Leerders ontdek die wonderwêreld van woude saam met Iimbovane en CapeNature

  • Post author:
  • Post category:News
  • Reading time:5 mins read

Die afgelope Junie skoolvakansie het 33 graad 10-leerders en 8 onderwysers die woude van die Grootvadersbosch Natuurreservaat saam met die Iimbovane Projek verken.

Daar was twee werkswinkels gehou – die eerste werkswinkel, 27 – 30 Junie 2022, is slegs deur meisies bygewoon terwyl die tweede werkswinkel, 12 – 15 Julie 2022 slegs deur seuns bygewoon is.

Die leerders was van skole in die Overberg en Eden Karoo streke en sluit Swellendam Sekondêre Skool (Swellendam), Gerrit du Plessis Sekondêre Skool (Riversdal), Emil Weder Sekondêre Skool (Genadendal) en Swartberg Sekondêre Skool (Caledon) in.

Die werkswinkels was onder die leiding van die Iimbovane projekspan en hulle is bygestaan deur vier nagraadse studente van die Universiteit van Stellenbosch. Dié studente voltooi tans hulle Nagraadse Onderwyssertifikaat (Lewenswetenskappe) en die twee werkswinkels het vir hierdie toekomstige onderwysers baie waardevolle praktiese ondervinding gebied. Die studente het gehelp om teorie aan te bied en moes ook die leerders gedurende veldwerk bystaan.

Die werkswinkels het met veldwerk afgeskop en leerders moes die eerste dag reeds ‘n plantopname in die fynbos doen. Die volgende oggend het die leerders die woud ingevaar en het op allerhande interessante bome, swamme en varings tydens hulle plantopname afgekom.

Ek het vandag baie oor die natuur geleer en ek het ook nuwe vriende gemaak. Ek besef nou oor hoe belangrik die natuur in ons lewens kan speel. Verskillende soorte plante het baie betekenis, eerstens dit het moeilike name ook, maar dit is baie lekker om daaroor te leer. Ek sien uit na more se veldwerk!” het een van die leerders na afloop van die plantopnames in die woud, gesê.

Nog ‘n leerder het haar ervaring van die woud so beskryf: “Ons het die woud besoek en dit was wonderlik. Ek het dit absoluut geniet!”

Die leerders het ook ongewerwelde diere met verskeie metodes versamel en daarna mikroskope ingespan om hulle te beskryf en te identifiseer.

Vandag moes ons inligting soek om insekspesies te kon identifiseer. Ons het weer deur mikroskope gekyk om die insekte van die pitvalletjies te kan beskryf en identifiseer. Ek het definitief vandag geleer dat daar meer as een – sommer baie – insek spesies bestaan,” het een van die leerders verduidelik.

Benewens die praktiese veldwerk het die leerders ook belangrike wetenskapsvaardighede aangeleer, bv. hoe om data te ontleed en hoe om ‘n voorlegging saam te stel en te lewer.

Elke groep van vier leerders het ‘n rekenaar en tablette ontvang waarmee hulle die versamelde data kon analiseer. Daar is grafieke geteken en leerders het selfs die Sorensen Indeks gebruik om die spesierykheid tussen in die fynbos en woud navorsingsareas te vergelyk.

Tydens die laaste dag van elke werkswinkel moes die leerders hulle navorsing en resultate aan CapeNature personeel voorlê. CapeNature was baie beïndruk met die projekte en het die leerders hartlik gelukgewens.

Ons het vandag ons voorlegging voor ‘n klomp mense gedoen. Dit was die eerste keer wat ek so voor ‘n klomp mense gedoen het. Ek was aan die begin baie senuweeagtig maar soos ek aangegaan het, het ek kalmer geraak,” het een van die leerders gesê na afloop van hulle voorlegging.

Die werkswinkels het ‘n groot indruk op beide die leerders en nagraadse studente gemaak en baie van hulle het kommentaar gelewer oor hoe kosbaar en leersaam dit was.

Die werkswinkels is in samewerking met CapeNature aangebied en is moontlik gemaak deur finansiële ondersteuning van die Het Jan Marais Fonds en die Sentrum vir Indringerbiologie.

Een van die leerders doenig met die maak van ‘n plantboek oor die verskeidenheid van varings in die woud. Met die behulp van ‘n plantkenner en plantgidse van die streek kon die leerders die plante identifiseer. Hierdie plantboeke sal weer by toekomstige kampe as gids dien.

Leerders besig om plantopnames in die onderbos te doen. Hier meet hulle die hoogte van verskillende spesies.

Leerders besig om ongewerwelde diere deur middel van ‘pooters’ te verwyder. Die wit laken is gebruik om ongewerwelde diere op te vang nadat dit onder ‘n boom gehou is en die boom geskud is.

Een van die groepe besig om hulle voorlegging saam te stel.