Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Wesaal Khan

Intreerede

Junie 29, 2023 @ 17:30

Veilige water is ʼn mensereg: Oorkom die laaste struikelblok op pad na watersekerheid vir almal

Wesaal Khan se passie vir waternavorsing het gedurende haar PhD-studie begin. Sy onderneem twee jaar van haar navorsing in Duitsland, ’n eerstewêreldland met een van die beste watervoorsiening- en sanitasiestelsels ter wêreld, waar sy besef dat sy haar nuwe vaardighede kan gebruik om Afrika se enorme uitdagings met swak watergehalte en onvoldoende sanitasie-infrastruktuur die hoof te bied. Haar navorsing hou direk verband met die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (2015) en is hoofsaaklik daarop gerig om deur universele toegang tot veilige en bekostigbare drinkwater (doelwit 6) goeie gesondheid en welstand (doelwit 3) vir burgers van lae- en middelinkomstelande te verseker. Vir dié doel onderneem Wesaal en haar span innoverende navorsing. Twee van haar navorsingstemas in die US se Waterhulpbronnelaboratorium is reënwaterbehandeling en beter watergehaltemonitering, en sekondêre metaboliete met kiem- en aanwaswerende potensiaal.

Wesaal se intreelesing handel spesifiek oor vooruitgang in haar navorsing oor (i) innovasie in watergehaltemonitering vir akkurate risikobepaling, en (ii) kombinasiewaterbehandelingstelsels met veelvuldige versperrings.

Innovasie in watergehaltemonitering vir akkurate risikobepaling – Watergehalte word tradisioneel gemoniteer deur die vlakke van indikator-organismes met behulp van kwekingsgebaseerde metodes te toets. Nogtans behels tradisionele monitering verskeie slaggate, en kan sel-integriteit gebruik word om tussen lewensvatbare en dooie bakterieë te onderskei. Deur hierdie beginsel toe te pas, was Wesaal en haar span een van die eerste navorsingslaboratoriums ter wêreld om die lewensvatbaarheidskleurstowwe etidium-monoasied-bromied en propidium-monoasied met kwantitatiewe PKR en amplikon-gegronde volgordebepaling te kombineer en sodoende die voorkoms en oorlewing van mikrobiese patogene in omgewingswaterbronne akkuraat te moniteer. Daarna pas hulle risikobepalingstrategieë toe om vas te stel watter moontlike gesondheidsimpak en infeksiesiektegevaar dit kan inhou indien water uit die omgewing vir drinkwater- en huishoudelike doeleindes gebruik word.

Kombinasiewaterbehandelingstelsels met veelvuldige versperrings – Chemiese en fisiese behandelingsmetodes word gebruik om veral die mikrobiologiese gehalte van omgewingswaterbronne te verbeter. Nietemin toon navorsing dat patogene verskeie stresreaksiemeganismes kan aktiveer en na ’n meer tolerante fenotipe kan oorskakel wanneer hulle aan omgewingstressors soos dié gedurende waterbehandeling blootgestel word. In hulle soektog na alternatiewe waterbehandelingstrategieë ondersoek die Waterhulpbronnelaboratorium dus die uitskakeling van mikrobiese patogene met behulp van ’n natuurlike vyand of predator, of die verbindings wat sodanige vyand of predator produseer. In die besonder gebruik Wesaal en haar span predatoriese bakterieë en bakteriofage (biobeheer) saam met sonbehandeling om waterpatogene uit te wis of hulle kans op oorlewing te verswak.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Wesaal Khan het haar tersiêre onderwys aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) begin en het die Universiteit Stellenbosch (US) vir haar MSc en later ook PhD in Mikrobiologie gekies. Sy het haar doktorsgraad in 2004 verwerf. Haar doktorale navorsing het gehandel oor mikrobiese interaksies in drinkwaterstelsels, wat deel was van ’n samewerking tussen die US en die Stadtwerke Düsseldorf in Duitsland, waar sy twee jaar deurgebring het. In 2003, het sy as navorser begin werk by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie, waar sy later tot medeprofessor en hoof van die Biotegnologieprogram bevorder is. Sy was ook in 2007 gasdosent en besoekende wetenskaplike aan die Landbou- en Tegniese Universiteit van Noord-Carolina in Greensboro, Verenigde State.

Wesaal begin haar loopbaan by die US in 2011 as senior dosent in die Departement Mikrobiologie en word in 2017 tot medeprofessor en in Januarie 2023 tot professor bevorder. Sy is tans die hoofnavorser van die Departement se Waterhulpbronnelaboratorium en het onlangs ’n C1-gradering van die Nasionale Navorsingstigting ontvang.

Sy was sedert 2007 studieleier of medestudieleier vir 24 nagraadse studente (nege PhD en 15 MSc, van wie nege cum laude gegradueer het). In 2015 word sy as naaswenner aangewys in die kategorie “Uitgelese jong vrouewetenskaplike (Lewenswetenskappe)” van die Suid-Afrikaanse Vroue in die Wetenskap-toekennings ter erkenning van haar bydrae tot wetenskaplike en navorsingskundigheid in die land.

Wesaal en die lede van haar navorsingsgroepe het oor die jare hulle bevindinge in 71 ewekniebeoordeelde vaktydskrifartikels en drie boekhoofstukke gepubliseer en een patent geregistreer. Sy het al vier programredes en twee hoofaanbiedings by geleenthede binne én buite Suid-Afrika gelewer en in die reëlingskomitees vir etlike konferensies en simposiums gedien, onder andere as voorsitter van die komitee vir die Wêreldgesondheidsorganisasie se Internasionale Antimikrobiese Bewusmakingsweek-simposium in Suid-Afrika in November 2022. Wesaal dien tans as gasredakteur vir twee spesiale uitgawes van die Journal of Environmental Chemical Engineering oor onderskeidelik volhoubare waterbehandelingstegnologieë in hulpbronarm omgewings en baanbrekervroue in waternavorsing. Sy is boonop voorsitter van die Fakulteit Natuurwetenskappe se Sosiale Impak-komitee en werk sowel nasionaal as internasionaal saam met vennote soos die Universiteit van Johannesburg (Gauteng), die Sustainable Livelihoods Foundation (Kaapstad), die Universiteit van Ulster (Noord-Ierland), die Koninklike Kollege van Chirurge (Ierland), CSIRO: Land & Water (Australië), Arizona-staatsuniversiteit (Verenigde State), die Universiteit van Botswana, en die Universiteit van Mekelle (Ethiopië).

RSVP HIER

Besonderhede

Datum:
Junie 29, 2023
Tyd:
17:30

Organiseerder vir intreerede

Olivia Adams
Epos:
adamso@sun.ac.za
Afrikaans