- This event has passed.
Prof Liezel Frick
April 20, 2023 @ 17:3018:30
Meer as net nog ’n baksteen in die muur: Die rol van doktorale kreatiwiteit in die opleiding van toekomstige geslagte navorsers
Internasionaal en oor dissiplines heen, is oorspronklikheid 'n verwagte uitkoms van doktorale onderrig. Maar hoe hierdie uitkoms geproduseer word het nog nie veel akadiemiese oorweging geniet nie. Liezel Frick se werk het substantief bygedra tot die corpus van kennis oor doktorale onderrig in die algemeen, en tot die konseptualisering en operasionalisering van die tussenspel tussen doktorale oorspronklikheid as produk en doktorale kreatiwiteit as onderliggende proses daarvan.
Die intreerede bied 'n kortlikse konseptualisering van doktorale kreatiwiteit, waarna Liezel vier toekomsgerigte uitlokkende vrae stel oor doktorale kreatiwiteit, insluitend:
· Bied doktorale kreatiwiteit 'n 'globale paspoort' na die wêreld?
· Kan doktorale kreatiwiteit dien as 'n katalis vir navorsingsamewerking?
· Kan doktorale kreatiwiteit gekommodifiseer word?
· Kan doktorale kreatiwiteit wêreld red?
Die perspektiewe wat sy bied in oorweging van hierdie vrae kom vanuit haar eie akademiese trajek en akademiese belangstellings, sowel as vanuit 'n wye reeks akademiese bydraes.
Bied doktorale kreatiwiteit 'n ‘globale paspoort’ na die wêreld? Om doktoraal te wees (en te word) impliseer dat jy grense moet oorsteek. Sulke grense mag institusioneel, nasionaal, en/of dissiplinêr wees. Ideaal word idees (as die boublokke van kennis vooruitgang) nie gebind deur sulke grense nie. Maar, in realiteit is nie alle idees gelyk geskep nie omrede kennisskepping (insluitend doktorale kennisskepping) steeds afspeel in gebonde wyses. So terwyl die doktraal gesien kan word as 'n paspoort na die wêreld van geleenthede vir sommige, mag ander addisionele visas nodig hê om globale kennis gemeenskappe te kan betree wat lei tot gedifferensieerde doktorale toekomse. Wanneer ons doktorale onderrig oorweeg, moet ons dink aan maniere waarop ons epistemiese, sosio-ekonomiese en politieke hiëragieë en voorreg kan omver gooi.
Kan doktorale kreatiwiteit dien as 'n katalis vir navorsingsamewerking? Ons sien reeds verskuiwings na gesamentlike doktorale kreativiteit, maar ons het meer navorsing nodig wat universiteite se potensiaal om die kreatiewe potensiaal van beide individue en groepe te koester verken, en dit vereis tyd, hulpbronne en spasie vir meer buigsame programstrukture, verbeterde studente ondersteuningstrukture en 'n investering in die ontwikkeling van kreatiewe hoër onderwys pedagogieë, sowel as in navorsing wat nie noodwendig 'n onmiddellike en toegepaste impak mag hê nie.
Kan doktorale kreatiwiteit gekommodifiseer word? Universiteite wat kreatiwiteit tydens doktorale studie bevorder, moet kreatief as instellings self wees. Die idee van 'n kreatiewe universiteit sluit nie uit om doeltreffend en ekonomies lewensvatbaar te wees nie, maar dit neem 'n langer termyn blik op die voordeel wat dit mag inhou vir gemeenskappe en die ekonomie, en laat ruimte vir dialoog, eksperimentering en innovering. 'n Nou fokus op die ekonomie van die sisteem (beide in terme van die fiskale en doeltreffendheids indikatore) mag onopsetlik indring op die potensiaal vir innoverende kennis oordrag, skepping en produksie deur beide onderrig en navorsing, en die uiteindelike potensiële bydrae wat die hoër onderwyssektor in die toekoms kan maak tot industrieë en gemeenskappe.
Kan doktorale kreatiwity die wêreld red? Doktorale kreatiwiteit na hierdie doel vereis die ontwikkeling van studente se bewustheid en beheer in die kreatiewe implimentering van hul kennis in 'n uiteindelik onvoorspelbare professionele omgewing. Hierdie argument spreek tot hoër orde en kompleksie bevoegdhede en moet nie verontagsaam of verdun word tot 'n simplistiese begrip van vaardigheidsontwikkeling nie. Dit beklemtoon die behoefte aan 'n meer oorweegde verkenning van kreatiwiteit as 'n sentrale kenmerk van doktorale kurrikula.
Kort biografie
Liezel Frick is ’n professor in die Departement Kurrikulumstudie van die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, waar sy sedert 2017 as direkteur van die Sentrum vir Hoër en Volwassene-onderwys dien. Sy verwerf haar doktorsgraad in 2007 en sluit haar in 2008 as dosent by die Departement aan. Sy dien tans ook die Fakulteit as Visedekaan: Navorsing en Nagraadse Studie. Sy gee klas en studieleiding in die Fakulteit se nagraadse diploma-, MPhil- en doktorale programme oor hoër en volwassene-onderwys. Boonop is sy ’n navorsingsgenoot van die DWI/NNS Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskapmetriek en Wetenskap-, Tegnologie- en Innovasiebeleid (SciSTIP).
Hoewel haar navorsingsbelangstellings op die algemene terrein van hoër en volwassene-onderwys val, is dit veral haar werk oor doktorale onderrig wat haar die meeste internasionale erkenning besorg. Sy is ’n aktiewe lid van die Internasionale Netwerk vir Doktorale Onderrig (IDERN) en die spesiale belangegroep oor navorseropleiding en -loopbane van die Europese Vereniging vir Navorsing oor Leer en Onderrig (EARLI), wat haar in staat gestel het om uitgebreide navorsingsnetwerke oor doktorale onderrig en studieleiding op te bou. Verdere bewys van die reikwydte van haar werk op dié gebied sluit in haar tyd in die advieskomitee oor doktorale studieleiding van die Karolinska Institutet (Stockholm, Swede, 2017/18) en as genooide lid van die kennersgroep oor doktorale onderrig vir die Herrenhausen Konferensie oor Kragte en Vorme van Doktorale Onderrig (geborg deur die Volkswagen Stiftung, Hannover, Duitsland, September 2019). Sy gebruik haar navorsing as grondslag vir vermoëbou onder studieleiers en nuwelingnavorsers en is al genooi om werksessies en kortkursusse hieroor te fasiliteer, waardeur sy ’n akademiese voetspoor in verskeie Afrika- en Europese lande agterlaat.
Haar werk is al met verskeie toekennings bekroon, vernaamlik die toekenning vir Beste Opvoedkundige Navorser van Afrika 2013/14 (van die Afrika-ontwikkelingsinstituut (ADI) en die Vereniging vir die Ontwikkeling van Onderwys in Afrika (ADEA) – Abidjan, Côte d’ Ivoire, 2015) en die Emerald Literati-netwerk se toekenning vir hoogs aangeskrewe bydrae vir 2012 (vir die artikel “Conceptualising and encouraging critical creativity in doctoral education” wat sy saam met prof Eva Brodin van Lund Universiteit, Swede, in die International Journal for Researcher Development gepubliseer het). Die Nasionale Navorsingstigting het in 2013 ’n Y2-gradering (belowende jong navorser) en in 2019 ’n C1-gradering (gevestigde erkende navorser) aan haar toegeken. Haar navorsingsportefeulje sluit meer as 70 gepubliseerde navorsingsuitsette en selfs méér konferensiereferate in, in baie gevalle as hoofspreker. Sy het al by meer as 20 verskillende vaktydskrifte in ’n keurings-/redaksionele hoedanigheid gedien.
Nuutste Opmerkings