Loading Events

« Alle Intreeredes

Prof James Warwick

Intreerede

10 Junie 2025 @ 17:3019:30

Van die veelteller tot teranostiek: ’n verhaal van kerngeneeskunde

Kerngeneeskunde is ’n mediese spesialiteitsgebied wat sowel binne as buite die mediese gemeenskap dikwels verkeerd verstaan word. Die vakgebied word gekenmerk deur die gebruik van onverseëlde stralingsbronne vir die opsporing en behandeling van siekte, en bestaan uit funksionele beelding, spoorderstudies en toegespitste radioterapieë.

Die moderne kerngeneeskunde is ’n samestelling van baanbrekerswerk deur die hele 20ste eeu, toe radioaktiewe verbindings die eerste keer in die mediese wetenskap toegepas is. Sedert daardie vroeë ontwikkelings het die dissipline deur interaksie met én ontlening aan sustergebiede ontwikkel tot ’n dinamiese vakgebied in moderne gesondheidsorg.

Beeldingstegnologie het gevorder van die aanvanklike gebruik van die betreklik basiese veelteller tot die hedendaagse hibridiese stelsels wat uitsonderlike anatomiese en funksionele detail bied. Danksy vooruitgang in biochemie en radiofarmasie kan sellulêre prosesse nou gevisualiseer en presisieterapieë met minder newe-effekte toegedien word.

Prof James Warwick bied in sy intreerede ’n persoonlike blik op die oorsprong en ontwikkeling van kerngeneeskunde. Hy dink na oor die beskeie ontstaan van die vakgebied, hoe dit van daar ontwikkel en deur tegnologiese deurbrake gevorm is, en hoe die dissipline ál hoe verder vooruitgaan danksy voortgesette kruisdissiplinêre innovasie.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Prof James Warwick is die uitvoerende hoof van die Departement Mediese Beelding en Kliniese Onkologie sowel as die hoof van die Afdeling Kerngeneeskunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) en by Tygerberghospitaal.

Hy het aanvanklik ’n loopbaan in die fisika in die oog gehad en dus ’n BSc met Fisika en Toegepaste Wiskunde as hoofvakke aan die Universiteit van Kaapstad (UK) verwerf. Toe hy later na die geneeskunde oorslaan, skryf hy in vir die MBChB-program by die UK en voltooi sy internskap by Groote Schuur-hospitaal.

Hy doen kliniese ervaring in ongeluk- en noodgeneeskunde sowel as ortopediese chirurgie in die Verenigde Koninkryk op en keer daarna terug na Suid-Afrika om hom by die US se Kerngeneeskunde-program vir kliniese assistente aan te sluit. Prof Warwick dien sedert 2000 as ’n spesialis in die Afdeling Kerngeneeskunde by Tygerberghospitaal. Boonop voltooi hy in 2001 ’n genootskap in breinbeeldingsontleding aan die Katolieke Universiteit van Leuven en die Universiteit van Gent, albei in België.

Prof Warwick het al sowat 80 boekhoofstukke en ewekniebeoordeelde vaktydskrifartikels die lig laat sien. Sy navorsingsbelangstellings sluit in die toepassing van funksionele breinbeelding in psigiatrie en neurologie, die rol van PET/CT-beelding in infeksiesiektes, en die assessering van nierfunksie. Vyf doktorale en 19 magisterkandidate het reeds by sy studieleiding baat gevind.

Met bykans 25 jaar se ondervinding in die onderrig, opleiding en eksaminering van Kerngeneeskunde-kandidate lewer prof Warwick ’n aansienlike bydrae tot die gebied. Hy het van 2011 tot 2020 vir drie termyne as voorsitter van die Kollege vir Kerngeneeskundiges van die Kolleges vir Geneeskunde van Suid-Afrika gedien. Daarbenewens het hy verskeie leiersrolle in die Vereniging van Kerngeneeskundiges (ANP) en die Suid-Afrikaanse Vereniging van Kerngeneeskunde (SASNM) vervul en onder meer van 2014 tot 2016 as SASNM-voorsitter opgetree.

Besonderhede

Datum:
10 Junie 2025
Tyd:
17:3019:30

Organiseerder vir intreerede

Amira Brown
Epos:
browna@sun.ac.za
Afrikaans