
- This event has passed.
Prof Karl Storbeck
20 Mei 2025 @ 17:3019:30

Benewens testosteroon: herbesinning oor androgeenbiologie in menslike gesondheid en siekte
Karl Storbeck se belangstelling in steroïedhormoonnavorsing is gedurende sy honneursjaar aan die Universiteit Stellenbosch geprikkel, en dit het kort voor lank sy passie en die fokus van sy wetenskaplike loopbaan geword.
Deesdae werk Karl en sy span internasionaal saam aan studies wat gesofistikeerde toepassingsbenaderings volg om die rol van steroïedhormoonbiosintese en -metabolisme in menslike gesondheid en siekte te ondersoek. Steroïedhormone is biologies aktiewe molekules wat van cholesterol afgelei is en ’n wye verskeidenheid fisiologiese prosesse by mense reguleer. As kernhormone van die endokriene stelsel, vervul steroïedhormone ’n noodsaaklike rol in metabolisme, die stresreaksie, immuunfunksie, en reproduktiewe gesondheid. Karl se intreerede handel oor vordering met sy navorsing, met die klem op (i) hoe spanwetenskap sy werk verbeter het, (ii) die ontdekking van ’n voorheen miskende klas adrenaal afgeleide steroïede genaamd 11-oksigeneerde androgene, en hoe dié steroïede bydra tot (iii) kastrasieweerstandige prostaatkanker by mans, en (iv) polisistiese ovariële sindroom by vroue.
Spanwetenskap – As ’n introvert wat as student ’n weersin in groepwerk gehad het, besef Karl nou die voordeel van samewerking en is hy ’n sterk kampvegter vir spanwetenskap. Deur sy kundigheid in steroïedbiochemie met sy medewerkers se sterkpunte in berekeningsmodellering en kliniese endokrinologie te kombineer, vind sy navorsing baat by ’n multidissiplinêre benadering wat fundamentele navorsing in kliniese toepassings help omskep.
11-oksigeneerde androgene – Die endokrinologie het dekades lank testosteroon en 5α-dihidrotestosteroon (DHT) as die enigste kragtige androgene in menslike fisiologie erken. Karl en prof Amanda Swart was egter onder die eerstes wat hierdie gevestigde denkwyse bevraagteken het deur die aanwesigheid van die sogenaamde adrenaal afgeleide 11-oksigeneerde androgene by mense aan te toon. In die besonder het sy span die biosintetiese roete na 11-ketotestosteroon (11KT) beskryf en 11KT as ’n kragtige menslike androgeen bewys.
Kastrasieweerstandige prostaatkanker – Gevorderde prostaatkanker word met behulp van androgeenontnemingsterapie behandel, wat testosteroonvlakke doeltreffend verlaag en androgeenafhanklike tumorgroei strem. Ondanks die aanvanklike doeltreffendheid van die terapie, keer die kanker nietemin sonder uitsondering terug in die vorm van kastrasieweerstandige prostaatkanker (CRPC). CRPC-selle pas aan by lae sirkulerende testosteroonvlakke deur die vermoë te ontwikkel om adrenaal afgeleide androgeenvoorlopers, waaronder 11-oksigeneerde androgene, te benut.
Polisistiese ovariële sindroom – Polisistiese ovariële sindroom (PCOS) is die algemeenste endokriene versteuring onder vroue. Hoewel dit dikwels as ’n reproduktiewe versteuring beskou word, is PCOS ook ’n lewenslange metaboliese versteuring wat deur oortollige androgene veroorsaak word. Saam met ’n span van die Verenigde Koninkryk onder leiding van medewerker prof Wiebke Arlt het Karl ’n kernrol gespeel om aan te toon dat 11-oksigeneerde androgene bydra tot die hiperandrogenisme wat by vroue met PCOS opgemerk word.
Kort biografie
Karl Storbeck het in 2008 sy PhD in Biochemie aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf. Ná twee nadoktorale genootskappe is hy in 2012 in die Departement Biochemie aan die US se Fakulteit Natuurwetenskappe aangestel, waar hy ’n onafhanklike navorsingsgroep oor die biosintese en metabolisme van steroïedhormone tot stand gebring het. Sy werk het hom in 2016 die silwer toekenning van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Biochemie en Molekulêre Biologie (SASBMB) besorg. Hy ontvang daardie selfde jaar ’n Newton Gevorderde Genootskap van die Akademie van Mediese Wetenskappe, Verenigde Koninkryk (VK), wat uitgebreide samewerking met klinici in die VK moontlik maak. Dít lei tot ere-aanstellings by die Universiteit van Birmingham sowel as die Mediese Navorsingsraad se Laboratorium vir Mediese Wetenskappe, albei in die VK. Altesaam 21 PhD- en MSc-studente het al onder Karl se studieleiding gegradueer, en hy staan tans ’n verdere sewe nagraadse studente by.
Karl glo sterk in spanwetenskap en is passievol daaroor om sy fundamentele navorsing oor steroïedbiochemie met kliniese navorsing in die toepassingsdomein te kombineer, waar die navorsing ’n direkte impak op pasiënt-uitkomste kan hê. Deur 11-oksigeneerde androgene as kragtige androgene by mense te identifiseer, bevraagteken sy werk die gevestigde denkwyse dat testosteroon en 5a-dihidrotestosteroon (DHT) die enigste relevante androgene in menslike gesondheid en siekte is. Hy word wêreldwyd as ’n leier op die gebied van 11-oksigeneerde androgene erken en is gereeld ’n gasspreker by internasionale kongresse en simposiums.
Benewens navorsing is Karl ook daartoe verbind om in die wetenskaplike gemeenskap terug te ploeg. Hy is ’n mederedakteur van die Journal of Steroid Biochemistry and Molecular Biology en dien in die eindredaksies van Steroids sowel as Molecular and Cellular Endocrinology. Op nasionale vlak is hy aktief betrokke by die SASBMB en het hy drie termyne in die raad van dié vereniging gedien, waaronder as tesourier van 2016 tot 2022. Hy dien tans as die tesourier van die plaaslike reëlingskomitee vir die 27ste Kongres van die Internasionale Unie van Biochemie en Molekulêre Biologie, wat in 2027 in Kaapstad aangebied sal word – die eerste keer wat hierdie prestigeryke byeenkoms in Afrika sal plaasvind. By die US dien hy in die Navorsingsetiekkomitee vir Biologiese en Omgewingsveiligheid sowel as die Fakulteit Natuurwetenskappe se Transformasieadvieskomitee.
Nuutste Opmerkings