Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Toepassings vir jou vakansie

 

Of jy dié wintervakansie die koue ontduik en erens warmer gaan skuil en of jy moet uithou tot Desember, om `n vakansie te beplan is nie vir sissies nie.

Met `n toepassing en webwerf vir alles onder die son, is dit nie verbasend dat daar ook verskeie is om jou trippie Addo toe sonder enige insidente te laat verloop nie.

 1. Tourism Radio’s City Guides 

Hierdie toepassing is beskikbaar internasionaal en plaaslik en kan dus gebruik word as jy oorsee ook reis. Die gidse sluit inligting in vir meer as 1500 besienswaardighede, onder andere oor geskiedenis, kultuur, geografie, aktiwiteite en dek 24 internasionale stede.

Sodra jy naby een van hierdie besienswaardighede kom, sal oudio outomaties begin speel en teks sal gewys word. Dit maak gebruik van GPS om hierdie inligting aan jou te bied, maar een van die grootste voordele daarvan is dat jy nie aanlyn hoef te wees en gevolglik data hoef te gebruik nie. Installeer die toepassing bloot en dateer dit op net voordat jy op reis gaan.

 Die Tourism Radio’s City Guides toepassing is gratis beskikbaar op Android en iOS.

 2. Africa: Live  

As jy hou van wilde diere afloer met jou verkyker, is die Africa: Live app die ideale belegging vir jou slimfoon.

Hierdie lewendige dierekyk kaart wys vir jou watter wilde diere op enige gegewe oomblik in jou nabye omgewing is. Dit gee jou ook die geleentheid om jou waarnemings te deel met ander safari-gangers.
Addisioneel tot die standaard-toepassing kan jy ook gedetaileerde kaarte bykoop van die meeste van die groot parke in Suid-Afrika. Ideaal vir jou volgende ekskursie Kruger wildtuin toe.
 
Jy kan Africa: Live hier aflaai vir jou Apple of Android toestel.

3. Road Tripper

Droom jy daarvan om `n groot ontdekker te wees en nuwe plekke te sien? Met Road Tripper kan jy na hartelus roetes regoor Suid-Afrika beplan en ook kyk waar ander padreisigers hulle bevind. Reisigers kan hulle ondervindinge met mekaar deel en wenke uitruil. Dit dui natuurlik ook jou roete aan soos jy reis.

Dis ontwikkel deur Europcar SA as `n Facebook-toepassing en jy kan ook op hulle Facebook-bladsy meer inligting daaroor kry.

4. Petrol@ZA en FillApp

As jy die hele land wil deurkruis het jy ongelukkig petrol nodig en met meer as 3000 vulstasies gelys op Petrol@ZA se hulp sal jy ten minste nie in die middel van nerens gaan staan nie. 

Dié baie eenvoudige toepassing dui aan waar die naaste vulstasie is, gee die afstand tot daar en presiese ligging – handige inligting in afgeleë, minder bekende areas. 

Laai dit gratis af op die iTunes of Android winkels.

FillApp hou jou op hoogte van die gereelde verandering in petrolpryse sodat jy `n paar sente kan spaar as jy ingooi. Ook gratis beskikbaar vir Apple en Android.

5. South African Airways

Jy verkies dalk eerder om te vlieg as om ure in `n kar te spandeer. Dis minder plesierig om reëlings vir vlugte te tref en by te hou by veranderende skedules. Die  SAA-toepassing laat jou toe om jou besprekings na te gaan en selfs tred te hou met jou ingeboekte bagasie.

Ander lekker ekstras sluit in: vroeë inboek-fasiliteite, vluginligting, geldkoerse, weerinligting en spesiale vlugtariewe.

Laai dit gratis af by die iTunes, Android of Blackberry winkels.

6. Mango

Mango lugredery se toepassing het sedert sy begin in 2012 reeds 30 000 navrae hanteer. Bespreek en soek jou vlugte daarmee en kry ook enige kennisgewings oor vlugveranderings daarmee. 

Die toepassing is gratis en beskikbaar by die Android en Blackberry winkels.

Laat weet ons watter interessante reistoepassings jy al op afgekom het.

 [BRONNE: www.travelground.com, www.htxt.co.za, www.news24.com, www.southafrica.net]

 

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.