Studentelewe

Die Universiteit Stellenbosch heg groot waarde aan sy studente en is verbind tot die lewering van ’n transformatiewe studente-ervaring. Om hulle in staat te stel om sukses te behaal, bied die Universiteit ’n wye verskeidenheid student-gefokusde ondersteunings- en voorligtingsdienste.

Studentegemeenskappe

Studentelewe by Stellenbosch is ’n reis – van ons eerste ontmoeting met voornemende studente totdat hulle hul graad kry en die rol van alumni aanneem. Ons bied dus groeigeleenthede aan alle voor- en nagraadse studente, wat leiding, ondersteuning en dienste insluit om hulle in staat te stel om sukses te behaal. Verskeie soorte studenteverblyf word aangebied met die doel om studente se universiteitsbelewenis nog beter te maak. Studente kan by voorgraadse of senior koshuise inwoon, of deel word van een van die Privaat Studente-organisasie se wyke en klusters, of hulle kan by een van die Luister, Leef en Leer-huise inwoon. Van die geriewe wat by die koshuise beskikbaar is, sluit in netwerkpunte om rekenaars aan die US se netwerk te koppel, elektroniese inligtingsbronne, en internet en webgebaseerde e-leer hulpmiddels. Gemeenskaplike leefareas laat studente toe om sosiaal te verkeer, TV te kyk of sommer net te ontspan.

Klusters

Of studente privaat woon en of hulle by ’n universiteitskoshuis inwoon, hulle is deel van ’n klustergemeenskap wat studente-toegang bevorder. Alle studente behoort van hul eerste dag as ’n Matie aan ’n kluster. Dit is ’n plek van samehorigheid en ’n huis weg van die huis af. Die US het sewe klustergemeenskappe wat deur die geografiese ligging van die kleiner gemeenskappe (koshuise) binne die klusters bepaal word. Klusters skep fisieke ruimtes op kampus waar studente wat nie op die kampus self woon nie, inwonende studente kan ontmoet en by hulle kan inskakel. Hierdie ruimtes is kluster-hubs (of nawe) waar studente saam kan studeer en eet.

Mentorprogram

Die doel van die US se studentementorprogram is om eerstejaarstudente te help om hul plek binne die groter gemeenskap van klusters en koshuise te vind. Die aanpassing by ’n nuwe tuiste, ’n nuwe omgewing en ’n nuwe gemeenskap bo en behalwe die begin van ’n nuwe akademiese loopbaan kan baie stresvol en uitdagend wees. Ons mentors help om die oorgang na en aanpassings by tersiêre studies makliker en so opwindend en maklik as moontlik te maak.

Voorligting en ontwikkeling

Die US bied dinamiese en student-gesentreerde sielkundige ontwikkeling- en ondersteuningsdienste aan studente om ’n bydrae te maak tot elke studente se transformerende ervaring deur groeigeleenthede aan alle voor- en nagraadse studente te bied. Dié funksies sluit in akademiese berading, beroepsbegeleiding en -ontwikkeling, individuele en/of groepsterapie, ontwikkelingswerksessies en ondersteuning aan studente met spesiale leerbehoeftes. Uitgesoekte spesialiste op die gebied van sielkunde, psigometrie en maatskaplike werk streef daarna om in die behoeftes van die universiteitsgemeenskap te voorsien.

Maties Sport

Die US spog met ’n lang en trotse sporttradisie. Maties Sport se strewe is om uitnemendheid op beide akademiese en sportgebied by talentvolle studente-atlete te kweek, terwyl dit ook sosiale kohesie en deelname aan ’n aktiewe leefstyl onder studente en personeel bevorder. Maties Sport het sewe hoë-prestasie of prioriteitsportkodes geïdentifiseer, naamlik atletiek, krieket, sokker, hokkie, netbal, rugby en swem. Die Universiteit se sport- en ontspanningsgeriewe is tot die beskikking van studente, personeel en die publiek.

Ko-kurrikulêre ervaring

Die Ko-kurrikulum Kantoor posisioneer ervaringgerigte opvoeding as onderrigmetodiek vir sosiale geregtigheid deur Gedeelde Mensdom: Lesse in Kritiese Denke, erkenning van goedgekeurde ko-kurrikulêre aktiwiteite op akademiese transkripsies, opleiding in die ontwerpbeginsels van transformerende ervaringgerigte opvoeding en die ervaringgerigte leerprospektus. Samewerkende vennootskappe, navorsing, monitering en evaluering verseker belyning met US Visie 2040. 

Studenteverenigings

Verenigings lewer ’n groot bydrae tot die studentelewe op kampus deur ’n omgewing vir studente te skep om nuwe mense wat dieselfde belangstellings of idees het te ontmoet en dit help studente om ’n gebalanseerde kampuslewe te lei. Oor die verloop van jare is daar ’n verskeidenheid verenigings op die kampus gevestig wat onder meer op sosiale bewustheid (omgewing, geslag), geloof en spiritualiteit, kultuur, stokperdjies en die kunste (musiek, dans en fotografie), die akademie (Golden Key, redenaars) en gemeenskapsdiens fokus.

Afrikaans