Begin van ‘n ontdekkingsreis: opsomming van biblioteekoriëntering 2024

Die opgewonde afwagting op die biblioteekoriëntering kon vanaf                5 Februarie 2024 oral in die Universiteit Stellenbosch Biblioteek gehoor en gevoel word. Die tema van die program, wat tot 7 Februarie geduur het, was Kom ons biblioteek saam! Ons toegewyde personeel, geklee in die Universiteit se handelsmerk-t-hemde het gretig gewag om honderde nuwelinge te verwelkom, en te lei op hul reis deur die uitgestrekte see van kennis.

Die studente, wat uiteenlopende fakulteite verteenwoordig, het die ontdekkingsreis geesdriftig aangepak. Hulle is bederf met ‘n kort maar insiggewende toer deur die biblioteek se belangrikste ruimtes, insluitend die innoverende Makerspace, die Leersentrum, en stil studieareas.

Studente wat buite die Universiteit Stellenbosch Biblioteek bymekaarkom om op ‘n biblioteektoer te gaan

Ná die toer is ‘n boeiende video vertoon wat die biblioteek se talle dienste en hulpbronne ten toon stel. Maar die opwinding het nie daar geëindig nie! Op 5 Februarie het die biblioteektoere behoorlik lewe gekry met die verrassingsverskyning van die Universiteit se gelukbringer, Pokkel, wat studente met gratis items verras het en hulle in ‘n begeesterde Mexikaanse golf in die biblioteekouditorium gelei het. Studente het die geleentheid geniet om herinneringe saam met Pokkel vas te vang, en so hierdie vreugdevolle geleentheid te verewig.

Die Universiteit Stellenbosch se gelukbringer, Pokkel, wat studente met gratis items verras het en hulle in ‘n begeesterde Mexikaanse golf in die biblioteekouditorium gelei het

Die entoesiasme onder biblioteekpersoneel vir die jaar wat voorlê, is tasbaar. Hulle is daartoe verbind om studente op hul akademiese reis te lei en het studente uitgenooi om nie net hul fakulteitsbibliotekarisse te kom ontmoet nie, maar ook om van 12 tot 16 Februarie aan GetSmart@URLibrary deel te neem—’n waardevolle geleentheid om hul inligtingsgeletterdheidsvaardighede te verbeter deur een-tot-een inloer-konsultasies met biblioteekpersoneel. Hierdie inisiatief het ten doel om studente te bemagtig om doeltreffend deur die groot landskap van inligting te navigeer, en hulle toe te rus met die gereedskap wat nodig is vir akademiese sukses.

Studente het die biblioteektoere geniet

Te midde van al die bedrywighede in die biblioteek heet ons alle student hartlik welkom. Ons is verheug dat hulle die biblioteek as hulle ruimte aanvaar en is daartoe verbind om te verseker dat hul reis by die Universiteit Stellenbosch verrykend en lonend is. Soos Albert Einstein  na bewering gesê het, The only thing that you absolutely have to know, is the location of the library,”,” en ons staan gereed om hulle kompas te wees in hierdie ontdekkingsreis.

So, terwyl jy deur die gange van die akademie navigeer, onthou dat die biblioteek nie net ‘n fisiese ruimte is nie—dit is ‘n poort na eindelose moontlikhede en geleenthede. Ons nooi jou uit om te verken, te ontdek, en jou gunsteling plek in die biblioteek te vind—’n toevlugsoord waar kennis geen grense ken nie.

Welkom by Stellenbosch Universiteit Biblioteek—waar elke vraag ‘n antwoord vind, en elke student sy pad na sukses vind.

Theresa Schoeman