Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

education

Leer = kinderspeletjies: Toepassings vir kinders

Vrydag, Julie 22nd, 2016

kids-appsNadat Barney, die dinosourus, of Lollos, die onidentifiseerbare kreatuurtjie met die groot ore, vir die sewe-en-twintigste keer dié week dieselfde liedjie gesing het, mag menige ouer benoud begin soek na iets anders –  al is dit net ter wille van hul geestesgesondheid. 

Videos en televisie is lankal nie meer die enigste beskikbare opsies vir ʼn gefrustreerde ouer nie. Vandag verskaf tegnologie nog ʼn handige platform wat kinders besig kan hou, waar hulle vaardighede kan aanleer en kennis insamel. Slimfone en tablette kan maklik propvol speletjies, toepassings en flieks gelaai word.

Daar is wel nog éen uitdaging – hoe maak jy, as ouer, goeie, veilige en opvoedkundige keuses, wat ook jou kind se aandag vir so lank as moontlik kan behou?

PC Advisor, een van die Verenigde Koninkryk se vooraanstaande tegnologie- en mediamaatskappye, het die dinkwerk vir ouers gaan doen. In samewerking met ʼn groep ouers, het hulle ʼn lys van 46 toepassings saamgestel en op hul webwerf publiseer.

Die keuses is onderverdeel in die beste toepassings vir babas, vir kleuters, vir primêre skool leerders en tieners. Moenie afgeskeep voel nie, daar is ook ʼn afdeling vir kinders van alle ouderdomme, dis nou jy.

Het jy enige voorstelle vir toepassings wat beide pret en opvoedkundig is? Laat weet ons gerus by bits.bytes@sun.ac.za en ons kan jou gunstelinge by die volgende artikel insluit.

Is skermtyd goed vir kinders?

Vrydag, Julie 22nd, 2016

Google “kinders en skermtyd” en jy sal gekonfronteer word met ʼn uiteenlopende en sterk menings. Die beste benadering met kontroversiële onderwerpe soos hierdie, is om die feite noukeurig te bestudeer en eerder jou eie gevolgtrekking te maak. 

“Skermtyd” word deur die National Library of Medicine (www.nlm.nih.gov) definieer as “aktiwiteite wat uitgevoer word voor ʼn skerm, byvoorbeeld televisie-kyk, werk op ‘n rekenaar of speletjies speel.”

child-screenTegnologie het, sonder twyfel, sy voordele. Sedert tablette op die toneel verskyn het, is opvoeding meer toeganklik en bekostigbaar en is ‘n wye verskeidenheid opvoedkundige speletjies en toepassings vir kinders beskikbaar. (Lees ons artikel oor die beste speletjies vir kinders).

Volgens ʼn opname gemaak deur die klerehandelaar,Vertbaudet.co.uk, glo vier uit elke vyf ouers in die Brittanje dat tegnologie en toestelle voordelig is vir kinders.

Duidelik is baie ouers van mening dat tegnologie noodsaaklik is vir hul kinders se ontwikkeling en dat dit koördinasie, konsentrasie, kommunikasie en tegnologiese vaardighede, aanleer.  Al hierdie argumente is geldig. 

Tegnologie kan ingespan word vir huiswerk en sommige skole beskou tablette deesdae as ‘n noodsaaklikheid in klaskamers. Toegang tot die internet en inligting is makliker as ooit tevore. Maar, en daar is altyd ʼn “maar”.

Wanneer tegnologie bloot ‘n vorm van vermaak word om kinders mee besig te hou, raak dit probleem – op sielkundige en fisiese vlak. Volgens die Vertbaudet-opname spandeer kinders in Brittanje gemiddeld 17 uur per week voor skerms. In teenstelling spandeer hulle slegs 8.8 ure buite, byna die helfte minder. In die VSA styg dit tot 5 tot 7 uur per dag.

Om tyd voor ʼn skerm yr spandeer, is ʼn passiewe aktiwiteit wat die minimum energie verbruik. Die gebrek aan fisiese oefening, gekombineer met ongesonde eetgewoontes, lei tot vetsug. Jy is ook geneig om meer te eet wanneer jy tyd voor ʼn skerm spandeer.

Die blou lig wat deur digitale skerms uitgestraal word, beïnvloed melanien, die slaaphormoon. ʼn Tekort aan melanien ly tot ʼn versteuring in slaappatrone en slapeloosheid. 

Hoewel die blootstelling aan meer inligting die vaardigheid om verskeie take te kan verrig, bevorder, bemoeilik dit die vermoë om op enkele take te fokus. Konsentrasievermoë verswak en kan aandagafleibaarheid tot gevolg hê. 

Meer ernstige nagevolge soos angs, depressie en skermverslawing kan op die lang termyn blywend wees. Soos met enige ander verslawing, word die brein se chemiese balans versteur.  Dopamien, ‘n neurosender in suiker- en selfs kokaïenverslawing, is ook aanwesig by skermverslawing.

Volgens Psychology Today, dui studies daarop dat verlengde blootstelling aan elektroniese media vertraagde kognitiewe ontwikkeling kan veroorsaak. Die frontale lob van ʼn kind se brein, wat   verantwoordelik is vir die dekodering en ontleed van sosiale interaksie, is gedurende die eerste paar jaar in ʼn kritiese groeifase. As kinders gedurende hierdie fase nie genoeg interaksie met ander mense kry nie, ontwikkel die deel van die brein nie normaal nie. Dit lei tot die onvermoë om sosiale reëls te interpreteer, gesigsuitdrukkings te lees of empatie te hê met ander. 

Dit beteken nie jy moet summier alle elektroniese toestelle uit jou huis verban nie. Soos met die meeste dinge in die lewe, is ʼn goeie balans al wat nodig is. Deur die toepassing van eenvoudige riglyne en reëls kan jou gesin steeds die voordele van tegnologie pluk. 

Navorsing dui daarop dat kinders jonger as twee, gedurende ʼn belangrike ontwikkelingsfase, nie aan skerms blootgestel moet word nie. Een tot twee ure word vir kinders bo twee jaar voorgestel.

In plaas van ure verwyl voor ʼn skerm, moedig kinders aan om stokperdjies te beoefen, aan aktiwiteite deel te neem of buite te speel. Dit sal terselfdertyd ook voordelig wees vir fisiese ontwikkeling. 

Die National Library of Medicine gee ook die volgende wenke:

  • Verwyder televisies en ander elektroniese toestelle uit slaapkamers.
  • Verban die skerm gedurende maaltye of huiswerk.
  • Moenie die televisie aan hou as agtergrondgeraas nie. Skakel eerder die radio aan.
  • Geen peuselhappies of etery terwyl kinders televisie kyk of op ʼn tablet speel nie. 
  • Probeer rekord hou van die tyd gespandeer met skermtoestelle. 
  • Wees ‘n goeie, rolmodel ouer en beperk jou eie skermtyd.
  • Daag die gesin uit om ‘n week sonder skerms uit te hou.

[BRONNE: http://www.pcadvisor.co.uk, https://medlineplus.gov, https://www.psychologytoday.com, http://screenfreeproject.co.nz/news/]

 

 

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.