Leerders ontwikkel wetenskapsvaardighede saam met Iimbovane

  • Post author:
  • Post category:News
  • Reading time:2 mins read

Tydens April en Mei 2022 het talle Wes-Kaapse Graad 10-leerders die geleentheid gekry om hulle wetenskapsvaardighede saam met die Iimbovane projek te slyp.

Iimbovane, wat ‘miere’ in Xhosa beteken, gebruik hierdie klein, tog belangrike, groep insekte om leerders te help om praktiese wetenskap te doen. Die leerders doen tesame met die Iimbovane projekspan ‘n opname van die mierspesies in hulle skoolgrond deur van verskillende veldwerkmetodes gebruik te maak.

Tydens hulle deelname het die leerders geleer hoe om waarnemings van hulle omgewing te maak, hoe om ‘n navorsingsterrein te kies, basiese afmetings te maak en hoe om wetenskaplike toerusting te gebruik om data te versamel.

Die teenwoordigheid van verskeie interessante miere het ook vir groot opwinding gesorg. So byvoorbeeld moes leerders van Hoërskool Sentraal bontstaan om die kake van die kwaai Camponotus fulvopilosus te vermy. Geduldige leerders was weer gelukkig genoeg om die piepklein Monomorium spesies te sien, terwyl elke leerder seker was om een van die volop Anoplolepis spesies te kon vang.

Skole wat aan Iimbovane deelgeneem het sluit in onder meer Swellendam Sekondêre Skool in Swellendam, Augsburg Gimnasium in Clanwilliam, Gerrit du Plessis Sekondêre Skool in Riversdal, Emil Weder Sekondêre Skool in Genadendal, Hoërskool Sentraal in Beaufort-Wes, Hoërskool Riviersonderend in Riviersonderend en Swartberg Sekondêre Skool in Caledon.

Altesaam 336 leerders van hierdie skole het aan die Iimbovane praktiese veldwerk deelgeneem.

Die Iimbovane projekspan se aanbieding van praktiese lesse by die bogenoemde skole is deur finansiële ondersteuning van die Het Jan Marais Fonds moontlik gemaak.