Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Navorsing

Wetenskap in jou agterplaas

Vrydag, Augustus 5th, 2016

frog-1445779__180Almal kan nie ʼn loopbaan in die wetenskappe hê nie, maar niks keer jou om deel te wees van navorsingsprojekte en ʼn bydrae tot belangrike navorsing te maak nie. Te danke aan tegnologie kan enigiemand nou ʼn wetenskaplike wees.

Burgerlike wetenskap, ook genoem massawetenskap, massa-gewerfde wetenskap, siviele wetenskap, vrywillige monitering of netwerk-wetenskap, is wetenskaplike navorsing wat uitgevoer word deur ʼn amateur of nie-professionele wetenskaplike. (www.wikipedia.org)

Joseph M. Hulbert noem in sy artikel, Citizen science tools available for ecological research in South Africa, dat gewone landsburgers, sonder enige ervaring, kan deelneem aan navorsing met behulp van hul eie rekenaars, in hul eie tuine of in die buitewêreld. Daar is vele geleenthede en projekte in Suid-Afrika vir amateur-wetenskaplikes – van die monitering van voël-migrasiepatrone tot die identifikasie en kartering van swamme. 

Amateur-sterrekkunde is een van die mees algemene vakgebiede waar nie-professionele wetenskap beoefen word. Ander sluit skoenlappertellings, voëlkunde, oseanografie en selfs kunsgeskiedenis in. Projekte in Suid-Afrika sluit die Stream Assessment Scoring System (miniSASS) in en by die Universiteit van Pretoria help die publiek navorsers om Phytophthora (plantvernietigende elemente) in Fynbos op te spoor en sodoende plantsiektes spesifiek tot Fynbos, te ondersoek. Lees hier meer oor die projek.

Die Universiteit van Kaapstad se Diere-demografie Eenheid (ADU) is verantwoordelik vir talle plaaslike gemeenskapswetenskapsprojekte. Die eenheid het reeds verskeie virtuele museums geskep, insluitende die MammalMAP webwerf waar jy fotos kan laai op die groeiende databasis van verspreiding en gewoontes van soogdiere in Suid-Afrika. As soogdiere jou nie interesseer nie, is daar enigiets van paddas en skoenlappers tot seesterre en seekastaiings in hierdie virtuele museums.

Joseph M. Hulbert verwys na twee ander plaaslike projekte, OrchidMap en Aliens of the Cape Peninsula. OrchidMap word sedert September 2014 op die Universiteit van Kaapstad se virtuele museum gehuisves. Lede van die publiek kan fotos en ligging van plante op die databasis, met bykans 3000 orgideë rekords met geo-etikette, laai. Aliens of the Cape Peninsula se doel is weer om om nuwe indringerplante en waar hulle versprei op die Kaapse Skiereiland, op te spoor.

Indien jy ʼn wetenskaplike in jou gemeenskap wil wees, hier is ʼn paar hulpmiddele om jou aan die gang te kry: 

Ispot,  ʼn South African National Biodiversity Institute (SANBI) inisiatief, is in Junie 2012 begin. Feitlik 400 000 internasionale observasies van 30 000 verskillende spesies is teen middel-2014 aangeteken. 

WhatSpecies is die breinkind van ʼn ouer wat haar kinders wou help om plante en insekte te identifiseer. Die webwerf se uitleg is gevolglik gebruikersvriendelik en toeganklik vir ʼn jonger leser en poog om, deur middel van sosiale media platforms, jongmense te betrek.

Soos vroeër genoem, word Virtual Museum bestuur deur die ADU by UK. Daar is reeds 17 verskillende projekte op die platform waarby die publiek by betrokke kan raak.

Die Cape Town Citizen webwerf  is ook propvol informasie en instruksies vir aspirerende wetenskaplikes. Kyk gerus ook The SciShow se video oor gemeenskapswetenskap op YouTube.

US integrasie met jou ORCID iD

Woensdag, Februarie 17th, 2016

Die Open Researcher and Contributor ID (ORCID) verskaf ‘n permanente 16-syfer numeriese identifikasienommer (bv. http://orcid.org/0000-0001-5109-3700) om sodoende jouself van alle ander navorsers te onderskei.

Indien jy al tevore gepubliseer het, het jy heel moontlik ‘n ReseacherID of Scopus Author ID, of selfs publikasies wat in CrossRef geïndekseer word. ORCID laat jou toe om hierdie inligting van ander stelsels na een aanlynidentiteit in te trek. Die identifikasienommers word in ‘n sentrale register gestoor.

Universiteit Stellenbosch (US) het in 2015  ’n lid van ORCID geword en is nou op die punt om universiteitsrekords met die ORCID register te integreer. Alle akademiese personeel, navorsers en nagraadse studente sal teen einde Februarie per e-pos genooi word om ’n ORCID iD te skep en dit met hul universiteitsrekord te skakel. Diegene wat reeds oor ‘n ORCID iD beskik, sal gevra word om hul iDs met hul universiteitsrekord te skakel en hul US affiliasie te bevestig.

Ons wil graag alle navorsers en akademiese personeel aanmoedig om vir ‘n ORCID iD te registreer indien hulle nog nie oor een beskik nie. Verdere ontwikkelings sal ons in staat stel om iDs te integreer met navorsingsinligtingstelsels, die institusionele navorsingsbewaarplek (SUNScholar), befondsing en kontrakte en MH-stelsels. ‘n ORCID skakel is ook reeds beskikbaar op die InfoEd stelsel waar jy jou ORCID iD kan skakel en die Nasionale Navorsingstigting het ook onlangs as lid aangesluit en beplan om ORCID in hul nasionale CV stelsel te integreer. Lees hier meer oor befondsers en ander platforms waar die gebruik van ORCID vereis word.

Meer inligting is beskikbaar op die biblioteekgids, ORCID and other researcher identifiers. Almal is ook welkom om te registreer vir die ORCID werkswinkel wat op 24 Februarie aangebied word.

Kontak asseblief vir Marié Roux, tel.: 021-8082623 of jou fakulteitsbibliotekaris vir enige navrae of om ‘n afspraak te maak vir ‘n kort inligtingsessie by jou departement.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.