Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Kommunikasie

IT op die lug

Vrydag, Augustus 30th, 2013

Die dae wat die Informasietegnologie-afdeling die onbereikbare entiteit aan die ander kant van Banghoekweg is, is lank reeds verby. Sedert 2010 het ons `n aktiewe poging begin aanwend om kommunikasie en interaksie met die res van kampus en almal aan wie ons `n diens lewer, te verbeter.

Begin September skud ons die winter se stof van ons voete en betree `n nuwe era van kommunikasie. Voortaan sal IT jou nie net bereik met e-pos nie, maar ook oor MFM se radiogolwe.

Met `n gehoor van 30 000 luisteraars tussen die ouderdom van 14-28 ouderdomsgroep, is daar geen twyfel dat IT `n jonger mark, en spesifiek studente sal bereik nie. Dié nuwe kommunikasiekanaal gee aan ons die geleentheid om `n groter deel van ons gebruikers op kampus te bereik en meer betrokke te raak by studentekwessies.

Daar sal dus voortaan twee-weekliks `n spesiale IT-insetsel op MFM wees op Dinsdae, 11:45 gedurende die AM-PM-show. Aangesien Bits & Bytes reeds `n gevestigde handelsmerk begin word, sal die insetsel ook bekendstaan as Bits & Bytes.
 
Bits & Bytes op die lug sal nie bloot nog `n institusionele mondstuk wees nie, maar eerder `n geleentheid om interessante tegnologiese verwikkelinge te bespreek. Daar sal ook geleentheid aan studente en personeel gegee word om d.m.v. ons Twitter-voer vrae te vra wat ons op die lug sal beantwoord. 
 
Ons sien uit daarna  om komende Dinsdag ons toetrede tot radio te maak en hoop jy skakel Dinsdag om 11:45 by ons in. Kliek hier om na MFM te luister.
 

 

 

 

Sê jou sê oor IT se dienste

Vrydag, Augustus 30th, 2013

In `n poging om Informasietegnologie se dienste te verbeter, wil ons ook graag by julle, ons gebruikers, kliënte en kollegas raad vra.

As jy `n geleentheid in jou bedrywige dag het, sal ons dit waardeer as jy deur middel van die onderstaande opname vir ons kan laat weet of jy tevrede is met IT se diens en ook by watter dienste jy baat vind en watter nie.

Hier is jou kans om jou mening te lug en gehoor te word! Kliek slegs op die toepaslike skakel onder.

Personeelopname
Studenteopname

 

Wat het Repelsteeltjie en gemorspos in gemeen?

Vrydag, Augustus 16th, 2013

Een van die algemeenste vrae wat gebruikers vir ons vra is: Hoe kry hierdie gemorsposversenders my adres?! 

Daar is `n hele paar metodes, maar die keer fokus ons op die “Repelsteeltjie”-aanval.  

`n Woordeboek of Repelsteeltjie-aanval is `n aanval waar die gemorspos-versender e-pos bedieners oorval met gebruikersname uit `n woordeboek. Die naam is natuurlik afkomstig van die ou Grimm sprokiesverhaal.

Lank, lank gelede toe die universiteit se e-pos sisteeem nog primitief was en e-posadresse beperk tot 8 karakters, het die meeste personeel eenvoudige adresse gehad soos ab@sun.ac.zaaa1@sun.ac.za, bv@sun.ac.za.  

Dis redelik eenvoudig om `n lys van algemene letterkombinasies saam te stel en @sun.ac.za by te las en `n e-pos adreslys saam te stel. Voeg daarby algemene rolgebaseerde rekeninge soos admin, help en support, sowel as die nuuste babaname lys en jy het `n lys waarmee jy jou aanval kan loods. 

Hoekom sal jy `n e-pos stuur na onbekende gebruikers of `n adres wat nie bestaan nie?

Eerder as om `n lys te koop by ander gemorsposverspreiders, is dit makliker en natuurlik goedkoper om net gemorspos te stuur na enige moontlike naam wat gegenereer kan word. 

Die tweede rede – en `n meer oneerlike een – is dat versenders dit gebruik om juis `n lys van geldige adresse op te bou. Eers word `n gegenereerde lys gestuur en wanneer hulle `n antwoord kry of die e-pos bediener aan die ontvangkant nie terugantwoord en bevestig dat die adres ongeldig is nie, kry hulle die geleentheid om die lys te verkoop as “bevestigde” adresse of om meer akkuraat te wees met hul aktiwiteite.

Hiermee in gedagte, kan jy jouself indink hoe gevaarlik dit is om op hierdie e-posse te antwoord of te kliek op die “teken uit” opsie wat algemeen by die tipe e-posse ingesluit word. Selfs om “Send delivery receipt” op outomaties te stel hou `n gevaar in.

Sodra die skuldiges besef dat daar `n regte, lewendige persoon aan die ander kant van die e-pos is, sal die gemorspos net eenvoudig toeneem. Hulle word betaal om die e-posse suksesvol uit te stuur, nie noodwendig vir hoeveel mense daarop reageer nie.  

Volgende keer kyk ons na nog `n metode wat gebruik word om adresse te oes in Deel 2 – Trojaanse perde, Robotte en Zombies

[ARTIKEL DEUR DAVID WILES]

eduroam: internet sonder moeite

Vrydag, Augustus 2nd, 2013

As jy `n gereelde besoeker is aan universiteite, veral in Europa, is jy waarskynlik alreeds bewus van eduroam en hoe dit jou lewe as reisende akademikus vergemaklik. Daarom is ons opgewonde om aan te kondig dat eduroam ook voortaan by Universiteit Stellenbosch beskikbaar sal wees.

Maar vir die van ons wat nie weet nie – wat is eduroam presies? eduroam (education roaming) is  veilige, wêreldwye swerwende (“roaming”) toegangsdiens. Die diens het ontstaan as `n projek deur die  Trans-Europese Navorsing en Opvoedkunde Netwerk Organisasie  in Europa en het mettertyd spoed opgetel onder die navorsings en opvoedkunde-gemeenskap. 

eduroam is tans beskikbaar in 54 lande, insluitend South Africa en die diens verskaf `n maklike manier om toegang tot die internet te kry sonder te veel moeite. Dit gee aan studente, navorsers en personeel van deelnemende instellings die geleentheid om `n internetverbinding regoor kampusse en by ander akademiese instellings te kry deur net hul toestel (hetsy dit `n skootrekenaar, tablet of selfoon is) aan te sit.  

Gebruikers kan tussen kampusse beweeg en ander deelnemende instellings tuis of oorsee besoek en onmiddellik veilige netwerktoegang kry, sonder om ekstra gasterekeninge of wagwoorde te installeer. Die besoekende gebruiker se identiteit word gestaaf deur middel van dieselfde inligting (gebruiksnaam en wagwoord) wat gebruik word by sy eie akademiese instelling. 

Om eduroam vir jou departement te aktiveer, e-pos help@sun.ac.za met jou volledige inligting en vir meer inligting besoek www.eduroam.org. Meer informasie oor eduroam in Suid-Afrika, kan gevind word by http://eduroam.ac.za/

[BRONNE: www.wikipedia.org and www.eduroam.org]

Oppas vir suspisieuse oproepe

Dinsdag, Julie 9th, 2013

As jy `n oproep ontvang vanaf `n beweerde Microsoft-verteenwoordiger is die kans goed dat dit `n weergawe van die Indiese telefoon “scam” is. Kuberkriminele teiken foonnommers wêreldwyd en probeer rekenaargebruikers bedrieg deur verstellings te maak wat deur virusse en ander gevare van die betrokke rekenaar sal verwyder. 

Die persoon beweer dat die sekuriteitsverstellings van die rekenaar verouderd is en opgedateer moet word. In die proses gee die slagoffer toegang tot sy rekenaar en kan “malware” en “spyware” geinstalleer word. Die kredietkaartnommer word ook versoek as betaling vir die diens wat gelewer is. 

Moet onder geen omstandighede val vir hierdie skelmstreek nie. Vra jouself die volgende vrae af – hoe weet hulle jy het `n rekenaar? Het hulle jou aangespreek op jou naam en jou inligting verskaf? Het hulle duidelik die naam en inligting oor die maatskappy waarvoor hulle werk verskaf? Die waarskynlikheid dat iemand jou uit die bloute sal skakel om te help met jou rekenaars se opdaterings is bitter skraal.

Meer inligting oor hierdie foonswendelary:

http://answers.microsoft.com/en-us/protect/forum/mse-protect_scanning/phone-call-scams/aefc50a4-d7a4-4c79-8db5-2fafcd6ad196

http://fullcomment.nationalpost.com/2013/03/21/joe-oconnor-microsoft-windows-scam-a-grift-that-keeps-giving-for-cyber-crooks/

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.