Augsburg graad 10-leerders verruil klaskamer vir die buitelug

  • Post author:
  • Post category:News
  • Reading time:2 mins read

Op Vrydag 7 Mei 2021 het graad 10-leerders van Augsburg Landbougimnasium hulle klaskamer vir die buitelug verruil as deel van hulle jaarlikse deelname aan die Iimbovane Projek.

Iimbovane (wat ‘miere’ in isiXhosa beteken) is ‘n wetenskapsuitreikprojek van die Universiteit Stellenbosch wat miere as modelspesie gebruik om leerders oor biodiversiteit en wetenskap te leer.

Augsburg Landbougimnasium het in 2010 by die Iimbovane Projek aangesluit en sedertdien help graad 10-leerders wat Lewenswetenskap as vak neem die projek met die insameling van miere.

Die dag het afgeskop met ʼn kort oorsig van die teoretiese aspekte van biodiversiteit waarna die projekspan die nodige veldwerkmetodes aan die leerders verduidelik het.

Daarna was dit tyd om die veld aan te durf!

Die leerders het die pitvalletjie-metode gebruik vir die insameling van die mierspesies wat behels het dat die leerders 20 pitvalletjies (plastiekhouertjies waarin die miere val) in die skoolgrond moes plant. Hierdie pitvalletjies is dan vir ‘n paar dae en nagte buite gelaat om sodoende miere wat slegs in die dag asook miere wat slegs in die nag aktief is, te versamel.

Hierdie miere word na afloop van die veldwerk deur navorsers by die Universiteit Stellenbosch geïdentifiseer waarna die leerders ook ‘n geleentheid gaan kry om die miere van nader deur mikroskope te bekyk.

‘n Paar van bekende mierspesies wat jaarliks in Augsburg Landbougimnasium se skoolgrond gevind word, sluit in die rooibruinkleurige Tetramorium quadrispinosum, die blitsvinnige Ocymyrmex cf. barbiger, asook die Argentynse indringermier (Linepithema humile).

Hierdie jaarlikse besoeke gee vir ons leerders die geleentheid om te sien hoe wetenskap, veral ekologie, in die praktyk gedoen word. Dit is vir baie van ons leerders inspirerend en moedig hulle aan om meer vir die omgewing om te gee,” sê Mnr. Riaan Engelbrecht, vakhoof by Augsburg Landbougimnasium.

Die Iimbovane Projek word finansieel ondersteun deur die Rand Merchant Bank Fonds en die Het Jan Marais Fonds.

Graad 10-leerders van die Augsburg Landbougimnasium besig om pitvalletjies te plant vir die insameling van mierspesies.