Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Bertie Fielding

Intreerede

22 April 2025 @ 17:3019:30

Van pandemie tot pandemie, en alles tussenin

Prof Bertie Fielding besin in sy intreerede oor sy loopbaan, met ’n bepaalde klem op menslike koronavirusse. Hy volg die spoor van sy werk van vroeë navorsing in Singapoer oor die eerste aangetekende dodelike menslike koronaviruspandemie tot sy bydraes gedurende Covid-19. Prof Fielding bespreek die identifisering van nuwe koronavirusproteïene, die tipering van die funksies van daardie proteïene, en sy rol in die ontwikkeling van diagnostiek en terapieë. Sy navorsing sluit die afgelope tyd ook die studie van langdurige Covid in, sowel as ’n verkenning van die gebruik van nanodeeltjies vir infeksiebehandeling.

Daarbenewens gebruik prof Fielding sy aanbieding om die navorser se rol deur die volle lewensiklus van ’n navorsingsprojek te ondersoek, van die konseptualisering van idees tot die ontwikkeling van produkte. Hy onderstreep die belang van openbare gesprek om die gaping tussen navorsing en samelewingsimpak te oorbrug, en bied insig in navorsers se toenemende verantwoordelikheid om wetenskaplike kennis te bevorder en wêreldwye gesondheidsuitdagings die hoof te bied.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Prof Burtram (Bertie) Clinton Fielding is ’n molekulêre bioloog wie se navorsing op menslike patogene, veral koronavirusse, en botaniese teenkankermiddels konsentreer. Hy dien tans as Dekaan: Natuurwetenskappe en professor in Mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Prof Fielding het sy BSc in Mikrobiologie en Fisiologie sowel as ’n HonsBSc in Mikrobiologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) verwerf. Sy daaropvolgende MSc, ook aan die UWK, is in ’n PhD omskep, en sy doktorale navorsing het gehandel oor die molekulêre tipering van ’n bakulovirus met biobeheerpotensiaal. Hy voltooi later ook ’n MPhil in Bestuursafrigting aan die Stellenbosch Bestuurskool.

Hy het vroeër in sy loopbaan as ’n navorsingsgenoot by die Instituut vir Molekulêre en Selbiologie in Singapoer gewerk, waar hy die SARS-koronavirus bestudeer het. Deur sy akademiese loopbaan het prof Fielding verskeie administratiewe en navorsingsposte beklee, tot etlike ewekniebeoordeelde publikasies en boekhoofstukke bygedra, in eindredaksies gedien, en as mentor en studieleier vir sowel voor- as nagraadse studente opgetree. Sy werk bied insig in die meganismes van virusinfeksie en die potensiaal van botaniese verbindings vir die behandeling van kanker.

Besonderhede

Datum:
22 April 2025
Tyd:
17:3019:30

Organiseerder vir intreerede

Amira Brown
Epos:
browna@sun.ac.za
Afrikaans