Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Hans Strijdom

Intreerede

Augustus 15, 2023 @ 17:3018:30

Die vaskulêre boom van ’n akademiese loopbaan: gekronkel, turbulent en disfunksioneel, met salige oomblikke van laminêre vloei tussenin

Die vaskulêre boom, van beskeie enkellaaghaarvate tot groot, elastiese slagare met meervoudige spierlae, is ’n komplekse netwerk hol buise wat lewegewende suurstofhoudende en voedingsryke bloed na elke sel vervoer. Dít is ook waar bes moontlik een van die belangrikste en grootste selektief deurlaatbare biologiese membrane in die liggaam aangetref word: die endoteel. Hierdie enkele laag selle wat die binnekant van alle bloedvate uitvoer, is besonder veerkragtig, dog ook kwesbaar en geneig tot disfunksie wanneer dit aan skadelike faktore in sirkulasie blootgestel word. Endoteeldisfunksie, een van die eerste gebeure in die patogenese van verskeie kardiovaskulêre toestande, is moontlik omkeerbaar, wat dit ’n waardevolle kandidaatteiken vir terapie maak. Nietemin, ondanks sy kliniese potensiaal as terapeutiese teiken en as ’n merker en voorspeller van kardiovaskulêre siekte, is endoteeldisfunksie in die konteks van Afrika suid van die Sahara swak beskryf wat sowel epidemiologie as onderliggende meganismes betref. Hierdie gebrek aan kennis bestaan teen die agtergrond van die huidige epidemiologiese oorgang in die streek, wat gepaardgaan met ’n toenemende kardiovaskulêre siektelas en vererger word deur ’n ingewikkelde interaksie tussen oordraagbare en nie-oordraagbare siektes. Wat veral kommer wek, is die verband tussen MIV-infeksie en die liggaam se kardiometaboliese stelsel, wat kardiovaskulêre siekte twee keer waarskynliker maak by mense met MIV as onder die algemene bevolking.

In sy intreerede bied Hans ’n oorsig van endoteelnavorsing in kardiovaskulêre fisiologie en siekte en verduidelik hoe ’n lewendige belangstelling in vaskulêre biologie uiteindelik sy eie navorsingsloopbaan gevorm het. Hy kyk terug na die wel en wee van sy navorsingsreis, van die studie van vars geïsoleerde en gekweekte hartselle van rotte en muise, tot diere-orgaan- en in vivo-eksperimente, en sy uiteindelike oorskakeling na mensnavorsing. Hans bespreek ook hoe sy agtergrond as ’n mediese praktisyn en insigte in die gesondheidsuitdagings van Afrika suid van die Sahara hom gelei het tot die studie van MIV as ’n snel ontwikkelende dog onderskatte en swak begrepe kardiovaskulêre risikofaktor in die streek.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Hans Strijdom, eers klinikus en nou akademikus, dien as professor en hoof van die Afdeling Geneeskundige Fisiologie in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, sowel as adjunkdirekteur van die Sentrum vir Kardiometaboliese Navorsing in Afrika. Sy navorsing konsentreer in die algemeen op die fisiologie en patofisiologie van die kardiovaskulêre stelsel, met ’n bepaalde klem op vaskulêre en endoteelbiologie. Aanvanklik spits hy hom hoofsaaklik op laboratorium-, sel-, weefsel- en orgaangebaseerde navorsing toe, maar verskuif in 2015 sy aandag na kliniese navorsing. Daardie jaar ontvang hy finansiering via die ERAfrica-program (EU FP7) en word hy projekkoördineerder van die EndoAfrica-studiekonsortium, waarby navorsers uit Suid-Afrika, Oostenryk en België betrek is. EndoAfrica het studies onderneem oor vaskulêre endoteelveranderinge by mense met MIV én mense wat aan lugbesoedeling blootgestel is. Hy publiseer die afgelope aantal jaar wyd oor die interaksie tussen MIV en kardiometaboliese veranderinge by mense met dié virus. Onlangse toekennings van Amerika se Nasionale Institute vir Gesondheid en die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingstigting (NNS) sal hom in staat stel om mitochondriale funksie by MIV-pasiënte met én sonder kardiometaboliese siekte in Suid-Afrika en Kenia te bestudeer. Met ’n C2-gradering van die NNS het Hans reeds 53 ewekniebeoordeelde artikels die lig laat sien en meer as 80 referate by nasionale en internasionale wetenskaplike byeenkomste aangebied, waaronder 13 as genooide spreker. Hy was al studieleier vir 17 doktorale en 19 magisterkandidate, en gasheer vir sewe nadoktorale genote. Benewens sy navorsingswerksaamhede is Hans ’n voltydse dosent in Menslike Fisiologie vir die programme MBChB, BSc Fisioterapie, BSc Dieetkunde, B Verpleegkunde, B Arbeidsterapie en HonsBSc (Geneeskundige Fisiologie). Sy lys eerbewyse sluit etlike toekennings vir algemene prestasie (navorsing, onderrig en dienslewering) en uitnemende voorgraadse onderrig van die Fakulteit en die Universiteit in.

RSVP HIER

Besonderhede

Datum:
Augustus 15, 2023
Tyd:
17:3018:30

Organiseerder vir intreerede

Olivia Adams
Epos:
adamso@sun.ac.za

Lokaal

JN de Villiers Boardroom, Clinical Building, Faculty Medicine and Health Sciences
Francie Van Zijl Drive
Cape Town, 7605 South Africa
+ Google Map
Afrikaans