Language:
SEARCH

twitter

Jy ly dalk aan FOMO

Donderdag, Augustus 6th, 2015

As jy nie kan ophou om na jou selfoon te loer vir e-posse en Twitter-kennisgewings of Facebook-opdaterings nie, ly jy waarskynlik aan FOMO.

In `n vorige artikel het ons genoem dat die woord hashtag verlede jaar bygevoeg is tot die Oxford Dictionary. FOMO is reeds gelys sedert 2013. Google definieer FOMO as volg: 

 FOMO ˈfəʊməʊ/ noun informal

1. anxiety that an exciting or interesting event may currently be happening elsewhere, often aroused by posts seen on a social media website.

“I realized I was a lifelong sufferer of FOMO”

Alhoewel FOMO nie noodwendig sy oorsprong in sosiale media gehad het nie, het die koms van sosiale netwerke mettertyd `n groot impak daarop begin maak. Fear of missing out (FOMO) is bloot die moderne terminologie vir “die gras is altyd groener aan die ander kant”. (Psychologies magazine, 18 Junie 2012)

Met soveel keuse en geleenthede tot ons beskikking deesdae, is dit geen wonder ons voel soms onvergenoegd oor ons lewens nie. Voor sosiale media was ons salig onbewus van ander se doen en late, maar Facebook, Twitter en LinkedIn herinner ons op `n daaglikse basis waarmee ons vriende, kenisse en kollegas besig is – in hul loopbane en op sosiale vlak.

Hierdie voortdurende sosiale bemarking is egter nie `n realistiese uitbeelding van iemand se lewe nie. Natuurlik sal niemand twiet oor hul siek kat, probleme met die loodgieter of die buurman se keffende hond nie. Ons wys eerder waar ons vakansie gaan hou het, watter wonderlike kos ons eet of die ekslusiewe wyn wat ons drink.

Volgens `n landwye opname deur `n farmaseutiese maatskappy, in Junie 2012, het 62% van die 3000 deelnemers tussen 15 en 50 jaar erken dat hulle in “aanhoudende vrees” leef dat hulle uitmis op iets meer opwindend as waarmee hulle besig is.

Maar hoe voorkom ons dat ons opgesweep word in die histerie van sosiale media en hierdie aanhoudende gevoel dat daar iets is wat ons mis? GQ en Nir and Far het `n paar voorstelle, maar op die ou end kom dit bloot daarop neer dat jy jou lewe moet leef en geniet soos JY wil en ophou probeer byhou met die res van die wêreld. So, hoekom nie eerder ly aan JOMO (Joy of missing out) nie?

NS. YOLO is `n akroniem vir “you only live once”. Soortgelyk aan carpe diem, gee dit te kenne dat `n mens die lewe moet geniet, selfs al is daar risikos verbonde. Lees meer op Wikipedia. 

 

 

[BRONNE: www.forbes.com, www.wikipedia.org]

 

#Hutsteken

Vrydag, Julie 24th, 2015

hashtagVoor sosiale media was `n hutsteken of octothorp die simbool op `n telefoonknopppie wat jy nooit gebruik het nie. Daardie dae is lankal verby. 

Hutstekens (hashtags) is vandag deel van ons woordeskat en is selfs in Junie 2014 opgeneem in die Oxford English Dictionary.

Die hutsteken is vir die eerste keer in Twitter bekend gestel deur Chris Messina.Voorheen is die hutsteken of pond-simbool op verskeie ander maniere op die web gebruik – byvoorbeeld om kanale op IRC (Internet Relay Chat) aan te dui. Sedertdien word dit veel wyer op sosiale netwerke gebruik. 

hashtag
ˈhaʃtaɡ/
noun
1. a word or phrase preceded by a hash sign (#), used on social media sites such as Twitter to
identify messages on a specific topic.
 
Wikipedia definieer dit as `n tipe merker of metadata etiket wat gebruik word op sosiale netwerke of mikro-blogdienste om dit vir gebruikers te vergemaklik om boodskappe oor `n spesifieke onderwerp of met sekere inhoud op te spoor. 
 
Die bemarkingsplatform Offerpop som die geskiedenis van dié simbool goed op in `n eenvoudige diagram.
 
Wanneer jy `n # voor woorde of frases sit, sal hierdie items outomaties gemerk word en soekbaar wees vir gebruikers van die sosiale netwerk – `n vinnige en maklike manier om verwante inligting oor `n onderwerp te versamel. Die # kan enige plek in die inskrywing geplaas word – as deel van `n sin, aan die begin of einde. Dié metode is veral handig by `n sosiale netwerk soos Instagram as jy soek na fotos van `n spesifieke geleentheid of reisfotos, byvoorbeeld #paris of #worldcup2014.
 
Die teken se hooffunksie moet egter wees om metadata, konteks of ekstra inligting vir `n twiet, foto of bloginskrywing te verskaf. Deur `n hutsteken by te voeg, maak jy seker dat jou inskrywing oor `n spesifieke onderwerp gesien word. Maar maak seker dit voeg waarde by.
 
Hutstekens kan maklik misbruik word. Gemorspos-verspreiders stuur twiets met populêre hutstekens bloot om blootstelling te kry – selfs al het dit niks met die boodskap te doen nie. Indien hutstekens misbruik word – byvoorbeeld bloot gebruik word om ondersteuners te kry of niks relevant bydra tot die gesprek nie, kan `n rekening gefilter en selfs opgeskort word. 
 
Twee hutstekens per inskrywing of twiet is aanvaarbaar, terwyl drie die limiet is. Enigiets meer en jy gaan net op jou lesers se senuwees werk. In 2013 het Jimmy Fallon en Justin Timberlake `n skets gedoen oor die soms belaglike gebruik van hutstekens.
 
Sedert 2010 is hutstekens ook gebruik deur televisiekanale vir bemarking. `n Relevante hutsteken word voor, gedurende of na `n episode van `n reeks uitgesaai en verskyn aan die onderkant van die skerm. Dit word gereeld deur sosiale media deskundiges en groot maatskappye ingespan om ondersteuners te kry en handelsmerke te bemark.
 
Vir inligting oor hoe om hutstekens meer effektief te gebruik, lees gerus Rebecca Hiscott se artikel op Mashable.
 
 Populêre webwerwe wat hutstekens ondersteun:

Ek het `n voëltjie hoor fluit

Vrydag, Julie 24th, 2015

Het jy al ooit gehoor van “Larry, the bird?”.  Ja, dis reg, selfs die Twitter-voëltjie het `n naam.

twitter-bird-blue-on-white

Ons is waarskynlik bekend met die  aanlyn sosiale netwerk Twitter, maar weet ons meer as dat dit bestaan uit 40-karakter “twiets”?

Twitter, of twttr soos dit aanvanklik bekendgestaan het, is in Maart 2006 geskep deur Jack Dorsey, Evan Williams, Biz Stone en Noah Glass gedurende `n voldag breinstormsessie. Dorsey het die keuse van die naam Twitter as volg beskryf:

“…we came across the word ‘twitter’, and it was just perfect. The definition was ‘a short burst of inconsequential information,’ and ‘chirps from birds’. And that’s exactly what the product was.”

twttr is aanvanklik gebruik aangesien die domein-naam twitter.com nie op daardie stadium beskikbaar was nie. Ses maande later, met Twitter se amptelike bekendstelling, is die naam verander na die een wat ons vandag gebruik.

Amper tien jaar later is Twitter Inc. steeds gebaseer in San Francisco, met meer as 25 kantore regoor die wêreld en 500 miljoen gebruikers. 

Deur die jare het Twitter ontwikkel van `n sosiale hulpmiddel waarmee mense kommentaar lewer oor hul daaglikse doen en late en lug van opinies tot iets wat gebruik word vir bemarking, onderrig en nuus en veral handig is vir noodkommunikasie. Gedurende die San Francisco aardbewings en Boston-marathon bomaanvalle was Twitter die hoof-kommunikasiekanaal vir die vespreiding van inligting. In Suid-Afrika het Twitter sy nut bewys gedurende die brande in Kaapstad en daarna met die insameling van fondse. 

In gevalle soos hierdie gebruik Twitter-gebruikers `n # om inligting oor `n spesifieke onderwerp te groepeer en soekbaar te maak, byvoorbeeld #capetownfires.  Sodra `n spesifieke hutsteken se gebruik toeneem en dit `n tendens word, word dit `n trending topic en word dit vertoon op die sypaneel vir alle gebruikers. Hierdie onderwerpe wys die onderwerpe waaroor daar die meeste gepraat word, hetsy dit nuusgebeure is of persone se opinies oor aktuele gebeure. (Meer oor # hier)

Kolleges en universiteite maak deesdae ook gebruik van Twitter as `n kommunikasie- en leerhulpmiddel vir studente. Wanneer `n kursus bestaan uit `n groot groep studente, kan Twitter ingespan word om gesprekke tussen klaslede te fasiliteer.

HOE WERK DIT?

Twiets is by verstek sigbaar vir almal, maar versenders kan hul boodskappe beperk tot hul ondersteuners. Gebruikers kan twiet op die Twitter webwerf, deur middel van versoenbare eksterne toepassings (byvoorbeeld toepassings vir selfone) of selfs met SMSe in sommige lande. Hertwiet (retweeting) is wanneer `n twiet populêr is en ander gebruikers dit verder versprei. Beide twiets en hertwiets kan nagespeur word om te sien hoe dikwels dit gelees word. 

Gebruikers kan inskryf vir ander gebruikers se twiets – dit staan bekend as following en intekenaars staan bekend as followers  of tweeps. Gebruikers kan ook ander gebruikers blokkeer as hulle dit so verkies.

As `n gebruiker iemand wil antwoord of noem, word `n @-teken voor die persoon se gebruikersnaam gevoeg. Om `n twiet van `n ander Twitter-gebruik te deel met jou eie lesers, kan jy die retweet knoppie in die twiet self gebruik.

Kyk gerus dié oulike, geanimeerde geskiedenis van Twitter op YouTube.

[SOURCE: www.wikpedia.org]

Toeter vs Twitter

Vrydag, Junie 6th, 2014

Gereelde Kyknet-kykers weet teen die tyd al van die eerste Afrikaanse sosiale netwerk met die beskrywende naam, toeter

Volgens toeter se webwerf is dit “Haas Das se nuuskas, Antie Stienie se stoep, Nommer Asseblief se skakelbord en die nuuskierige buurvrou wat dringend fluister oor die muur. Dis die briefie wat ongesiens in die klas aangegee word, die aap wat skreeuend uit die mou gelaat word en die blitsvinnige bostelegram wat niemand kan keer nie.”

`n Tekort aan kreatiewe bemarking het toeter sekerlik nie.  Volgens Frans Roelofse, die stigter, het dit die potensiaal om een miljoen gebruikers te trek en `n bemarkingswaarde van R450 miljoen. Dis moontlik die rede hoekom Afrikaanse tv-reus Kyknet ook sy gewig by toeter ingegooi het en tans toeter se media-vennoot is.

toeter is `n sosiale netwerk spesiaal vir almal wat Afrikaans praat – alle ouderdomme, rasse, gelowe en politieke oortuigings. Weet net dat daar streng reëls is en jy jou nie daarvolgens gaan gedra nie, jy aangespreek en/of verban gaan word.

In beginsel werk toeter dieselfde as Twitter, net in Afrikaans. Dit het dieselfde funksionaliteit met `n tydlyn en gebruik ook die @-teken om ander gebruikers aan te spreek. Die alombekende hutsmerk (#) word ook deur toeter gebruik. Gebruikers mag dalk net `n tydjie neem om gewoond te raak aan hierdie meer kreatiewe, Afrikaanse terme in teenstelling met die van Twitter.

 Op die oog af lyk dit na `n effektiewe sosiale platform met al die nodige funksionaliteit. Ongelukkig, as gevolg van eksklusiwiteit as Afrikaanse sosiale netwerk is dit ook beperkend en gaan jy nie soveel waarde daaruit kan put as uit die gevestigde Twitter nie. 

Maar probeer dit gerus by www.toeter.com en laat weet ons wat jy dink. Dis ook reeds beskikbaar op die iPhone-, Blackberry- en Android-platforms.

Twitter geteiken deur kuberkrakers

Vrydag, Februarie 22nd, 2013

Kuberkrakers gebaseer in China het onlangs toegang tot beide die New York Times en Wall Street Journal se sekuriteitstelsels verkry. Terselfdertyd het Twitter ook aangekondig dat ongeveer 250 000 Twitterrekeninge blootgestel is deur dieselfde krakers. 

Die kuberkrakers kon toegang verkry het tot gebruikersinligting, insluitende gebruikersname, e-posadresse en enkripteerde wagwoorde. 

As voorsorgmaatreël het Twitter die wagwoorde vir die rekeninge verander. Indien joune een van hulle was, sou jy onlangs `n e-pos ontvang het wat versoek het dat jy `n nuwe wagwoord moet kies. Die ou wagwoord sou outomaties nie meer werk nie. Die moontlikheid dat `n groot sosiale platform soos Facebook ook `n slagoffer van `n suksesvolle kuberkraakpoging sal wees, is moontlik, omdat Twitter- en Facebook-gebruikers dikwels dieselfde wagwoorde het. 

Die insident was nie die van amateurs nie en die deskundiges glo dit was nie `n uitsonderlike geval nie. Die aanval was geweldig ingewikkeld en dis moontlik dat ander maatskappye en organisasies ook onlangs op so `n wyse geteiken is.  

Dis egter baie belangrik dat jy nie toegang tot Twitter verkry deur te kliek op enige skakels in enige e-pos wat aan jou gestuur is van Twitter (of wat lyk of dit van Twitter gestuur is) nie, aangesien die kuberkrakers dikwels e-posse opstel sodat dit ooreenstem met die van Twitter, om jou wagwoord te kry. Indien jy so `n e-pos kry, gaan eerder direk na jou webblaaier,  tik die Twitter-adres direk in en verander jou wagwoord. 

(INLIGTING VERSKAF DEUR DAVID WILES)

*  Zendesk het ook vandag aangekondig dat hulle `n slagoffer was van kodebrekers en dat drie van hulle kliënte, Pinterest, Twitter en Tumblr daardeur beinvloed is. Meer hieroor.

 

 

© 2013-2018 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.