Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Dieter von Fintel

Intreerede

Oktober 17, 2023 @ 17:3018:30

Fakulteit Ekonomie en Bestuurswetenskappe

Mense, plek en ontwikkeling: dataverhale deur hede en verlede

In ’n wêreld waar alles en almal verbind is, beïnvloed ekonomiese keuses en beleide dikwels mense op tye en plekke wat oënskynlik niks met mekaar te doen het nie. Hedendaagse ekonomiese ontwikkeling is die gevolg van jare of selfs eeue gelede se goeie en slegte keuses, van historiese ongelukke, en van kontemporêre beleidsbesluite wat die verlede probeer regstel of daarop reageer. Die ontploffing in die beskikbaarheid van alle soorte en vorme van data bied oneindige geleenthede om die belangrike verhale oor die verskillende fasette van die mens se bestaan, ekonomiese ontwikkeling en (ruimtelike) ongelykheid te vertel. Dataverhale bied ontelbare leidrade oor hoe om ’n al hoe komplekser toekoms te hanteer – ons het nog lank nie al die moontlikhede ontgin nie. Onlangse ontwikkelings bied nie net opwindende nuwe databronne nie, maar stel navorsers in staat om die verborge historiese rekord op te diep wat die ontbrekende inligting voorsien om ons ’n beter begrip te bied van hoe die mensdom gekom het tot waar ons vandag is. Om deur die magdom inligting te sif en te besluit watter verhale belangrik is, is egter moeilik in die era van vals inligting en in ’n tyd waar, soos David Autor onlangs opgemerk het, “rekenaars meer weet as wat hulle ons kan sê”. In hierdie intreerede vertel prof Dieter von Fintel een weergawe van Suider-Afrika se verhaal deur te kyk na van die vormende invloede op ekonomiese ontwikkeling en die ongelykhede wat tussen mense en plekke ontstaan het en bly voortbestaan. Hy weef verskeie empiriese lesse aanmekaar wat wissel van historiese diskriminasie en die oordrag van welvaart en gesondheid tussen generasies, tot plekgebaseerde en arbeidsmarkbeleide. Daar is heelwat om te leer oor waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is, en nuwe data en tegnologieë sal waarskynlik voortgaan om ons denke en benaderings ten opsigte van eietydse probleme en geleenthede te verander.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Prof Dieter von Fintel is ’n ontwikkelingsekonoom en ekonomiese geskiedskrywer aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat hom in 2007 by die Departement Ekonomie aangesluit het. Hy is ’n aktiewe lid van ReSEP (die navorsingsgroep oor sosio-ekonomiese beleid) en LEAP (die laboratorium vir die ekonomie van Afrika se verlede) sedert albei navorsingsgroepe se ontstaan. Hy voltooi in 2014 sy PhD in Arbeidsekonomie aan die US nadat hy die jaar 2012 as ’n besoekende Statebond-PhD-kandidaat by die Universiteit van Oxford deurgebring het. Sy navorsing verken die impak van historiese en kontemporêre beleide en gebeure op landbou-, arbeids-, voedselsekerheids- en gesondheidsuitkomste van huishoudings en firmas in verskeie dele van Afrika suid van die Sahara. As ’n kenner in toegepaste mikro-ekonometrie, ontleed Dieter verskille in ekonomiese en menslike ontwikkeling met ’n kombinasie van opname-, administratiewe en satellietdata, en ’n bepaalde klem op ongelykhede tussen mense en plekke. Sy bekroonde werk oor Suid-Afrika se langtermyn- ekonomiese uiteenloping (saam met medeskrywer Johan Fourie) het in 2020 die Montias-prys ontvang vir die beste artikel wat in die Journal of Comparative Economics verskyn het en is daardie jaar by The Economist se Kersuitgawe ingesluit. Ook in 2020 wen hy die prys vir die beste artikel van Economic History of Developing Regions vir sy studie van ruimtelike ongelykhede in landbou saam met Twanda Chingozha. Hy is ’n navorsingsgeaffilieerde van die Instituut vir Arbeidsekonomie (IZA) in Bonn, Duitsland; ’n navorsingsgenoot van die Globale Arbeidsorganisasie (GLO), en is ook geaffilieer by die Pan-Afrika Wetenskaplike Navorsingsraad (PASRC). Hy koördineer nagraadse studie in Ekonomie by die US, waaronder die dubbele magisterprogram wat saam met die Universiteit van Göttingen aangebied word. Hy gee nagraads klas in Ekonometrie, Ontwikkelingsekonomie en Arbeidsekonomie en dien as promotor vir PhD-studente van oor die hele Afrika. Hy het al vir die Wêreldvoedselprogram, die Verenigde Nasies se Kinderfonds, die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid, die Suid-Afrikaanse Reserwebank en verskeie nasionale statistiekkantore as konsultant oor ontwikkelingsekonomiese en statistiese kwessies opgetree.

RSVP HIER

Besonderhede

Datum:
Oktober 17, 2023
Tyd:
17:3018:30

Organiseerder vir intreerede

Olivia Adams
Epos:
adamso@sun.ac.za

Lokaal

Room 1046, Van der Sterr Building, Bosman Street, Stellenbosch
12 Bosman Street
Stellenbosch, Western Cape 7600 South Africa
+ Google Map
Website:
Fakulteit Ekonomie en Bestuurswetenskappe
Afrikaans