Karoo-miere onder die mikroskoop

  • Post author:
  • Post category:News
  • Reading time:3 mins read

Groot opwinding het geheers toe graad 10-leerders van Hoërskool Sentraal, in Beaufort-Wes, gevra is om die Iimbovane projekspan te help met ‘n opname van plaaslike mierspesies.

Hierdie opname het op 25 Augustus 2021 afgeskop met ‘n veldwerksessie waartydens leerders verskeie metodes gebruik om miere op hulle skoolgrond te versamel.

Die veldwerk het leerders gehelp om waardevolle praktiese vaardighede aan te leer, byvoorbeeld, hoe om waarnemings te maak, navorsingsareas af te meet en wetenskaplike toerusting te gebruik.

Op 30 Augustus 2021 het die projekspan na die skool teruggekeer, gewapen met mikroskope en Petri-bakkies.

Leerders sou nou die kans kry om die versamelde mierspesies met behulp van mikroskope en ‘n wetenskaplike sleutel te identifiseer

Die sessie was baie gewild en leerders het dit geniet om die miere van nader te bekyk. Tot groot verbasing het hulle gevind dat daar meer as een mierspesie op hulle skoolgrond rondloop en dat mierspesies in voorkoms verskil.

Die projekspan is bygestaan deur MSc student, Abusisiwe Ndaba. Sy is tans besig om die mier genus Anoplolepis te hersien en kon vir die leerders meer oor die studieveld van taksonomie vertel. Abusisiwe se navorsing word deur die ‘Foundational Biodiversity Information Programme (FBIP)’ befonds.

Die leerders het veral individue van die mierspesie Anoplolepis custodiens tydens hul veldwerk versamel. Ander mierspesies wat ook van nader bekyk is, is die groot swart en goudkleurige Camponotus fulvopilosus en die Messor capensis wat bekend is daarvoor dat hulle die sade van karoo-plante versprei.

Iimbovane (wat ‘miere’ in isiXhosa beteken) is ‘n wetenskapsuitreikprojek van die Universiteit Stellenbosch wat mierspesies gebruik om leerders aan biodiversteit bekend te stel en hulle help om praktiese wetenskapsvaardighede aan te leer.

Hoërskool Sentraal, in Beaufort-Wes, neem reeds vanaf 2009 aan die Iimbovane projek deel.

Iimbovane word finansieel ondersteun deur die Rand Merchant Bank Fonds, Mapula Trust en die Het Jan Marais Fonds.

Abusisiwe Ndaba wys ‘n leerder van Hoërskool Sentraal hoe om ‘n mier met behulp van ‘n mikroskoop te identifiseer

‘n Graad 10-leerder van Hoërskool Sentraal gebruik ‘n wetenskaplike sleutel om ‘n mier te identifiseer.