Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Shannon Hoctor

Intreerede

November 2, 2023 @ 17:3018:30

Verskerping van die subjektiewe element van strafregtelike aanspreeklikheid in die Suid-Afrikaanse reg

Die Suid-Afrikaanse strafreg onderskryf die gedagte van mense as moreel outonoom. Outonomie van die self, wat ten nouste met die reg op menswaardigheid verband hou, veronderstel die basiese vermoë om die werklikheid te verstaan en tussen reg en verkeerd te onderskei, sowel as die bevoegdheid om te besluit hoe om op te tree, die vermoë om sodanige besluit uit te voer, die internalisering van die grondliggende waardes van die regstelsel, en ’n basiese verbintenis tot daardie waardes deur elke bevoegde persoon. Die individu is derhalwe die grondslag van die samelewing en die reg, en behoort nie as ’n objek of instrument hanteer te word nie. Die reg op menswaardigheid word beperk deur ’n skuldigbevinding, in die lig van die straf en stigmatisering wat daarop volg. Nietemin is ’n skuldigbevinding eweneens die toonbeeld van die reg op menswaardigheid deurdat die oortreder as ’n verantwoordelike menslike agent behandel word.

Die grondslag vir ’n skuldigbevinding is verwytbaarheid. Die skending van die reg op menswaardigheid ná skuldigbevinding is onregverdigbaar, tensy die bevinding van aanspreeklikheid op die oortreder se beheer en keuse gegrond is. Hieruit volg dat die subjektiewe elemente van strafregtelike aanspreeklikheid noodsaaklik is vir die regverdige beoordeling van strafregtelike verantwoordelikheid. Hoewel daar vroeër op objektiewe oorwegings staatgemaak is, het die baanbrekerwerk van JC de Wet die Suid-Afrikaanse reg laat ontwikkel in ’n stelsel van strafregtelike verantwoordelikheid wat op ’n subjektiewe, beginselvaste benadering tot aanspreeklikheid, oftewel die “psigologiese benadering”, berus. Die regverdigings vir, werking van, en geleenthede vir die verdere verbetering van hierdie kerneienskap van substantiewe Suid-Afrikaanse strafreg is die spil waarom hierdie intreerede draai.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Prof Shannon Hoctor beskik oor die grade BA LLB en LLM van die Universiteit van Kaapstad (UK), ’n DJuris van die Universiteit van Leiden (Nederland), sowel as ’n Nagraadse Diploma in Latyn van die Universiteit van Wallis Trinity Saint David (Verenigde Koninkryk). Hy begin sy akademiese reis by die UK en gee later klas by die destydse Universiteit van Port Elizabeth en die Universiteit van KwaZulu-Natal in Pietermaritzburg voordat hy in Julie 2021 as professor in die Departement Publiekreg aan die Universiteit Stellenbosch aangestel word. Prof Hoctor het al verskeie vaktydskrifartikels en boekhoofstukke gepubliseer en dertien boeke, waaronder vyf saamgestelde werke, die lig laat sien, hoofsaaklik oor die straf- en padverkeersreg. Hy is hoofredakteur van die South African Journal of Criminal Justice since 2010, van Fundamina – A Journal of Legal History since 2019, en assistentredakteur van Obiter sedert 2002. Prof Hoctor dien ook sedert 2017 as voorsitter van die Suider-Afrikaanse Vereniging van Regshistorici.

RSVP HIER

Besonderhede

Datum:
November 2, 2023
Tyd:
17:3018:30

Organiseerder vir intreerede

Olivia Adams
Epos:
adamso@sun.ac.za

Lokaal

Kamer 1023, Ou Hoofgebou, Fakulteit Regsgeleerdheid, Ryneveldstraat, Stellenbosch
50 Ryneveld Street
Stellenbosch, Western Cape 7600 South Africa
+ Google Map
Afrikaans