekendstelling van die nuwe visuele identiteit, waarna ons dit deur die hele Universiteit sal begin implementeer.

Verdere inligting hieroor volg in die maande wat voorlê.

Bekendstelling van ons nuwe logo

Ons is dankbaar vir al die waardevolle bydraes wat ons op ons reis na ’n nuwe handelsmerk ontvang het. Danksy ons personeellede, studente, alumni en uitgebreide gemeenskap van belanghebbendes kan ons nou ons nuwe, goedgekeurde visuele identiteit onthul.

Die nuwe US-logo behels sowel ’n visuele as ’n geskrewe komponent.

Die visuele komponent bestaan uit twee elemente: Die eerste is ‘S’-vormige lyne (vir ‘Stellenbosch’), wat die warmte, lewenskrag en polsende energie van ons Afrikavasteland voorstel. Tweedens vorm hierdie lyne drie ononderbroke strome binne-in ’n ‘U’ (vir ‘Universiteit’) om ons gesamentlike potensiaal as ’n gemeenskap uit te beeld.

Afgesien van die gestileerde afkorting “US”, bestaan die geskrewe inhoud van die nuwe logo uit die woord “Stellenbosch”, sowel as “Universiteit” in die drie tale wat die instelling gebruik, naamlik Engels, isiXhosa en Afrikaans. Die logo gaan gepaard met die US se institusionele leuse, wéér in die Universiteit se drie tale – “forward together, sonke siya phambili, saam vorentoe”.

Die nuwe logo is modern en gestroomlyn, maar terselfdertyd klassiek en elegant. Boonop is dit leesbaar, duidelik en herkenbaar, soos dit ’n wêreldklas- akademiese instelling betaam wat daarna streef om teen 2040 die voorste navorsingsintensiewe universiteit in Afrika te wees.

Omvattende oorlegpleging vir wye aanvaarding

In ons soeke na ’n nuwe handelsmerk het ons deurgaans wyd oorleg gepleeg om te sorg dat ons belanghebbendes deel is van elke stap in die proses. Oorlegpleging het in twee fases geskied – een voor logo-ontwerp (tot en met November 2020), en die ander nadat die ontwerpspan ’n paar logo-opsies geskep het (Januarie en Februarie 2021).

Voordat werk aan die ontwerp begin het, is die US se fakulteite, Komitee vir Visuele Regstelling, Institusionele Transformasiekomitee, Studenteraad en alumni na aanlyn oorlegplegingsessies genooi. Hierdie sessies is in ’n inklusiewe en raadplegende gees aangebied. Ná die aanlyn sessies het ’n elektroniese opname gevolg waaraan alle personeellede, studente, alumni en Raadslede kon deelneem. Altesaam 1 075 mense het hulle sê gesê voordat logo-ontwerp begin het. Hulle kommentaar het as grondslag vir die kreatiewe ontwerp-opdrag gedien.

Die ontwerpspan het met drie logo-opsies vorendag gekom. Die doel van die tweede oorlegplegingsfase was om kernbelanghebbendes, waaronder studente, personeellede en alumni, se reaksie op die drie opsies te toets. Wéér is aanlyn sessies en ’n elektroniese opname onderneem, en dié keer het 2 025 belanghebbendes kommentaar gelewer. Die insigte uit hierdie fase het die finale ontwerpe bepaal, wat daarna aan die US se statutêre liggame voorgelê is. Die Raad het uiteindelik die finale keuse by sy vergadering van 13 April 2021 goedgekeur.

Van ‘vernuwe’ tot ‘nuut’: Hoe ons tot hier gekom het

’n Universiteitswye oudit het in 2017 op meer as 170 verskillende logo’s in die verskillende US-omgewings afgekom. Daarom is ’n ‘handelsmerkvernuwing’ in 2019 van stapel gestuur om die bestaande handelsmerk in iets meer saambindend te omskep.

Die eerste stap was ’n handelsmerkwaardasie en -opvattingsoudit deur die onafhanklike diensverskaffer Brand Finance. Dít het getoon dat die US sy bestaande handelsmerk-ekwiteit beter kan benut en ’n ander handelsmerkposisionering nodig het. Werk aan ’n nuwe handelsmerkposisioneringstrategie het in November 2019 met die aanstelling van die handelsmerkagentskap Boomtown begin.

Die US se nuwe handelsmerkposisionering, “Streef. Ontdek. Saam”, weerspieël wie ons is, en bepaal hoe ons oor die toekoms dink. Om na kennis te streef en dit te ontdek is ons motivering, en skep ’n kultuur van opwinding en samewerking. En juis omdat ons dit sáám doen, kan ons uitdagings die hoof bied en ons intellek, idees en innovasies saamvoeg om met praktiese oplossings vir wesenlike probleme vorendag te kom.

Met hierdie handelsmerkposisionering as uitgangspunt het Boomtown aan die werk gespring met hulle aanvanklike opdrag om die US se bestaande visuele identiteit te vernuwe. Maar hoe verder die proses gevorder het, hoe meer oortuig was ons belanghebbendegroepe dat ’n algeheel nuwe visuele identiteit die beste sou wees om die US se nuwe, toekomsgerigte handelsmerkposisionering tot sy reg te laat kom. En só word ‘vernuwe’ toe ‘nuut’.

Toe die opdrag verander, het die ontwerpproses óók. Om die ontwerp-opdrag vir die splinternuwe visuele identiteit te bepaal, is US-belanghebbendes genooi om aan ’n eerste fase van aanlyn oorlegplegingsessies en ’n elektroniese opname deel te neem. Op dié manier was ons belanghebbendes se voorkeure dus reeds deel van die drie logo-opsies wat hulle in die tweede oorlegplegingsfase moes beoordeel.

Vir navrae oor die handelsmerk:

Eenheid vir Handelsmerkbestuur
branding@sun.ac.za
Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Vir medianavrae:

Martin Viljoen
media@sun.ac.za

*Die nuwe logo sal mettertyd by die Universiteit Stellenbosch geïmplementeer word. Hierbo is ’n paar voorbeelde van hoe dit gebruik kan word.