Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Elmi Muller

Intreerede

Augustus 29, 2023 @ 17:3018:30

Vlietende oordenkings van pyn, die dood, en chirurgie

’n Professionele en akademiese curriculum vitae is ’n sorgvuldig saamgestelde verhaal van sukses. Dit impliseer gedrewe keuses, doelgerigte werk, kumulatiewe prestasies en vaardighede, en ’n chronologies gestruktureerde narratief van hoe jy graag professioneel en akademies beskou wil word.

Maar hoe verskil die realiteit van wat mediese klinici doen en ervaar van so ’n amptelike weergawe van haarself wat ’n professor in Chirurgie versprei om hierdie ‘goedgekeurde’ opvattings by pasiënte én kollegas aan te moedig? En hoe ontlok liggaamlike swakheid en sterflikheid ’n ander beroepsbestaan en -besef as daardie verhale wat ons veronderstel is om oor ons loopbane en ons lewens as klinici en klinici-akademici te vertel sodat ons vertroue inboesem by dié wat op ons staatmaak?

In haar intreerede roer prof Elmi Muller hierdie alternatiewe, vlietende realiteit aan. In haar besinning oor haar loopbaan as ’n chirurg en klinikus-akademikus dien persoonlike ervarings met pasiënte as ’n kontrapunt vir ’n loopbaan wat op professionele sukses en akademiese prestasie uitgeloop het. Hierdie oordenkings handel oor persoonlike onsekerheid, opoffering, verlies en hartseer. As ’n dokter, het haar pasiënte haar van pyn en die dood geleer, terwyl sy self ook leef in die skadu van die diep menslike bewustheid van, en vrees vir, haar eie tekortkominge, liggaamlike swakheid en sterflikheid, en die tekortkominge, swakheid en sterflikheid van diegene naaste aan haar.

Sy deel vlietende gedagtes oor die ervaring van ander se lyding en pyn, en die kosbare, onhoudbare vervlegting van hierdie ervarings met wat dit beteken om ’n chirurg en akademikus te wees wie se werk gegrond is op ’n uitvoeringspraktyk wat immer en intiem met pyn en sterflikheid omgaan.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Prof Elmi Muller is ’n oorplantingchirurg en die dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) – die eerste vrou om dié pos te beklee. Sy is ’n internasionale leier in die gesondheidsorgsektor en die voorsitter van The Transplantation Society (TTS), die grootste internasionale genootskap op oorplantingsgebied. Sy het sowel kliniese as bestuurskwalifikasies in Suid-Afrika en Engeland verwerf, en beklee ook ’n genootskap in die Verenigde State.

Elmi se grensverskuiwende navorsing oor die oorplanting van MIV-positiewe skenkerorgane in MIV-positiewe ontvangers het nie net etlike lewens in Suid-Afrika gered nie, maar ook wêreldwyd ’n impak op gesondheidsorgbeleid gehad. Haar navorsing het in toonaangewende mediese vaktydskrifte soos The Lancet, Nature Medicine en die New England Journal of Medicine verskyn. Sy het twee gesogte U01-toekennings van die Amerikaanse Nasionale Institute vir Gesondheid (NIH) ontvang om die impak van die gebruik van MIV-positiewe skenkers met verskillende virale stamme te ondersoek. Die toename in die gebruik van hoërisikoskenkers bied nuwe moontlikhede vir die uitbreiding van skenkerspoele wêreldwyd.

Daarbenewens onderneem Elmi omvattende navorsing oor kwessies van orgaanhandel, -regulering, -etiek en -opleiding. In dié verband is sy ’n voormalige voorsitter van die Verklaring van Istanbul-bewakingsgroep en ’n lid van die Wêreldgesondheidsorganisasie se oorplantingstaakgroep. Haar navorsing oor mense-uitbuiting en -handel vir die doel van orgaanverwydering konsentreer op gebrekkige bewustheid van hierdie uitdagende kwessie, en die behoefte aan gespesialiseerde en tegniese vaardighede om dit die hoof te bied. Haar kernrol as klinikus-akademikus in Afrika het aan haar ’n sentrale plek besorg in internasionale pogings om orgaanreguleringskwessies te hanteer.

Elmi se akademiese en vakkundige impak strek ook verder as die terrein van oorplanting. Sy is ’n genoot van die Amerikaanse Genootskap van Chirurge, ’n lid van die Koninklike Genootskap van Chirurge van Edinburgh, en ’n erelid van die Europese Chirurgiese Vereniging. As gevolg van haar interdissiplinêre navorsing is sy al verskeie kere genooi om konferensies en vergaderings oor chirurgie, infeksiesiektes, immunologie, virologie en etiek toe te spreek. Haar bydraes tot hierdie gebiede het beleid en wetgewing wêreldwyd beïnvloed.

Sy was voorheen die hoof van die Oorplantingseenheid by Groote Schuur-hospitaal en was die eerste vrou om as voorsitter van Algemene Chirurgie by die Universiteit van Kaapstad te dien.

Elmi beskik oor ’n prestigeryke A1-gradering van die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingstigting. Die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad het haar in 2023 met ’n goue medalje vir haar voortreflike bydraes tot gesondheidsnavorsing vereer. Boonop was sy die Stellenbosch Bestuurskool se alumna van die jaar 2021 vir sosiale impak.

Sy is getroud met Stephanus Muller, die direkteur van die Africa Open Instituut vir Musiek, Navorsing en Innovasie aan die US. Hulle twee kinders, Willem en Johan, hondevriend Addie en kattekind Stephanus voltooi die gesin.

RSVP HIER

Besonderhede

Datum:
Augustus 29, 2023
Tyd:
17:3018:30

Organiseerder vir intreerede

Olivia Adams
Epos:
adamso@sun.ac.za

Lokaal

JN de Villiers Boardroom, Clinical Building, Faculty Medicine and Health Sciences
Francie Van Zijl Drive
Cape Town, 7605 South Africa
+ Google Map
Afrikaans