Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Francois Roets

Intreerede

Junie 8, 2023 @ 17:3018:30

Die lewe het die wêreld deur stryd en netwerke oorgeneem

Die komplekse maniere waarop alle organismes in die natuur met mekaar omgaan om die masjinerie van die lewe behoorlik te laat werk, fassineer wetenskaplikes al geruime tyd. Hierdie interaksies, of simbioses, tussen organismes is dikwels ’n belangrike dryfkrag agter die evolusie van lewe op aarde.

Dink maar aan hoe plante ingewikkelde aangepaste blaarstande (of blomme) ontwikkel het vir die uitsluitlike doel om diere vir hulle eie voortplanting te lok – ’n proses wat ons bestuiwing noem. Dié interaksie baat sowel die plant as die bestuiwer. Nietemin kan organismes ook op nadelige maniere met mekaar omgaan. Party mikrobes kan hulle gashere doodmaak, hoewel dít die populasiegetalle van byna alle organismes op aarde help reguleer. Hierdie simbioses, die goeies én die slegtes, bestaan in alle ekosisteme, van groot reservate tot jou agterplaas, en selfs in jou eie liggaam. Geen organisme bestaan in afsondering nie.

Onder leiding van prof Francois Roets, konsentreer die Diversiteits- en Simbiosenavorsingsgroep in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie aan die Universiteit Stellenbosch op die diversiteit en interaksies van swamme, plante en geleedpotiges in Suid-Afrika se Kaapse planteryk. Die groep was al betrokke by die ontdekking en beskrywing van meer as 50 nuwe swamspesies, tien nuwe plantspesies, en ongeveer tien spesies geleedpotiges. Baie van die nuwe swamme was voorheen onbekende plantpatogene in Suid-Afrika, en van die nuwe geleedpotiges is miskruiers wat omgewings help skoonmaak.

Meestal werk die groep egter daaraan om die geheimenisse te ontrafel van organismes se interaksie met mekaar en hulle omgewing, en hoe hulle kan saambestaan. Een van dié stelsels is die interaksie tussen swamme, myte, insekte, voëls en bakterieë in die vrugstrukture van Protea, die plantgenus waartoe Suid-Afrika se nasionale blom, die koningsprotea, behoort. Hierdie vrugstrukture, of ‘keëls’, kan as mini-ekosisteme beskou word en is die ideale toetsterrein vir idees oor gemeenskapsekologie. Die navorsingsgroep het onder andere beskryf hoe swamme wat in hierdie keëls woon spesiale spore en gespesialiseerde verwantskappe met myte ontwikkel het om hulle van een habitat na ’n ander te help versprei deur insekte en selfs voëls as ‘taxi’s’ te gebruik.

Een van die meer onlangse ontdekkings behels ’n swam wat ’n manier gevind het om sy gasheerplant te steriliseer en dan swamspore (die ‘sade’ van die swam) eerder as die gewone stuifmeelkorrels te laat produseer. Hierdie kamoefleerstelsel is so volmaak dat bye, wat gewoonlik die plant bestuif, nie tussen blomme met stuifmeel en dié met swamspore kan onderskei nie. In dié vindingryke stelsel kaap die swam dus die plant se voortplantingstelsel en gebruik die plant se gewone bestuiwers om infeksiespore van siek plante na gesondes te versprei.

Hoewel hierdie natuurstelsels normale funksies in gesonde ekosisteme help handhaaf, kan antropogeniese invloede simbioses op dramatiese en katastrofale maniere wysig. Party swamme het ’n noue band ontwikkel met kewers wat boomstamme van binne af uithol. Die swam dien as voedsel vir die kewer en sy larwes en kan bome help verswak sodat meer kewers dit kan koloniseer; nogtans gebruik die swam op sy beurt dieselfde kewer om tussen bome te versprei. Wanneer omgewingstoestande verander of hierdie organismes in nuwe omgewings beland, kan miljoene bome uitgewis word. Een van hierdie skadelike kewers, die polifagiese boorkewer, het onlangs sy verskyning in Suid-Afrika gemaak, met rampspoedige gevolge vir stedelike woude, inheemse woude en die landbou. Daarom skenk die Diversiteits- en Simbiosenavorsingsgroep tans ook heelwat aandag daaraan om die biologie en ekologie van hierdie indringing te verstaan ten einde die beste bestuursoplossings te identifiseer.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Nadat hy sy PhD-studie in 2006 in die Departement Plant- en Dierkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi het, betree prof Francois Roets die akademiese wêreld as ’n nadoktorale genoot by die Bosbou- en Landboubiotegnologie-instituut aan die Universiteit van Pretoria. Hy aanvaar twee jaar later ’n pos as dosent in die US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie en word in 2021 departementele voorsitter. Hy dien ook sedert 2008 as ’n kernspanlid van die prestigeryke DWI/NNS Sentrum van Uitnemendheid in Boomgesondheidsbiotegnologie.

Prof Roets gee klas en dien as studieleier vir studente in die algemene vakrigtings mikrobiologie, entomologie en plantkunde, met ’n besondere klem op die biologie, ekologie, sistematiek en bewaring van interaksies tussen organismes. Aangesien studies van veelvuldige organisme-interaksies multidissiplinêr is, sluit sy navorsingsrepertorium uiteenlopende terreine in soos biodiversiteitsnavorsing, ekologiese proefneming, landskap-ekologie, molekulêre filogenetika, genomika, populasiegenetika, sistematiek, taksonomie, en metagenomika. Vir hierdie navorsingsaktiwiteite maak hy staat op sterk samewerking met ander instellings in Suid-Afrika (waaronder die Landbounavorsingsraad, Hortgro, Winetech, die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut, en die universiteite van Pretoria, Kaapstad en die Vrystaat) én in die buiteland (onder meer die prestigeryke Swambiodiversiteitsentrum in Nederland, Ruhr-Universität Bochum in Duitsland, die Kanadese Bosboudienste, Charles-universiteit in Praag, en die Universiteit van Florida in die Verenigde State).

Prof Roets was al ’n gasspreker by vyf wetenskaplike byeenkomste, het aanbiedings gelewer by meer as 30 openbare en bedryfsvergaderings, aan 13 radio-onderhoude deelgeneem, en vyf keer op televisie verskyn. Hy was studieleier of medestudieleier vir 28 MSc- en 15 PhD-studente, en sy publikasiegeskiedenis sluit 143 referate in ewekniebeoordeelde vaktydskrifte, een boekhoofstuk, sewe tegniese verslae en 11 populêre artikels in. Altesaam 44 populêre nuusartikels is al oor sy navorsingsgroep se werk geskryf. Daarbenewens het hy saam met sy studente reeds meer as 100 referate en plakkate by oor die 40 wetenskaplike byeenkomste in Suid-Afrika en elders aangebied, wat in 18 konferensieverrigtinge verskyn het. Hy het al vir sowat 25 vaktydskrifte as keurder opgetree en dien tans as hoofredakteur van African Entomology. Prof Roets se werk het hom elke jaar van 2013 tot 2016, in 2018 en weer in 2022 die US se toekenning vir navorsingsuitnemendheid besorg.

RSVP HIER

Besonderhede

Datum:
Junie 8, 2023
Tyd:
17:3018:30

Organiseerder vir intreerede

Olivia Adams
Epos:
adamso@sun.ac.za

Lokaal

Room 1027, JH Neethling Building
28 Victoria street
Stellenbosch, 7605 South Africa
+ Google Map
Afrikaans