Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Portia Jordan

Intreerede

Julie 25, 2023 @ 17:3018:30

Dis menslik om foute te maak: Die ontwikkeling van bewysgegronde benaderings vir veiliger gesondheidsorg

Pasiëntveiligheid is grondliggend tot die lewering van tydige, billike en doeltreffende noodsaaklike gesondheidsdienste van gehalte. Dit is menslik om foute te maak, veral met die toenemende kompleksiteit van gesondheidsorgomgewings. Nietemin doen miljoene pasiënte jaarliks beserings op of sterf selfs as gevolg van onveilige en swak gesondheidsorg. Die komplekse uitdagings vir veilige en goeie gesondheidsorg vereis dringende bewysgegronde optrede.

Prof Portia Jordan se intreerede bestaan uit drie afdelings. Eerstens beskryf sy die noodsaaklike vereistes vir pasiëntveiligheid. Sy bied tweedens ’n oorsig van bewysgegronde praktyk as ’n onontbeerlike bevoegdheid vir pasiëntveiligheid, en vertel derdens meer oor ’n navorsingsprogram oor bewysgegronde praktyke met betrekking tot kwesbare pasiënte op meganiese ventilasie in die kritiekesorgeenheid. Meganiese ventilasie word om etlike kliniese en fisiologiese redes vereis. Die bestuur van die meganies geventileerde pasiënt behels vele fasette: Dit vereis onder meer hoogs tegniese psigomotoriese vaardighede, gevorderde patofisiologiese kennis, kundigheid in indringende monitering, en die implementering van bewysgegronde intervensies deur kliniese besluitneming. Portia bespreek die veiligheidsoorwegings in die versorging van die meganies geventileerde pasiënt aan die hand van bewysgegronde praktyk.

Bewysgegronde praktyk word omskryf as praktyk wat op die beste beskikbare bewyse berus, waaronder die pasiënt se waardes en voorkeure én die klinikus se oordeel en kundigheid, met die einddoel om beste praktyk te implementeer. Die toepassing van bewysgegronde praktyk word onderstut deur die vestiging van sorgstandaarde en -roetes, integrasie met verpleegopleiding, ’n verandering in praktykgedrag, die meting van impak deur gehalteverbeteringsprosesse, en die handhawing van die meting- en verbeteringsiklus.

Deur ’n kliniesepraktyk- én opvoedkundige lens te gebruik, help bou Portia ’n dieper begrip van pasiëntveiligheid wat op bewysgegronde praktyk berus.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Portia Janine Jordan het tussen 1995 en 2015 haar diplomas in Verpleegonderwys en Nefrologie sowel as die grade BCur, MCur, MBA, en PhD aan Nelson Mandela Universiteit (NMU) verwerf.

Nadat sy haar voorgraadse studie voltooi het, het sy vir altesaam nege jaar as ’n professionele verpleegkundige en eenheidsbestuurder in die kritiekesorg- en niereenhede van die provinsiale hospitaal in Gqeberha sowel as by Tygerberg gewerk. Portia begin daarna haar akademiese beroep en keer terug na haar alma mater as ’n dosent in Kritiekesorgverpleegkunde en in die voorgraadse verpleegkundeprogram. Sy dien vir 11 jaar in dié hoedanigheid, gevolg deur drie jaar as hoof van NMU se Departement Verpleegkunde. Sy sluit haar in 2019 by die Universiteit Stellenbosch aan as professor en uitvoerende hoof van die Departement Verpleeg- en Verloskunde. Hier gee sy klas en bied studieleiding in die nagraadse diplomakursusse en magister- en doktorale programme, met ’n bepaalde klem op bewysgegronde praktyk, kritiekesorgverpleegkunde en pasiëntveiligheid.

In nasionale verband is Portia die voorsitter van die Forum van Universiteitsverpleegkundedekane van Suid-Afrika (FUNDISA), ’n lid van die Kritiekesorgvereniging van Suider-Afrika, en ’n genoot van die Akademie van Verpleegkunde van Suid-Afrika (ANSA). Sy het ook gedurende die pandemie in die ministeriële advieskomitee oor Covid-19 gedien.

Op wêreldvlak is sy ’n lid van die oorhoofse Tau Lambda-afdeling van die internasionale Sigma Theta Tau-erevereniging vir verpleegkunde, sowel as van die onderwyskomitee van die Universiteitskonsortium vir Globale Gesondheid (CUGH). Daarbenewens dien Portia in die verpleegkundekomitee van die Afrikaforum vir Gesondheidsnavorsing en -onderwys (AFreHealth), waar sy verpleegopleiding en professionele standaarde en praktyke op ons vasteland help versterk.

Sy werk sedert 2017 saam met ’n groep verpleegkundeleiers van ses universiteite wêreldwyd om opleiding in pasiëntveiligheid vir verpleegkundestudente te verbeter. Haar bydrae draai om kwaliteitsorg, globale leierskap en burgerskap sowel as kulturele vaardighede onder verpleegkundeleiers, -studente en -opvoeders.

Portia se navorsing bevorder die implementering van bewysgegronde gesondheidsorg in verpleegopleiding en kliniese praktyk. Haar werk konsentreer veral daarop om te sorg dat opleiding in pasiëntveiligheid op praktiese gesondheidsorgbewyse uit komplekse omgewings soos kritiekesorg- en peri-operatiewe eenhede berus.

RSVP HIER

Besonderhede

Datum:
Julie 25, 2023
Tyd:
17:3018:30

Organiseerder vir intreerede

Olivia Adams
Epos:
adamso@sun.ac.za

Lokaal

BMRi auditorium, room 1081, BMRI Building, Tygerberg campus
Francie Van Zijl Drive
Cape Town, 7505 South Africa
+ Google Map
Afrikaans