Insekpret vir leerders van Panorama Primêr

  • Post author:
  • Post category:News
  • Reading time:3 mins read

Op Dinsdag 5 Desember 2023 het die Graad 6 en Graad 7-leerders van Panorama Primêr, in Riversdal, ’n dag van leer en pret saam met Iimbovane projekspan geniet.

Die Graad 7-leerders was eerste aan die beurt en die sessie het afgeskop met ’n interessante praatjie oor die gedrag en biologie van miere – van die pragtige ingewikkelde neste wat hulle bou, die spesies wat ons in Suid-Afrika vind, die verhoudings wat hulle met ander insekte het, die aard van hulle sosiale gemeenskappe, tot die belangrike rol wat hulle in die omgewing speel.

Die Graad 7-kurrikulum behandel die klassifikasie van lewende organismes in teorie, en dus het die Iimbovane projekspan miere gebruik om vir die leerders te wys hoe entomoloë insekte klassifiseer. Die leerders is eers na buite geneem waar hulle ’n paar miere versamel het. Daarna het elke leerder met sy eie mikroskopie geleer en gesien waarom miere in die klas Insecta (ses pote en drie liggaamsdele) en die Orde Hymenoptera (vliesvlerkiges) geplaas word. Die leerders het toe met die hulp en van die projekspan se hulp die miere verder tot op genus vlak geklassifiseer. Een van die miere wat die leerders gevind het, was die indringerspesie, die Argentynse mier, en na ’n paar probeerslae kon die leerders die korrekte wetenskaplike naam, Linepithma humile, uitspreek.

Daarna was dit die Graad 6-leerders se beurt en na ’n kort praatjie is hulle ook na buite geneem om miere in verskeie areas te versamel – dit het gewissel van bome, die skool se sokkerveld, asblikke, badkamers tot geute. Die leerders het met die hulp van mikroskope die miere in groepies verdeel van miere wat dieselfde lyk, en het hoofsaaklik na die kleur, teenwoordigheid van vlerke en grootte gekyk. Daarna het die leerders aan die klas terugvoer gegee oor die voorkoms van hulle groepies miere en hoe hulle in voorkoms verskil.

Na afloop van Iimbovane se besoek aan Panorama Primêr het die jongspan nie net meer van die geheime wêreld van miere geleer nie, maar ook praktiese ervaring in die metode van biologiese klassifisering gekry.

Die sessies is deur 54 leerders bygewoon en is deur ondersteuning van die Het Jan Marais Fonds moontlik gemaak.

Mier-vang pret op Panorama Primêr se skoolgronde.

‘n Klein miertjie onder ‘n mikroskoop vergroot.