Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof John Akudugu

Intreerede

Augustus 2, 2022 @ 17:3018:30

Radiobiologie: So oud soos X-strale, dog bykans onbekend

Radiobiologie (die studie van die biologiese uitwerkings van ionisasiestraling) het kort ná die ontdekking van X-strale in 1895 ontstaan. Die dissipline geniet egter nie die algemene erkenning wat dit verdien nie. Radiobiologie speel belangrike rolle in ander toegepaste stralingsgebiede, soos stralingsonkologie, kerngeneeskunde, radiologie en stralingsbeskerming. Die dissipline is egter grootliks onbekend en ervaar voordurend ʼn identiteitskrisis – in die mate dat sommige radiobioloë dikwels na hulself as kankerimmunoloë of bloot bioloë verwys. Die dissipline gebruik hoofsaaklik navorsingsbevindinge om advies aan klinici en stralingsbeskermingspraktisyns te gee, en word dus as ʼn hulpentiteit beskou. Daar is geen aangewese befondsing vir radiobiologie in Suid-Afrika nie en projekte word hoofsaaklik met behulp van individuele befondsing uitgevoer. Die gebrek aan befondsing vir radiobioloë blyk ʼn wêreldwye verskynsel te wees. Die identiteitskwessie word in Suid-Afrika vererger deur die afwesigheid van ʼn stelsel vir die akkreditering van radiobioloë (wat tipies in meestersgraad- en doktorale programme opgelei word) deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe (HPCSA) en die gebrek aan geakkrediteerde radiobiologie-internskapprogramme. Sonder navorsingsbefondsing en ʼn formele HPCSA-akkreditasiestelsel lyk die toekoms van radiobioloë in die land duister. In hierdie intreerede bespreek ek die belang van die dissipline en enkele uitdagings waarvoor dit te staan kom.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Prof John Mbabuni Akudugu is in Bawku (Ghana) gebore. Hy is tans ʼn volprofessor van Radiobiologie en hoof van die Afdeling Radiobiologie van die Universiteit Stellenbosch. Hy behaal ʼn BSc in Fisika aan die Kwame Nkrumah Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Ghana). Sy belangstelling in die gebied van radiobiologie ontstaan tydens sy studies aan die Noorweegse Universiteit van Wetenskap en Tegnologie, waar hy ʼn MSc in Biofisika en Mediese Tegnologie behaal.

Hy sluit by die Universiteit Stellenbosch aan en behaal ʼn PhD in Radiobiologie nadat hy vir drie jaar as ʼn mediese fisikus by die Ghana Atoomenergiekommissie en die Korle-Bu Opleidingshospitaal gewerk het. Ná ʼn nadoktorale genootskap van een jaar beklee hy ʼn tweede nadoktorale genootskap in Kliniese Radiobiologie aan die Universiteit van Toronto. Prof Akudugu keer as ʼn navorsingswetenskaplike by iThemba LABS en ʼn besoekende medeprofessor by Noordwes-Universiteit vir vier jaar na Suid-Afrika terug. Daarna werk hy vir drie jaar as ʼn besoekende navorser by die New Jersey Mediese Skool (VSA). Hy beklee sedert 2012 sy huidige posisie.

Sy navorsing het gelei tot 53 ewekniebeoordeelde publikasies in ʼn verskeidenheid internasionale vaktydskrifte, meer as 80 konferensieverrigtinge en 3 patente, met 512 aanhalings (h-indeks: 14). Hy het reeds as studieleier vir 26 nagraadse studente en genote gedien.

Hy is tans ʼn NNS-C1-beoordeelde navorser en dien as sowel ʼn toelaagevalueerder as lid van die toelaagevalueringspaneel. Hy is ook ʼn toelaagevalueerder vir die Kankervereniging van Suid-Afrika. Benewens Fakulteitsverpligtinge en evaluering van verskeie nagraadse proefskrifte, sluit sy wetenskaplike take die evaluering van manuskripte vir meer as tien internasionale vaktydskrifte in (waaronder die International Journal of Radiation Biology, Radiation Research, die Journal of Nuclear Medicine, Anti-Cancer Drugs en Cell Proliferation). Hy is ook ʼn redaksiekommissielid van die Journal of Cancer Biology and Therapeutics. Sy navorsingsbelangstellings sluit in geteikende kankerterapie, modellering van die reaksies van tumors en normale weefsel op terapie, stralingsensitiseerders en -beskermers, en kankerbiomerkers.

Kyk die intreerede hier

Besonderhede

Datum:
Augustus 2, 2022
Tyd:
17:3018:30

Organiseerder vir intreerede

Amira Brown
Epos:
browna@sun.ac.za

Lokaal

JN de Villiers Boardroom, Clinical Building, Faculty Medicine and Health Sciences
Francie Van Zijl Drive
Cape Town, 7605 South Africa
+ Google Map
Afrikaans