MTN in Suid-Afrika het pas sy kliënte gewaarsku dat `n nuwe simkaart skelmstreek tans die rondtes doen. Dié swendelary maak misbruik van die waarskuwing-sms’e wat MTN aan sy kliënte stuur.
Die sindikaat poog om MTN-kliënte se persoonlike bankdetails te bekom deur `n e-pos, soortgelyk aan onderstaande te stuur:
“Dear Client, We have discovered a suspected Sim swap attempt on your no. The swap will be processed within the next hour. If you did not initiate this Sim swap, please Cancel here.”
Die “cancel”-skakel lei die gebruiker na `n webwerf waar hy/sy bankdetails moet invul. Vanselfsprekend kan kuberkriminele dan hierdie inligting gebruik om bedrog te pleeg vanaf die rekening.
MTN waarsku selfoongebruikers om nie op hierdie e-posse te reageer nie. Indien `n simkaart-omruiling sou plaasvind, sal daar nie d.m.v. e-pos gekommunikeer word nie. MTN het toegang tot die webwerf geblokkeer op sy netwerk, maar neem ook kennis van soortgelyke e-posse as jy op ander selfoonnetwerke is.
Indien jy `n MTN-gebruiker is, rapporteer insidente by 083 123 7867.
[BRON: www.techcentral.co.za]