Jong Iimbovane ekoloë bestudeer Grootvadersbosch woud-ekosisteem

  • Post author:
  • Post category:News
  • Reading time:4 mins read

Die afgelope Oktober skoolvakansie het ’n groepie jong ekoloë die woude van Grootvadersbosch Natuurreservaat saam met ingevaar op soek na interessante varings, diere en sampioene.

Die week, wat deur die Iimbovane Projek aangebied word, het vanaf 3 tot 6 Oktober 2023 plaasgevind en is deur 20 leerders en 7 onderwysers bygewoon. Die leerders en onderwysers was van skole in die Overberg Distrik en sluit Swellendam Sekondêre Skool (Swellendam), Emil Weder Sekondêre Skool (Genadendal) en Swartberg Sekondêre Skool (Caledon) in.

Die doel van die week was om leerders die geleentheid te gee om die teorie wat hulle in die Lewenswetenskapklas behandel in die praktyk te kan toepas. Die week was dus propvol praktiese veldwerk en leerders moes in verskeie areas plantopnames doen en ongewerwelde diere versamel om sodoende die biodiversiteit van die woud-ekosisteem te bereken.

Die leerders kon sien hoe die woud se plantegroei in verskillende vlakke gedeel kan word en dat elke vlak sy eie unieke spesies bevat. Die bekendse inheemse bome is uitgewys en leerders het vinnige vertroud geraak met plantname soos  krulkransie (Asparagus scandens), wilde iris (Dietes iridioides) en seweweeksvaring (Rumohra adiantiformis). Die leerders het selfs ’n swartwattle (Acacia mearnsii) of twee raakgesien en sommer dadelik wortel en al uitgetrek.

Die leerders het ook ongewerwelde diere met verskeie metodes versamel en was baie verras om te sien hoe baie lewe daar onder die blare en in die humus skuil.

Benewens die praktiese veldwerk het die leerders ook belangrike vaardighede aangeleer, bv. hoe om data te ontleed en hoe om ‘n voorlegging saam te stel en te lewer. Tydens die laaste dag moes die leerders hulle navorsing en resultate in die vorm van ’n MS PowerPoint voorlegging aan CapeNature personeel voorlê.

Die week is op ’n ligte noot afgesluit nadat die leerders gevra is om hulle ervaring of die resultate van hulle studie in die vorm van ’n gedig, liedjie of toneel aan te bied. Dit het tot groot ‘sports’ gelei en almal was dit eens dat daar vir sommige leerders ’n blink toekoms op die verhoog wag!

Na afloop van die week is die leerders gevra om terug te kyk oor die week en terug te gee. Van die terugvoer was dit duidelik dat die program ‘n groot indruk op beide die leerders en onderwysers gemaak het en dat hulle dit baie leersaam gevind het.

Die 11 km hike was die hoogtepunt van die kamp. Ons het plante opnames gemaak en insekte versamel. Die mooiste plante was die noem-noem en die forest lilies.

Ek het nog nooit so baie gestap nie (haha). Wat ek baie geniet het is om die verskillende plantspesies te sien, maar my heel gunsteling was die bird hide waar ons lekker die bome van ’n hoër gedeelte kon sien. Die riviere was ook amazing asook die views. Dit was wonderlik om te sien hoe groot die Grootvadersbosch is, dit is ook mooi om te sien hoe skool die woud is. Dit is voordelig vir die diere.”

Die week is in samewerking met CapeNature aangebied en is moontlik gemaak deur ondersteuning van die Het Jan Marais Fonds en die Sentrum vir Indringerbiologie.

‘n Leerder besig om die data te ontleed met behulp van ‘n tablet.

Plantopnames in die onderbos.

Leerders besig om hulle plante te identifiseer.

Leerders besig om die veldkamera op te sit.