- This event has passed.
Prof Henry Mbaya
Plek, mag, en die verlede: Die herdenking en monumentalisering van godsdiens as ’n uitdaging vir die Suid-Afrikaanse geskiedenis van St Michael en St George, Grahamstad, 1992-1996
Prof Henry Mbaya ondersoek in hierdie intreerede die twispunt wat in 1992 tussen ’n groep swart studente en personeellede van die destydse St Paul’s-kweekskool en lede van die Anglikaanse Katedraal van St Michael en St George in Grahamstad ontstaan het. Die middelpunt van die omstredenheid was die term ‘Kaffir’ wat op vyf 19de-eeuse Engelse koloniale gedenkplate in die katedraal gebruik is met verwysing na die AmaXhosa, in teenstelling met die helde-uitbeelding van die Engelse teen die agtergrond van die onderwerpingsoorloë teen die amaXhosa. Prof Mbaya gebruik die konsepte van geskiedenis, herinneringe en mag om die betekenis van die gedenkplate te verken, en stel voor dat die historiese narratiewe van die amaXhosa ingesluit en naas dié van die Engelse koloniale setlaars geplaas word.
Kort biografie
Prof Henry Mbaya het in 1985 ’n diploma in Gewyde Teologie aan die St Paulus-teologiekollege in Grahamstad (Makhanda) voltooi. Hy sit sy teologiestudie aan Rhodes-universiteit voort en verwerf sy HonsBTh in 1988. In 1990 word hy tot priester gewy. Henry gradueer ook in 1997 en 2005 met sy magister- en doktorsgraad in Teologie, aan onderskeidelik die Universiteit van Natal en die Universiteit van KwaZulu-Natal. Sy professionele akademiese loopbaan begin in 2009 as dosent by die Universiteit van Fort Hare. Hy sluit hom in Januarie 2012 by die Departement Praktiese Teologie en Missiologie van die Universiteit Stellenbosch aan en verskuif in 2020 na die Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie.
Henry se navorsing strek oor twee terreine, naamlik die Anglikaanse sendingsgeskiedenis en Afrikakultuur in Suider-Afrika in die laat 19de en die 20ste eeu. In sy navorsing oor sendingsgeskiedenis lewer hy kritiek op ’n Anglikaanse sendingsbenadering tot Afrikakultuur in Suider-Afrika, en werp terselfdertyd lig op die destydse komplekse aard van Anglikaanse sendingswerk in die streek. Van sy navorsingswerk die afgelope 11 jaar konsentreer ook op die historiese ontwikkeling van inheemse Christenskap in Suid-Afrika.
Henry het sedert 2005 aan 12 internasionale en tien nasionale konferensies deelgeneem. Hy was al studieleier vir ses magisterstudente en vyf doktorale kandidate en het tans ’n verdere ses PhD-studente onder sy vlerk. Dié ontvanger van die Rektor se Toekenning vir Uitnemende Navorsing in 2020 het ’n C-gradering van die Nasionale Navorsingstigting en het reeds 45 ewekniebeoordeelde en vyf nie-ewekniebeoordeelde artikels en referate gepubliseer. Henry is boonop die skrywer van twee monografieë en het nóg een op pad.
Nuutste Opmerkings