Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Robbie Pott

Intreerede

5 Junie 2025 @ 17:3019:30

Van laboratorium tot lesingsaal: die ontwikkeling van bioprosesse en studente

Organismes is oral om ons en produseer veel meer materiale as wat ons ooit sal kan verstaan. Baie van hierdie materiale het die potensiaal om lewens te verbeter en nuwe industrieë te skep. Maar om hierdie waarde te ontsluit, moet iemand ’n proses ontwikkel om die organisme te ontgin, om dit dan so ver te kry dat dit die spesifieke produk produseer, en om uiteindelik die produk vas te vang. Die taak van die bioprosesingenieur is dus om op mikroskopiese skaal, reaktorskaal, prosesskaal én ekonomiese, samelewing- en omgewingskaal te werk om organismes se vermoëns te benut. Prof Robbie Pott se intreerede handel oor hierdie verskillende skale – bioprospektering om na interessante en nuttige organismes te soek; die ontwerp van bioreaktors om in te kweek en te produseer; die skep van skeidingstelsels wat waarde vasvang; en die ontwikkeling van prosesontwerpe wat gekommersialiseer kan word. Hy onderneem ’n blitstoer deur ’n dekade se navorsing en meer as 20 nagraadse navorsers se werk om te verduidelik hoe bevredigend (en soms ook moeilik) navorsing kan wees wat uit nuuskierigheid spruit. Met die hulp van fantastiese studente, gedrewe en ondersteunende kollegas en medewerkers, en dikwels ’n bietjie geluk, kan bioprosesingenieurswese implementeerbare oplossings vir werklike probleme bied.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Prof Robbie Pott werk op die kruispunt tussen chemiese ingenieurswese, molekulêre biologie, bioprosesingenieurswese, en biotegnologie. Hy is ’n professor in Chemiese Ingenieurswese in die Departement Chemiese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Hy verwerf sy voorgraadse kwalifikasie aan die Universiteit van Kaapstad en voltooi sy PhD aan die Universiteit van Cambridge, Verenigde Koninkryk, onder promotors proff John Dennis (in Chemiese Ingenieurswese) en Chris Howe (in Molekulêre Biologie). Sy doktorale navorsing het gehandel oor die gebruik van fotosintetiese bakterieë om afvalgliserol in waterstof te omskep.

Nadat hy sy PhD verwerf, keer Pott terug na Suid-Afrika om hom as nadoktorale navorsingsgenoot by die Universiteit van Kaapstad aan te sluit. In 2015 steek hy die skiereiland oor om ’n pos as dosent aan die US te aanvaar. Hier het hy sedertdien ’n aansienlike navorsingsgroep in Chemiese Ingenieurswese opgebou. As nagraadse studieleier, het hy reeds 26 magisterstudente en ses PhD-kandidate suksesvol help gradueer. Hy het tans agt magisterstudente en vyf PhD-kandidate onder sy vlerk, en is ’n mentor vir twee nadoktorale navorsingsgenote.

Hy het al etlike administratiewe en diensrolle op sowel departementele as fakulteitsvlak vervul, waaronder nagraadse koördineerder vir die Departement, akademiese hoof van ’n fokusgebied in die gestruktureerde magisterprogram, en hoof van die Fakulteit Ingenieurswese se Innovasieraad. Prof Pott se navorsing val dikwels weerskante van die grens tussen suiwer akademiese werk, en wetenskap met kommersiële waarde. Hoewel sy werk hoofsaaklik op bioprosesingenieurswese konsentreer, het hy ook ’n lewendige belangstelling in ingenieursopleiding en was hy al betrokke by verskeie inisiatiewe en publikasies om voor- en nagraadse ingenieursweseprogramme te probeer verbeter.

Besonderhede

Datum:
5 Junie 2025
Tyd:
17:3019:30
Afrikaans