Ná die herroeping van die oorblywende nasionale Covid-19-regulasies op 22 Junie 2022 en ’n verklaring deur die Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel op 24 Junie, het die Biblioteek (US Biblioteek sowel as takbiblioteke) besluit om die volgende veranderinge te implementeer:
Aantal kliënte en besprekingstelsel
Vanaf 27 Junie 2022 is daar nie meer ‘n beperking op die aantal kliënte nie en die biblioteekgeboue kan tot hul volle kapasiteit gevul word. Die besprekingstelsel is nie meer van toepassing nie, behalwe in die geval van die Innovasieruimte, die Ouditorium en sommige seminaarkamers in die US Biblioteek.
Ontsmetmiddels en sosiale distansiëring
Die Biblioteek sal voortgaan om ontsmetmiddels in biblioteekgeboue te voorsien en kliënte word aangemoedig om steeds, waar moontlik, sosiale distansiëring toe te pas.
US-toegangskaarte
Personeel en studente word daaraan herinner dat hulle nie sonder hulle personeel- of studentekaarte toegang tot die biblioteekgeboue sal kry nie.
Besoekers
Die Biblioteek is besig om ‘n nuwe toegangsstelsel vir besoekers (soos alumni, voornemende nagraadse student en skoolleerders) te implementeer. Totdat die nuwe stelsel in plek is het besoekers nie instaptoegang tot die biblioteke nie.
Besoekers mag wel per afspaak die biblioteke persoonlik besoek. Kontak US Biblioteek Spesiale Versamelings, US Biblioteek Kliëntediens, Musiekbiblioteek, Teologiebiblioteek, Ingenieurs- & Bosboubiblioteek, Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe Biblioteek of Bellvilleparkkampusbiblioteek om ‘n afspraak te maak.
Besoekers wat kwalifiseer vir uitleenvoorregte mag versoek om ‘n boek af te haal.
Alle besoekende navorsers en akademici moet vooraf met die fakulteite en departemente wat hulle kom besoek reëlings vir toegang tot die biblioteke tref.
Klagtes oor geraasvlakke
Ná klagtes oor die hoë vlakke van geraas in die Biblioteek, word personeel en studente herinner om by die Biblioteekreëls te hou. Die Biblioteek het toegewyde stil areas waar gesels nie toegelaat word nie. Hierdie reël sal in die tweede semester streng toegepas word.
Kontak me Delene Pretorius vir meer inligting.

Indien jy een van die 1 147 kliënte was wat verlede jaar gepraat het deur die Biblioteek se biblioteekopname te voltooi, het jy dit vir die Biblioteek moontlik gemaak om vas te stel waar ons goed doen, maar ook waar ons moet verbeter. Hier onder gee ons terugvoer en dui aan wat ons gaan doen in antwoord op wat jy gesê het.
Dit is vir ons aangenaam om bekend te maak dat die US Biblioteek se Opknappingsprojek voltooi is. Konstruksie het in Februarie 2021 begin en is aan die begin van Mei 2022 voltooi. Die amptelike oorhandiging aan die Biblioteek het op 13 Mei 2022 plaasgevind. Behalwe vir enkele haakplekke, is die projek nou afgehandel.